Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Militêre orkes tower glorieryke klanke op
Die omslag van die album Rimsky & Co Originals.

Die Mariniersorkes van die Koninklike Nederlandse Vloot se jongste album is ’n plesier vir die oor en gees, skryf Paul Boekkooi.

Helaas bestaan daar ’n ingewortelde snobisme by sommige liefhebbers van klassieke musiek. Daardie vlak van beterweterigheid kan hulself dalk onwetend ontneem van potensiële lewensvreugde. Baie sulke luisteraars sal hulself nie verwerdig om byvoorbeeld na ’n militêre orkes te luister nie.

Hoe futiel sulke vooroordele kán wees, word bewys deur die grensverskuiwende artistieke prestasies wat behaal is met ’n CD getiteld Rimsky & Co Originals deur die Mariniersorkes van die Koninklike Nederlandse Vloot onder die stok van maj. Arjan Tien. Indien sy naam dalk bekend klink: Hy is een en dieselfde dirigent wat vroeër vandeesmaand die Kaapstadse en Johannesburgse Filharmoniese Orkeste gedirigeer het.

“Rimski en kie” dui op ’n versameling van Russiese konsert- en marsmusiek. Net Katsjatoerjan is ’n uitsondering, wat Aramees van geboorte is. Opvallend is die stimulerende verskeidenheid van die repertoire-aanbod, asook hoe naby die 11 uitgevoerde werke aansluit by die Russiese aard en styl in die breë. Al sewe die komponiste was baanbrekers met eie karaktertrekke.

Sentraal staan drie concerto’s wat Rimski-Korsakof vir tromboon, hobo en klarinet geskryf het – hier uitgevoer deur drie eerste-lessenaar-musici van die Koninklike Concertgebouw-orkes. Ryke soepelheid, romantiese harmonie, ’n geronde lirisme, ’n breë melodiese uitdrukkingskrag verwant aan Russiese liedere en selfs vlagies van eksotisme bereik die oor.

Dié orkes onder Tien transformeer enige persepsies wat enigiemand van ’n militêre orkes sou kon hê. Die dinamiek, afronding, deursigtigheid en waarlik glorieryke klanke wat hulle voortbring, is selfs in wêreldterme bepaald uniek.

In marse deur Prokofiëf, Sjostakowitsj, Katsjatoerjan en ’n polka deur Strawinski wat hy aan ’n jong olifant opgedra het, is die stempel van elke komponis op verskeie vlakke herkenbaar. Tussen al die virtuositeit en fiere ensembleprag ontdek ’n mens plek-plek ook selfs sardoniese trekke. In Glière se “Plegtige ouverture”, wat sy titel gestand doen, hoor ons selfs ’n orrel.

In Strawinski se bykans minimalistiese simfonieë vir blaasinstrumente is albei die lyne- en akkoordespel magies en met briljante tydsberekening in die kort asempouses verwesenlik. Bortnianski se “Kol Slavin” is soos ’n liries vloeiende gesang wat ideaal diens sou doen by ’n begrafnis.

Dié orkes onder Tien transformeer enige persepsies wat enigiemand van ’n militêre orkes sou kon hê. Die dinamiek, afronding, deursigtigheid en waarlik glorieryke klanke wat hulle voortbring, is selfs in wêreldterme bepaald uniek.

GLIÈRE: Plegtige ouverture vir die 20ste verjaardag van die Oktoberrevolusie, opus 72. RIMSKI-KORSAKOF: Concerto vir tromboon en militêre orkes; Variasies vir hobo en militêre orkes; Concerto vir klarinet en militêre orkes in E mol majeur. PROKOFIËF: Mars, opus 99; Atletiese feesmars. STRAWINSKI: Simfonieë vir blaasinstrumente; Sirkuspolka – gekomponeer vir ’n jong olifant. BORTNIANSKI: Kol Slavin. KATSJATOERJAN: Aan die helde van die Groot Vaderlandse Oorlog. SJOSTAKOWITSJ: Mars vir die Sowjet-milisie, opus 139. Mariniersorkes van die Koninklike Nederlandse Vloot / Arjan Tien / Soliste: Bart Claessens (tromboon); Alexei Ogrintchouk (hobo); Olivier Patey (klarinet). Channel Classics CCS 40818.

Meer oor:  Militêre Orkes  |  Arjen Tien
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.