Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Minder lugtyd vir klassieke musiek op Classic FM
Die violis Zanta Hofmeyr.

Die klassiekemusiek-gemeenskap in Gauteng is hoogs ontsteld oor die verandering wat by die radiostasie Classic FM intree deur radiouitsendings van Westerse kunsmusiek tot die nagtelike ure te beperk.

Van 1 Julie sal dié stasie, wat sedert 1997 op klassieke musiek gefokus het, R&B en Old School uitsaai en klassieke musiek van 19:00 tot 05:00.

Luisteraars sal wel bedags op die internet na klassieke musiek kan luister wat op die radiostasie se webtuiste beskikbaar is.

Classic FM se bestuur het aanbieders, onder andere die bekende Richard Cock, verbied om kommentaar te lewer, maar plaaslike klassieke musici wie se werk gereeld blootstelling op dié radiostasie gekry het, was meer as bereid om hul mening te lug.

Die pianis Charl du Plessis het gevra “wie gaan nou my musiek uitsaai?”, ook met verwysing na die Charl du Plessis Trio waarvoor hy klassieke musiek dikwels ’n verrassende kinkel gee.

Magdalene Minnaar, operasangeres en musiek-entrepreneur, sê dit is tragiese nuus vir die bedryf”.

Die operasanger Magdalene Minnaar.

“Classic FM is nie net ’n radiostasie vir die genot van luisteraars nie, maar een van die enigste twee platforms in die land waar klassieke musici se opnames gehoor kan word.

“Waar gaan ons nou onderhoude kan voer oor nuwe konserte, produksies en albums? Ek rou nou al oor verskeie wonderlike bydraes, onder meer Richard Cock se People of Note.”

Die violis Zanta Hofmeyr sê Classic FM het oor die jare erkenning aan hul werk gegee en die waarde van die kunsvorm bevestig.

“Ek is realisties genoeg om te besef klassieke musiek het ’n marginale luisterpubliek, maar dit is juis daarom dat Classic FM so ’n belangrike rol vervul het.

“Dit is te verstane dat hoofstroommusiek soos R&B meer uitsaaityd moet kry, maar dan moet ’n mens ook iets doen om die situasie te beredder – dit help nie om in pessimisme te verval nie.

“Dink aan die talle kinders wat klassieke musiek beoefen en onderwysers wat so hard en suksesvol in veral minder bevoorregte omgewings werk. Die kinders moet die musiek kan luister en verdien om ondersteun te word.

“Ek is wel ongelooflik dankbaar vir RSG wat steeds klassieke musiek uitsaai en dat Classic FM darem nog snags en op die internet tyd daaraan sal afstaan.

“Die beperkte luistertyd is beslis ’n verlies, maar partykeer maak dit ’n mens net meer vasberade om jou op ander maniere tog te laat hoor.”

Volgens ’n nuusverklaring is Classic FM in 2019 in sakeredding geplaas nadat dit geruime tyd finansiële probleme ondervind het.

“Verlede jaar het die Covid-19-maatreëls advertensie-inkomste vinniger as verwag laat krimp en het die konsortium by die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika aansoek gedoen om die stasie uit sakeredding te haal en in ’n meer lewensvatbare musiekformaat te verander.

“ ’n Nuwe lisensie is op 30 April 2021 uitgereik wat die verandering na uitsendings van R&B en Old School goedkeur met behoud van ’n persentasie klassieke musiek.

“Luisteraars wat op 102.7 FM inskakel, sal van 1 Julie na ’n breër spektrum van gewilde musiek kan luister en saans steeds die meer tradisionele klassieke musiek kan geniet.” Klassieke musiek sal 24 uur per dag aanlyn beskikbaar wees op die Classic FM-webtuiste en die DStv-kanaal 857.

Meer oor:  Klassieke Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.