Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Minnaar se ‘Songs of Hope’ verrys uit as van moedeloosheid

Soos die verdorde boom in die gedig “Miracle Tree” nuwe lewe kry wanneer ’n sorgsame persoon dit gereeld water gee, so het Songs of Hope uit die as van moedeloosheid verrys. Magdalene Minnaar het aan Elretha Britz meer oor die projek vertel. 

Magdalene Minnaar, sopraan en kunste-entrepreneur.Foto: Verskaf

Songs of Hope was vir verskeie musici ’n ligstraal in ’n “diep donker tyd waarin optredes en inkomste opgedroog en skuld menigeen begin verswelg het,” vertel Magdalene Minnaar.

Dié sopraan en kunste-entrepreneur van Pretoria sê die idee vir Songs of Hope het egter lank voor die koronaviruspandemie ontstaan. Sy en die dirigent Alexander Fokkens het sowat drie jaar gelede die opneem van ’n album met ’n orkes en haar as sanger beplan.

“Toe geen orkes ons wou ondersteun nie, het ons besluit om private befondsing te kry en ’n kamerorkes pleks van ’n volle orkes te gebruik.”

’n Eerste aansoek vir geld is afgekeur, maar ná nog ’n poging het die departement van kuns en kultuur ’n bedrag vir ’n “digitale projek” beskikbaar gestel. Moedeloosheid het vinnig gewyk, want eindelik was daar weer hoop vir Songs of Hope en kon hulle die boom begin water gee.

“Ek is heel eerste na die komponis Franco Prinsloo, een van die talle musici wie se werk in die pandemietyd opgedroog het. Hy het voorgestel om ‘Miracle Tree’ vir sopraan en orkes te verwerk.”

Minnaar sê “Miracle Tree” is ’n gedig wat ’n Zoeloe-verpleegster geskryf het oor ’n verwelkte boom wat sy begin versorg het. Dit het toe so mooi gegroei dat hy sy takke wyd kon uitsprei om vir baie mense skaduwee te gee.

“Ironies genoeg het ek die vorige dag ‘Ombra mai fu’ uit Handel se opera Xerxes gesing. In die aria sê die koning vir ’n plataanboom jy is die beste boom omdat jy soveel skaduwee vir mense gee.

“Dit was soos ’n spirituele ruimte wat ontstaan het – alles het in plek begin geval sodat die projek verder vlot kon verloop.”

Minnaar sê die geld was net genoeg vir ’n kamerorkes, maar vir daardie saamgestelde orkes het hulle die heel beste musici gekry met Fokkens as dirigent.

Die opnameproses was ook ’n wenner. Pleks van ’n dag of twee te repeteer en dan op te neem het hulle een lied op ’n slag geoefen en opgeneem.

“Elke keer voordat ons met ’n aria begin het, het ek vertel waaroor dit gaan. Dit het werklik ’n verskil gemaak – toe die musici verstaan waaroor die werke handel, kon hulle dit met die nodige emosie vertolk.”

Minnaar sê ná die opneem van “Ich folge dir gleichfalls” vir fluit en sopraan uit Bach se Johannespassie het Louisa Theart aan die huil geraak. Dit was vir die fluitspeler so wonderlik om ná maande weer saam met ander op te tree dat sy die trane nie kon keer nie.

“Ek het toe besef wat ’n besonderse geskenk dit is om musiek te kan maak. En dat ons stadigaan besig is om daarheen terug te keer. Dit is die kruks van Songs of Hope – daar is hoop.”

Die projek sal wyer reik as net die opneem van ’n album. Dit sal ook aanlyn beskikbaar wees en die inkomste as skenkings aangewend word.

Daarby het ’n videograaf opnames gemaak van die orkesmusici wat vertel wat hul wens vir klassieke musiek in Suid-Afrika is en hoe hulle die inperkingstyd beleef het. Dit sal as ’n dokumentêr uitgereik word.

Minnaar sê Songs of Hope is net die begin van die projek. Presies hoe dit verder gevoer sal word, is nog nie duidelik nie, maar haar entrepreneuriese brein sal beslis met ’n plan vorendag kom.

Dirigent Alexander FokkensFoto: Netwerk24

Covid ’n genade?

Minnaar voel sterk daaroor dat indringend gekyk moet word na die bestuur en aanbied van klassieke musiek in Suid-Afrika. “Dalk was Covid-19 nodig om ons opnuut na die voortbestaan van klassieke musiek te laat kyk.”

Sy sê “musiek het die afgelope jare ’n gratis produk geword, daarom is dit noodsaaklik om nuwe stelsels te vind en te vestig. Ons moet met mekaar gesels; meer samewerking is noodsaaklik; ons moet meer aanpasbaar wees. Dit moet nooit weer gebeur dat kunstenaars sonder werk sit nie.”

Sy skryf tans ’n aanlyn kursus met die titel “How to be a striving artist and not a starving artist”, asook ’n boek wat sy The Art of Cockroaching sal noem. Dit gaan oor oorlewing na aanleiding van navorsing wat sê as alles uitgesterf het, sal kakkerlakke steeds oorleef.

‘Songs of Hope’

Die album bestaan uit nege snitte en sal oor sowat ’n maand gereed wees vir uitreiking as CD en om digitaal afgelaai te word.

Arias en liedere:

  • “Ich folge dir gleichfalls:”– uit die Johannespassie van JS Bach
  • “Lascia ch’io pianga” – uit Rinaldo van Handel
  • “Ombra mai fu” – uit Xerxes van Handel
  • “Solveig’s Song” – uit die Peer Gynt-suitevan Grieg
  • “Vocalise” – Rachmaninoff
  • “Ruhe sanft, mein holdes Leben” – uit Zaide van Mozart
  • “Morgen”, op. 27 nr. 4 – Richard Strauss
  • “Miracle Tree” – Franco Prinsloo
  • “Blackbird” – The Beatles
  • “Think of Me” – uit Phantom of the Opera van Andrew Lloyd Webber
Meer oor:  Bach  |  Klassieke Musiek  |  Inperking  |  Koronaviruspandemie  |  Covid-19  |  Covid  |  Staat Van Inperking  |  Musiek  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie  |  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.