Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
‘Miss Mandy’ kuier heerlik met Boksemdaais
Amanda Strydom

Amanda Strydom beskryf Die hele boksemdaais as ’n lekker kuier.

Dié “beste van Amanda”-vertoning word Vrydag in die Atterburyteater opgevoer met Coenraad Rall op klavier.

Op 13 November open sy die RSG-kunstefees met haar musiekteaterproduksie State of the Heart, en tussendeur leer sy woorde vir haar rol as Belinda Eksteen in die sepie Binnelanders.

Die hele boksemdaais het in Februarie in ’n Fiësta-toekenning ontvang en is voorheen vir ’n KKNK Kanna benoem.

“Mettertyd het die konsert ’n baie lekker kuier geword. Ek het met die saamstel besef daar is baie van my liedjies wat nie aan gehore bekend is nie en al die liedjies vertel ’n storie. Die bekende liedjies is ingesluit, maar ek hou daarvan om te vertel hoe die liedjies gebeur het.”

Die hele boksemdaais is die gevolg van die KKNK wat ’n konsert met haar bestes wou hê. In daardie stadium was sy 36 jaar in die bedryf.

Sy het liedjies gekies en dit met vertellings uit haar lewe gekombineer.

Die liedjies word nou net deur klavier begelei.

“Dit was nogal ’n uitdaging, maar Coenraad is uitstekend daarmee. Die liedjies is lekker. Dit is só ’n kaleidoskoop van liedjies en dis so uiteenlopend.”

As opgeleide aktrise wou sy haar optrede en die vertel van stories in haar musiekproduksies kombineer.

Sy het State of the Heart in 1993 geskryf.

“Ek was so honger om weer toneel te speel. Ek het daardie tyd gevind daar is nie eintlik veel werk vir my nie. In ’n musiekteaterproduksie kan ek die storie vertel en die liedjies sing. Maar wat ek tussenin sê, moet sinvol wees. Dit moet betekenis vir die gehoor inhou.”

Kobus Burger, uitvoerende dramaregisseur by RSG, het haar genader.

“Ek dink elke keer nou was dit die laaste keer en dan kom daar weer ’n geluk. Dan vra iemand, ag, doen weer vir ons daai een waar die vrou die skildery het . . . Dan is dit State of the Heart waarvan hulle praat. Patrick Mynhardt het dit my pensioen-play genoem. En nou op 60 voer ek dit steeds op. Ek sou dit nooit tóé kon sê nie.”

Dit was vir haar lekker om oor tyd soveel verskillende vroue te kon vertolk.

In Westgate was sy ’n Amerikaanse rocksangeres op die rand van ’n ineenstorting. In 1922 was sy ’n Poolse sangeres.

Dié rol was vir my soos ’n Kersgeskenk. Sy het die liedjies gesing wat my ouma ook geken het.

“Dié rol was vir my soos ’n Kersgeskenk. Sy het die liedjies gesing wat my ouma ook geken het. En Hilde in Arende was hierdie vrou wat in die woestyn op kamele ry.”

Juis met Arende het sy die akteur Ian Roberts goed leer ken en hy het vir haar gesê sy moet eintlik skryf.

“Hy sou ook na my geskryf aan State of the Heart kyk en sê of ek op koers is. Ek dink hierdie stuk is tydloos. En dit is tog die hele punt van ’n mens se skryfwerk.

Skep neem vir my lank. Alles moet soos ’n legkaart pas. As jy dit met sorg en aandag skryf, behoort dit te hou.

“Jy kan ook nie vir ’n gehoor swak werk aanbied nie. Jou werk moet iets beteken vir die gehoor. Deon Maas het my vertel sy seun het my werk en nou luister hy heeltyd daarna. En sy pelle. So iets maak my hart gelukkig.”

* Die hele boksemdaais begin Vrydag om 20:00. Kaartjies kos R140 tot R160. Bespreek by Computicket.

Daar is nog enkele plekke beskikbaar vir die regstreekse uitsending van State of the Heart op 13 November om 14:00 vir 14:30. Stuur e-pos aan muriel@rsg.co.za om te bespreek of vir meer inligting.

Meer oor:  Amanda Strydom  |  Pretoria
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.