Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Moederstad-orkes maak al walsend sy buiging

Die nuutgestigte Moederstad-orkes (MCO) gaan Saterdag in Kaapstad op ’n unieke manier sy buiging in die Suid-Afrikaanse musieklandskap maak.

Xavier Cloete dirigeer hier die Mikkelin Kaupungin-orkes in Finland. Foto: Johannes Kaarakainen

Die orkes se 42 lede gaan onder leiding van Xavier Cloete, hul dirigent, ’n kitsskare-vertoning in die Tygervallei-winkelsentrum in Bellville aanbied om vir veral liefhebbers van ligte klassieke musiek te wys wat in hulle steek.

Hoewel Cloete nie in dié stadium te veel oor die vertoning wil verklap nie – kitsskare-vertonings is immers meestal ’n verrassing – het hy wel gesê inkopiegangers kan “rondom die middaguur” hul ore vir die walskoning, Johann Strauss, se musiek spits.

Netwerk24 het in Januarie berig dat Cloete die orkes saam met twee vennote, onder andere Chris Lodewyk, gestig het met die oog om dit as ’n “reisende orkes” te vestig – een wat in Kaapstad gesetel sal wees, maar oor die volgende twee jaar na 190 dorpe en stede wil reis waar simfonieorkeste nie aldag optree nie.

Die driestuks werk al sowat drie tot vier jaar aan hul orkes-droom en het met behulp van private finansiering, ook uit Amerika, besluit om ondanks die uitwerking van die Covid-19-pandemie met hul orkesplanne weg te val.

Die orkes se bestuur het intussen van twee tot drie gegroei en die orkes is reeds met topmusikante gevul, hoewel ’n paar posisies nog vakant is en planne vir ’n uitbreiding nie uitgeskakel word nie.

Cloete sê dit is beslis nie maklik om ’n splinternuwe orkes op die been te kry nie, maar dat daar in die proses tog heelwat ligpunte is.

“My hoogtepunt tot dusver was om met elke musikant te gesels wat graag ’n oudisie vir ’n plek in die orkes wou aflê,” sê Cloete, ook ’n fagotspeler, wat in 2013 die tweede Len van Zyl-dirigeerkompetisie gewen het.

“Ek het ’n punt daarvan gemaak om met die musikante te gesels sodat ek insig oor die persoon agter die instrument kon kry. Dit is vir my belangrik om werklik elke persoon te leer ken, want hoewel ek die dirigent gaan wees, wil ek ook altyd bewus wees van elke musikant se omstandighede.

“Ek sê dit ook altyd vir gehoorlede: Musikante is eerstens mense, dan musikante – nie andersom nie.”

Ek sê dit ook altyd vir gehoorlede: Musikante is eerstens mense, dan musikante – nie andersom nie.
Xavier Cloete, MCO-dirigent

’n Laagtepunt was dat hy sommige musikante in die oudisieproses moes wegwys.

“Ek het elke sekonde daarvan gehaat. Ek hou nie daarvan om gemeen te wees of om iets te doen wat my laat lyk asof ek gemeen is nie, maar ek moes ongelukkig eerlik wees en vir heelwat musikante die deur wys.”

Cloete het eindelik 42 musikante uit alle uithoeke van Suid-Afrika heeltyds in die orkes aangestel, onder andere Carli d’Alebout (konsertmeester), Sisa Mgauli (viool), Rory Africa (altviool), Sunday Kelechi (tjello), Siyolise Nyondo (kontrabas), André Visser (hobo), Visser Liebenberg (klarinet), Gareth Cederes (dwarsfluit), Lee-Roy Simpson (tromboon), Bhekumndeni Kunene (fagot), Craig Nicolas (tuba), Brendan Kierman (trompet), Emil Bruwer (Franse horing) en Dylan Tabisher (slagwerk).

Benewens die kitsskare-vertoning gaan die orkes dwarsdeur April sy spiere met ’n Johann Strauss-gala bult, ’n konsertreeks wat dié Oostenryker se musiek in die kollig plaas.

Cloete sê hy wou graag met Strauss-musiek wegval omdat dit as “ligter klassieke musiek” beskou word, ’n “atmosfeer van ontspanning” skep, soortgelyk aan die konserte waarvoor die Nederlander André Rieu so welbekend is, en vir musiekliefhebbers ’n idee sal gee van dít wat die orkes eindelik vir gehore landwyd wil bied.

“Ons wil hê mense moet ons vertonings met ’n glas wyn in die hand of ’n piekniekmandjie geniet; dit is juis daarom dat ons eerste konserte in Kaapstad almal op wynplase plaasvind. Na ons mening geniet gehore konserte net meer as dit in ’n ontspanne omgewing is.

“Moet my egter nie verkeerd verstaan nie: Natuurlik is ons almal lief vir Beethoven, Brahms, Bruckner en Mahler, maar ons wil nie ’n ‘ernstige omgewing’ vir ons gehore skep nie. Só maak ons ’n unieke bydrae tot Kaapse konsertgangers se bestaande klassiekemusiek-spyskaart.”

  • Die Moederstad-orkes se Johann Strauss-gala word op die volgende datums aangebied: 17 April op die Nooitgedacht-wynlandgoed in Stellenbosch, 18 April by La Residence in Franschhoek, en 19, 21, 28 en 29 April op die D’Aria-wynlandgoed in Durbanville. Die pryse van enkel- en dubbelkaartjies wissel tussen R350 en R1 200. Piekniekmandjies is by Nooitgedacht en La Residence by die kaartjieprys ingesluit. Bespreek by Quicket. Meer inligting is by www.straussgala.online/ en www.mothercityorchestra.co.za beskikbaar.
Meer oor:  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie  |  Staat Van Inperking  |  Pandemie  |  Inperking  |  Koronaviruspandemie  |  Covid-19  |  Covid  |  Beethoven  |  Bellville  |  Tygervallei  |  Klassieke Musiek  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.