Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
‘Mooi musiek’ beplan vir liederekonsert in Bloem

“Ons hou van mooi melodieë en mooi harmonieë en dit is waaruit ons liedprogram bestaan – uit mooi musiek.”

Die mezzosopraan Teresa de Wit.

Die mezzosopraan Teresa de Wit gesels oor haar en die pianis Lesley Mathews se uitvoering vroeg in Junie in Bloemfontein, een van talle kere wat hulle saam optree nadat hulle tot die slotsom gekom het dat hul musieksmaak en benadering tot vertolking dieselfde is.

Vir die konsert, wat deel is van die Odeion-reeks, het sy en Mathews ’n paar liedere voorgestel wat hulle graag wil aanbied.

“Dit was toe so uiteenlopend dat geen tema gepas sou wees nie, behalwe dat al die liedere van die mooistes is wat ons ken.”

De Wit is mal oor sigeunerliedere, so haar keuse is Brahms se Zigeunerlieder op. 103 en Cigánské melodie op. 55 van Dvorák.

Al is Tsjeggies “baie moeilik” sing sy die Dvorák-siklus in die oorspronklike taal, “omdat die woorde so mooi by die musiek pas dat dit ’n onreg sal wees om dit in ’n ander taal te sing.”

Die vierde lied in die siklus van sewe is die bekende “Songs my Mother Taught Me”.

In haar soeke na meer liedere met “mooi wysies” het De Wit onthou van die boek Cabaret Songs wat sy op ’n keer in Londen gekoop het. Daarin kom sy toe af op Benjamin Britten se Four Cabaret Songs met lirieke deur W.H. Auden. Sy sê Britten en Auden het verskeie kabaretteaters besoek voordat hulle die werke met sy blues-inslag geskryf het.

Die liedere is “Calypso”, “Tell Me the Truth About Love”, “Johnny” en “Funeral Blues”, wat in die klankbaan van die fliek Four Weddings and a Funeral voorkom.

Die pianis Lesley Mathews.

Twee liedere van Erik Satie op die program, “Je te veux” en “La diva de l’empire”, is deur kabaret geïnspireer, terwyl “Si mes vers avaient des ailes” en “A chloris” van Reynaldo Hahn “bloot pragtig” is. Ander musici stem saam, want volgens De Wit is dit verskeie kere instrumentaal verwerk. Hahn is ’n Franse komponis wat in Venezuela gebore is.

De Wit sê dit is belangrik dat die gehoor die liedere verstaan, daarom sal sy die Engelse vertalings verskaf om op ’n skerm of op selfone te volg indien dit nie in die programboekie verskyn nie.

Die konsert is maar die vyfde keer dat De Wit sedert die Covid-inperking in Maart 2020 optree. Sy sê sy hou nie van aanlyn uitvoerings en het geen konsert opgeneem nie. Vir haar gaan dit oor die energie wat sy kry uit verhoogoptredes voor ’n gehoor.

Sy woon op ’n plaas naby Kimberley en gee les by die Kimberley-musiekakademie nadat sy sowat twee jaar ’n sangdosent aan die Odeion Skool vir Musiek (OSM) in Bloemfontein was.

Sy het egter baie jare net professioneel uitvoerend opgetree. Ná haar opleiding in die Kaapstadse Opera-ateljee het sy haar by die nou ontbinde Black Tie­-ensemble in Pretoria aangesluit en menige operas gesing, onder meer Carmen, La Traviata, Il Barbiere di Siviglia, Le Nozze di Figaro, Cosi fan Tutte, Cavalleria Rusticana, Rigoletto en La Cenerentola.

Mathews het in 2002 ’n BMus-graad aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom verwerf en daarna ’n MMus in kamermusiek onder Albie van Schalkwyk aan die OSM. In 2005 is sy as begeleier by die OSM aangestel waar sy as repetiteur vir verskeie produksies en feeste opgetree het.

  • 3 Junie om 19:30 in die Geloofsentrum Universitas (voorheen die NG kerk Universitas). Die kaartjies kos R75 by Computicket. Covid-19-maatreëls geld: Onthou jou masker en kom vroeg om ’n opeenhoping van konsertgangers by die deur te voorkom.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.