Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
‘Mr. Showbiz’ se 80ste met konsert gehuldig

Familie, vriende en kollegas van die geliefde sanger Alvon Collison, beter bekend as Mr. Showbiz, gaan ’n aanlyn konsert aanbied op die dag dat hy 80 jaar oud sou word om sy lewe en werk te huldig.

Alvon Collison op sy 70ste verjaardagviering in 2011 in die Kaapse stadsaal.

Collison, wat die afgelope ses jaar dialise ondergaan het, is op 22 Januarie in sy huis in Milnerton, Kaapstad, aan ’n hartaanval dood. Hy was 79.

Laetitia Pople het berig dat Collison oor ’n tydperk van ses dekades diep spore in die teater- en musiekbedryf getrap het. Hy was gelief as “entertainer”, het jaarliks gratis Kerskonserte gehou en het die rol van die farao in meer as 3 000 opvoerings van die musiekspel Joseph and the Amazing Technicolour Dreamcoat vertolk.

Sir Tim Rice, wat die musiekspel saam met Andrew Lloyd Webber geskryf het, het Collison as “die beste farao in die wêreld” beskryf.

Volgens Faried Swartz, Collison se lewensmaat van die afgelope byna 28 jaar, het hy (Collison) op al sy mylpaalverjaardae groot makieties gehou: Sy 50ste verjaardag in die Baxter-teater, net ’n paar maande voordat hy die ramp oorleef het waarin die Oceanos aan die Wildekus gesink het; sy 60ste in die Villa de Cesari in die Cape Sun Hotel; en sy 70ste in die Kaapse stadsaal, waar hy met ’n banket gehuldig is en die volgende dag ’n burgerlike eerbewys van die Kaapstad-metro ontvang het.

Alvon Collison (voor) saam met Faried Swartz en Shannon Lewis.

Volgens Swartz sou Collison onder normale omstandighede ’n groot makietie vir sy 80ste verjaardag gehou het, maar hy het beplan om weens die staat van inperking ’n aanlyn vertoning te hou om sy verjaardag te vier.

“Hy sou wou hê dat ons daarmee moet voortgaan. Ons respekteer sy wense.”

Die vertoning gaan bestaan uit talle van Collison se gunstelingliedjies, onder meer “What a Wonderful World”, “What I Did for Love”, “A Piece of Sky”, “I Know I’ll Never Love This Way Again”, “Pie Jesu” en “Never Never Never”.

Benewens Swartz sal sangers soos Edward Atherton, Janine Cornelius, Janine Pick, Lana English, Renee Osborne, Rory Rootenberg, Sadia Hartle, Shannon Lewis-Johns, Tersia Harley en Victor Siljeur die liedjies sing. Die komediant Mark Banks gaan die konsert se seremoniemeester wees.

Swartz sê dit was ’n hartroerende en emosionele wipwarit om die huldeblykkonsert so kort ná Collison se dood saam te stel.

“Ons het eintlik reeds sedert sy dood talle pragtige huldeblyke met honderde foto’s gedoen, waarin talle sangers verskyn wat hy onder sy vlerk geneem het of wat hy gehelp het om die vermaakbedryf te betree. Daar is tot op hede tien sulke video’s, en nog is op pad.

“Dié huldeblyke was werklik emosionele nostalgietoere – en dit het my voorberei op dit (die huldeblykkonsert). Sy liedjies het nou nuwe betekenis. Ons het al sy gunstelinge gekies. Baie trane is al gestort.”

Swartz sê hy is vas oortuig daarvan dat Collison tevrede met die huldeblykkonsert sou wees en parafraseer ’n aanhaling deur die Spaanse romanskrywer Miguel de Cervantes.

And the world will be better for this, that one man scorned and covered with scars, still strove with his last ounce of courage . . . to reach the unreachable star.

“Hy (Collison) sou die huldeblykkonsert as liefdeswerk deur al sy verhoogkunstenaars beskou het. Alvon het van die wêreld ’n beter plek gemaak.”

  • Alvon Collison 80: A Celebration word op 25 April om 15:00 aanlyn aangebied. ’n Kaartjie kos R80 en kan by Quicket bespreek word. Besoek die Facebook-blad www.facebook.com/Alvon-Collison-In-Loving-Memory-103144781793490 vir meer inligting.
Meer oor:  Baxter  |  Baxter-Teater  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.