Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Musici vir eenmalige konserte in Moederstad
Laetitia Grimaldi en Ammiel Bushakevitz.

Die internasionale musici Anthony Marwood en Aleksandar Madzar besoek Kaapstad vir ’n eenmalige uitvoering, waarna Ammiel Bushakevitz en Laetitia Grimaldi ook ’n vinnige draai hier maak.

Marwood, ’n Britse violis, en die pianis Madzar, wat hom gereeld bystaan, lewer die Kaapstad-konsertreeks se jaarlikse glanspersoonlikheid-uitvoering op 16 November in die Baxterteater.

Die Suid-Afrikaanse pianis Bushakevitz en die Franse sopraan Grimaldi is die gaste van die Wagner-vereniging. Hul optrede is op 24 November in ’n private woning in Seepunt.

* Marwood was verskeie jare lid van die Florestan-trio voordat hy ter wille van ’n sololoopbaan bedank het. Sedertdien het hy saam met verskeie orkeste opgetree, onder meer die London Philharmonic en die Adelaide Symphony in Australië.

Kamermusiek vul egter steeds ’n groot deel van sy dagboek en dit doen hy verkieslik saam met Madzar.

Anthony Marwood (bo) en Aleksandar Madzar.

Die Serwiese pianis is bekend om sy werk met jong musici en het benewens ’n konsertloopbaan ’n pos as dosent aan die Koninklijk Conservatorium in Brussel, België. Hy gee binnekort ’n solo-uitvoering in Amsterdam se Concertgebouw.

Die program vir die Baxter bestaan uit Schubert se Sonatina in D majeur, Elgar se Sonate in E mineur, Debussy se Sonate vir viool en klavier en Prokofiëf se Sonate nr. 2.

Bespreek by webtickets of koop kaartjies op die aand van die konsert by die Baxter se kaartjiekantoor.

* Bushakevitz en Grimaldi se uitvoering is in die styl van ’n tipiese Paryse soirée wat beteken dat wyn en eetgoed saam met die musiek voorgesit word.

Ammiel, die broer van die violis Abigail Bushakevitz wat in Berlyn gevestig is, tree gereeld saam met sangers en op feeste op, soos dié in Salzburg, Bayreuth in Beiere, die Pablo Casals-fees in Barcelona en Frankryk se bekende d’Aix-en-Provence.

Onder sy talle pryse staan die Europese Unie se kommissieprys uit, asook die Prix de la Ville van die Switserse stad Lausanne en die Richard Wagnerprys.

Grimaldi het ná haar Carnegie-debuut in 2013 in New York op bekende operaverhoë en internasionale feeste opgetree. Sy het ’n meestersgraad aan die Juilliard-skool in New York verwerf.

Werke op hul program vir Kaapstad is van Duparc, De Polignac, Berlioz, Chopin, Hahn, Viardot, Canteloube en Wagner of Liszt.

Kontak Jilly Cohen by jillycohen@absamail.co.za om te bespreek.

Meer oor:  Musiek  |  Anthony Marwood  |  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.