Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
‘Musiek het vir Gwangwa ’n groter doel gedien’
Jonas GwangwaFoto: Verskaf

Musiek dien ’n veel groter doel as net die strewe om ’n musikus te wees. Die lewe en werk van die ontslape jazzlegende Jonas Gwangwa illustreer dit.

So sê die akademikus Felicia Lesch, dosent aan die musiekdepartement van die Universiteit Stellenbosch.

Gwangwa (83), ’n internasionaal gevierde jazztromboonspeler en kultuuraktivis, is gisteroggend in Johannesburg, 17 dae ná sy vrou, Violet, oorlede.

“Elke jaar gee ek vir my studente navorsingstukke om te doen, een daarvan is oor die werk van Jonas Gwangwa.

Hy het sy musiek vir ’n groter doel en vir politieke doeleindes aangewend. Sy Amandla Cultural Ensemble getuig daarvan, hulle het in die buiteland getoer om mense oorsee bewus te maak van die geskiedenis van apartheid uit die oogpunt van benadeelde gemeenskappe in Suid-Afrika.”

“Al die geleenthede was reeds daar vir Gwangwa om ’n sololoopbaan in die buiteland te volg, hy kon as solis en komponis nog groter hoogtes bereik, tog het hy sy musiek as voertuig vir bewusmaking gekies.”

Sy sonder sy lied “Flowers of the Nation” van die gelyknamige album uit.

“As jy daarna luister, roer dit die dieptes van jou siel, dit inspireer jou, moedig jou aan en gee jou ’n stem as jy nie een het nie. So ook die musiek wat hy vir die rolprent Cry Freedom geskep het.”

Die musikant en mede-tromboonspeler Jannie Hanepoot van Tonder was een van die mense wat Gwangwa in 1991 op die lughawe ingewag het ná sy terugkeer uit ballingskap na sy vaderland.

“Hy was ’n groot invloed op my gedurende die 1980’s toe ek lid van die African Jazz Pioneers was van Ntemi Piliso toe ons plaaslike kunstenaars ons kuns in isolasie moes bedryf weens die internasionale boikotte teen Suid-Afrika. Hy het groot voetspore in Suid-Afrikaanse jazz getrap as tromboonspeler en komponis en as orkesleier vir die Amandla Cultural Ensemble.” (Van Tonder is ook bekend as stigterslid van die Gereformeerde blues band saam met Johannes Kerkorrel.)

Die trompetspeler en komponis Marcus Wyatt meen al was Jonas Gwangwa nie uitgesproke as mens nie, het sy bydrae en kulturele aktivisme ’n onuitwisbare indruk van Soweto tot Broadway gelaat.“Ek onthou sy nederige gees en sagte siel, maar daar was ’n vuur in hom. Papa Jonas jou nalatenskap leef voort.” 

Jonas GwangwaFoto: City Press

Die kunstenaars na wie ons opkyk, is besig om te sterf, het die internasionaal erkende danser en choreograaf Gregory Vuyani Maqoma op Faceboek geskryf.

“Hulle wat ons inspireer en wie die pad vir ons plavei het, is besig om ons te verlaat. Ons moet hul werk voortsit, hul nalatenskap is veel groter as ons s’n, ons kan net buig en ons dank betuig.”

Gwangwa se musiek het internasionale en plaaslike gehore vir langer as ses dekades oorrompel

Hy het in 1965 in New York se Carnegie Hall opgetree saam met Miriam Makeba, Hugh Masekela en Letta Mbuli in die konsert Sound Of Africa. Daarby met die Amerikaanse akteur en aktivis Harry Belafonte en Makeba aan die bekroonde album An Evening with Harry Belafonte en Miriam Makeba. Hy was sedert die jare sestig tot 1991 in ballingskap in Amerika en het sy musiekopleiding voltooi aan die Manhattan School of Music.

Sy kunstenaarskap was omvattend. Hy was benewens sanger, tromboonspeler ook vervaardiger en liedjieskrywer. Hy was komponis van die rolprentklankbaan vir die rolprent Cry Freedom met Denzel Washington as die swartbewussynleier Steve Biko. Gwangwa is vir ’n Oscar benoem vir die temalied (geskep saam met George Fenton) uit hierdie prent en hy het ’n uitvoering daarvan op die Grammy-toekenningsaand gegee in 1988. Daarby was hy betrokke by die geskiedkundige jazz-musiekspel King Kong, die eerste musiekspel in Suid-Afrika met swart kunstenaars. Van 1980 tot 1990 was hy die leier van die ANC se Amandla Cultural Ensemble in die buiteland. Terug in Suid-Afrika het hy telkens opgetree en het hy die temalied van die sepie Generations gekomponeer, asook die lied vir Suid-Afrika se bod op die Olimpiese Spele in 1997. Hy het sy kenmerkende swart baret oral gedra.

Hy het reeds in die 1950’s begin naam maak saam met die jazzgroep, The Jazz Epistles, bestaande uit die ander jazzgrotes van Suid-Afrika, Dollar Brand (wat nou as Abdullah Ibrahim bekend staan), die trompetspeler Hugh Masekela en die alt-saxofoonspeler Kippie Moeketsi.

Hy is in 1937 in Orlando Wes in Soweto gebore. In September verlede jaar is ’n gedenkplaat by sy geboortehuis aangebring.

Hy is in 2010 met die Orde van Ikhamanga vereer, Suid-Afrika se grootste nasionale toekenning vir kuns en kultuur.

In ’n verklaring van die musikant se familie word hy as ’n liefdevolle en toegewyde man, vader, oupa, vriend en mentor beskryf.

Gwangwa se internasionale bydrae en sy bydrae as aktivis tot die areas van musiek, teater en die kunste het miljoene mense wêreldwyd geraak, lui die verklaring.

“Ons is geseënd en dankbaar dat ons deel kan wees van die lewe en nalatenskap asook avant garde-kreatiwiteit wat oor meer as sewe dekades strek.”

“Terwyl ons rou oor die afsterwe van ons ouers, is ons dankbaar vir die liefde en ondersteuning wat ons ontvang, ons vra dat die respekvolle manier waarop ons ons moeder kon begrawe, kan voortduur met die afsterwe van ons vader.”

Die familie sal later besonderhede van ’n huldediens bekend maak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.