Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
‘Musiek maak die hart sag’
Die Suid-Afrikaanse komponis Neo Muyanga. Foto: Nasief Manie

Al het hy op drie vastelande gewoon en gewerk, is dit vir hom die grootste voorreg om sy musiek huis toe te bring.

So sê die gevierde Suid-Afrikaanse komponis Neo Muyanga, wie vanjaar by die 15de Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees (6 tot 15 Julie) vereer word.

Muyanga het ’n nuwe komposisie, Makeda, spesiaal vir die fees geskryf. Dié boorling van Soweto se musiek dra invloede van al dié plekke waar hy al was. Hy glo die idee dat daar kategorieë in musiek is vir “Europese” of “musiek uit Afrika” is ’n mite en sy musiek daag die wanpersepsie vreesloos tog ook speels uit.

Makeda is geïnspireer deur Suid-Afrika se ryk tradisie van die proteslied en Muyanga meen wêreldwyd is dit nou ’n belangrike tyd om die rol van protes in die samelewing te takseer.

“Ek besin daarin oor ’n gemeenskap se vermoë om empatie te gee en te bied. Suid-Afrikaners is wêreldwyd bekend as die ‘proteslied-nasie’, met Makeda belig ek daardie status. Ek wil ook hê luisteraars moet oor dié status nadink.”

Die Suid-Afrikaanse komponis Neo Muyanga.Foto: Nasief Manie

Die wêreld het verander, mense het afgestomp geraak en is ongeduldig met protesaksies as ’n instrument om verandering te bring, meen hy. “Ons kan nie verandering stop nie, maar ons kan saam met dit werk vir die groter geheel”.

Makeda was die Etiopiese koningin (algemeen as Sheba bekend) soos vervat in die antieke 14de eeuse teks, Kebra Nagast. Hierdie teks berig onder meer oor die aankoms van die Gebondsark in Etiopië wat die twee kliptafels met die Tien Gebooie bevat.

Muyanga smee die vorse Makeda se karaktereienskappe en avonture saam met ’n “koningin” nader aan sy ouderdom – die sanger en menseregteaktivis, Miriam Makeba (1932-2008), ook bekend as Mama Africa met wie hy ’n besonderse verhouding gehad het. Hy verwys na haar as u-Mama. Sy is vir hom ’n voorbeeld van empatie, hartstog en fyn vaardighede as kunstenaar. “Sy het die wêreld verander met haar musiek. So min Suid-Afrikaners besef dit, is dit nie ’n tragedie nie?”

Makeba was wêreldwyd bekend om liedere soos byvoorbeeld “Soweto Blues” wat handel oor die Soweto-opstand in 1976 rakende onderrig in Afrikaans.

Muyanga, ook werksaam as ’n musieknavorser met die proteslied as spesialisveld, meen Makeda snoer al sy werk en vakmanskap tot dusver saam. “Dit baat uit my opera- en teaterwerk asook uit my eksperimentele werk. Dit is ontwikkel danksy my medewerkers asook my verknogtheid aan boeke en argiewe.”

Musiek kan opvoed en mense se verlore waardigheid herstel, meen Muyanga. “Ek sien myself as (’n jonger) deel van ’n ou tradisie wat musiek vir genesing gebruik. Musiek versag die hart en die hart is vir die verbeelding net so essensieel soos vir die hart om te klop.”

*Die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees duur van 6 tot 15 Julie in die Endlersaal, Stellenbosch. Dit sluit musiekonderrigsessies, studentekonserte, meesterklasse en konserte in. Makeda word op 9 Julie om 20:00 in die Endlersaal uitgevoer.

Meer oor:  Miriam Makeba  |  Stellenbosch  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.