Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Musiek vir lente in Johannesburg

Die Johannesburgse Filharmoniese Orkes (JFO) se lenteseisoen kom saam met die bloeisels na die Goudstad. Paul Boekkooi het die program bekyk.

Die Brasiliaans gebore dirigent Debora Waldman lei van die konserte.
Die 20-jarige Russiese pianis Daniel Kharitonov tree die seisoen as solis op.
Die dirigent Lykele Temmingh.

Dit is reeds enkele jare tradisie dat die Johannesburgse Filharmoniese Orkes (JFO) die lente twee keer verwelkom. Eers met ’n Vroeë Lenteseisoen in Augustus/September, gevolg deur ’n Lenteseisoen in Oktober/November. Die eersgenoemde seisoen, wat uit vier konserte bestaan, open vanjaar op 21 Augustus in die orkes se tuiste, die Linder-ouditorium in Parktown, en duur tot 13 September.

As Johannesburg se enigste professionele orkes, sit die JFO oor die afgelope jare sy luisteraarsvriendelike programbeleid voort met ’n toeganklike repertorium. Dit negeer feitlik die bestaan van enige orkestrale werke wat oor min of meer die afgelope eeu ontstaan het – selfs die beroemdstes.

Eintlik bestaan JFO-programme vir 90%-plus uit werke van die Klassieke- en Romantiese periodes. Heel tereg noem meer verligte luisteraars so ’n orkes ’n museumstuk.

Die huidige stand van die ekonomie is ’n hoofrede waarom orkeste swaarkry. Subsidies van regeringskant is skaars, terwyl dié komende van die private sektor ook verminder het. Dus is bewondering gepas vir diegene wat orkeste laat oorleef. Konsertgangers wat sale vul se bydraes bly deurslaggewend. Gehore in Gauteng is so gul en lojaal dat konserte wat herhaal word reeds dekades lank moontlik is waar ander provinsies se orkeste slegs met moeite ’n eenmalige uitvoering kan vul.

Nuut in die komende JFO-seisoen is dat die eerste en vierde konserte op Vrydae om 11:00 herhaal sal word. Dit word gedoen om alle potensiële luisteraars wat nie saans die konserte kan bywoon nie tegemoet te kom. Op aandrang van die publiek bly aandkonserte se aanvangtyd steeds 19:30.

’n Samestelling van ’n oorwegend jonger geslag dirigente en soliste gaan optree, met die Brasiliaans gebore Debora Waldman wat die openingskonserte op 21, 22 en 23 Augustus sal lei. Sedert haar relatief onlangse eerste optrede met die JFO het haar internasionale aansien verder veld begin wen.

Sy is nie alleen aangestel as musiekdirekteur en permanente dirigent van die Avignon-Provence-streeksorkes in Frankryk nie, maar is ook deur die gesiene klassieke webtuiste Slipped Disc as die agtste invloedrykste vroue-dirigent wêreldwyd aangewys.

Sy dirigeer die Capriccio Italien van Tsjaikowski, die Simfonie in D mineur van Franck, asook die Klavierkonsert no.1 in E-mol majeur van Liszt, met die 20-jarige Rus Daniel Kharitonov as solis.

In Junie 2015 was hy die jongste mededinger in die klavierafdeling van die Internasionale Tsjaikowski-kompetisie in Moskou en die ontvanger van die derde prys plus ’n bronsmedalje.

Daniel Raiskin, soos Kharitonov ook Russies gebore, dirigeer die tweede program op 28 en 29 Augustus. Dit open met Barber se Adagio vir Strykers (die enigste 20ste eeuse werk dié seisoen) en vervolg met die Vioolkonsert no.1 in G mineur van Bruch, met die Chinees gebore Kanadese violis Susanne Hou as solis. Die hoofwerk is die Simfonie no. 1 in C mineur van Brahms.

Suid-Afrikaners is in die kollig met die derde konsert op 4 en 5 September: Lykele Temmingh dirigeer en Megan-Geoffrey Prins is die klaviersolis. Op die program verskyn Die Italianer in Algiers-ouverture van Rossini, Chopin se Klavierkonsert no. 2 in F mineur en die Simfonie no. 5 in B-mol majeur van Schubert.

Die seisoen word afgesluit op 11, 12 en 13 September met die Israelies-Amerikaanse dirigent Daniel Boico en die Amerikaanse tjellis Gary Hoffman as solis. Smetana se bekende Die Moldau uit sy sesdelige siklus “My vaderland” open die aand en word vervolg met die Variasies op ’n Rococo-tema van Tsjaikowski. Die slotwerk van die seisoen is laasgenoemde komponis se Simfonie no. 2 in C mineur met die bynaam “Klein Russiese”.

  • Vir seisoenkaartjies teen ’n afslagprys of afsonderlike kaartjies kontak Computicket. Vir meer inligting besoek info@jpo.co.za of bel 011 484 0446.
Meer oor:  Musiek  |  Klassieke Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.