
Pops Mohamed
Die musiekargiefprojek The Hidden Years (Hymap) in Stellenbosch gooi in September sy deure oop om te wys wat sedert 2013 daar vermag is. Selfs sprekers van Londen sal ’n bydrae lewer.
“Ons vier die argiefskenking en die vordering met die digitalisering van die materiaal met ’n reeks praatjies en ’n konsert,” het dr. Lizabé Lambrechts van die projek gesê.
Dit word saam met die interdissiplinêre forum vir gewilde musiek aangebied.
Temas soos musiek en geheue, klankargiewe en kulturele nalatenskap sal onder die oorhoofse titel Record | Memory | Archive bespreek word.

Morri Natti
Angela Impey, musiekhoof in die Skool vir Oosterse en Afrikastudies aan die Universiteit van Londen, Janet Topp Fargion, kurator van wêreld- en tradisionele musiek in die Britse Biblioteek en David Marks van die Hymap-argief tree as sprekers op.
The Hidden Years-projek bevat materiaal wat Marks versamel en opgeneem het. Hy is die direkteur van die 3rd Ear Music and Sound Company, ’n onafhanklike plate-etiket wat in 1967 gestig is om kommersiële musiek wat as te polities of nie lewensvatbaar beskou is nie te bevorder, op te neem en te vervaardig. Groot platemaatskappye en die staatsbeheerde uitsaaikorporasie van destyds het dié musiek onaanvaarbaar gevind.

Luna Paige
’n Omvangryke versameling van klankopnames, dokumente en foto’s verteenwoordigend van uiteenlopende musiekstyle van 1959 tot 2000 in Suid-Afrika is versamel en geargiveer.
Die geleentheid, asook ’n konsert waarin talle bekende Suid-Afrikaanse musici optree, word in die Galery Universiteit Stellenbosch gehou. Die lesings begin om 18:00 en duur tot 19:30, behalwe die laaste aand. Die program lyk so:
*5 September: Angela Impey praat oor Walking Songs and Storied Landscapes: Documenting Women’s Histories of a Southern African Borderland.
* 6 September: Janet Topp Fargion praat oor
Taking the Archive out: Integrating Archive Holdings in a Fragmented Digital World.
* 7 September om 18:00: Lizabé Lambrechts voer ’n gesprek met David Marks oor Living and Performing the Archive. Dit duur ’n uur.
* 7 September 19:00: Afsluitingskonsert met Pops Mohamed, Luna Paige en Schalk Joubert, Roger Lucey, Fintry (Jonny, Julie en Caroline Blundell met Raelle Goodman) en Morri Natti.