Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Musiekbederf wag op Kapenaars
Avigail Bushakevitz

Kapenaars se musiekbederf is nie verby ná Yo-Yo Ma se tjellokonsert in Kirstenbosch nie. Nog twee spesiale uitvoerings is om die draai – die violis Avigail Bushakevitz wat na Suid-Afrika reis vir net een optrede saam met die pianis Albie van Schalkwyk, en Nina Schumann wat ondanks parkinsonsiekte ’n solo-uitvoering vir die Richard Wagner-vereniging gee. Haar loopbaan is weer op dreef, het sy in ’n onderhoud met Christiaan Boonzaier gesê.

BushakevitzDié eerste violis in die Konzerthausorchester in Berlyn tree in die Baxter op met onder meer Beethoven se geliefde Kreutzer-sonate, Reynaldo Hahn se Sonate vir viool en klavier, Much Ado About Nothing van Korngold en Vice van Matthijs van Dijk.

Bushakevitz se program is nog net so bedrywig soos voor die koms van haar twee kinders.

Benewens haar orkesverpligtinge speel sy in twee stryktrio’s: die Brandenburg-stryktrio met haar man, Ernst-Martin Schmidt, as altviolis en Andrea Casarrubios as tjellis; en die Franz-trio, met die tjellis Constance Ricard en Schmid.

Bushakevitz is ’n Suid-Afrikaner wat by die bekende Jack de Wet les geneem en verskeie kompetisies gewen het voordat sy aan die Juilliard-musiekskool in New York ’n BMus en MMus verwerf het. Sy slyp tans haar spel

verder aan die Hanns Eisler-konservatorium in Berlyn.

Voorheen was sy konsertmeester van die Britten-Pears-orkes in Aldeburgh, Engeland, en die Aldeburgh-wêreldorkes wat in Amsterdam se Concertgebouw opgetree het en deel van die BBC Proms in die Royal Albert Hall was.

Sy was ook ’n solis en konsertmeester van Israel se Buchmann-Mehta-orkes.

Van Schalkwyk

Albie van Schalkwyk

Albie van Schalkwyk is een van Suid-Afrika se toonaangewende kamermusici wat gereeld saam met besoekende buitelandse musici optree. Hy is ook bekend vir sy meesterklasse vir sangers en begeleiers.

Vandat hy twee jaar gelede aan die Universiteit van Kaapstad se musiekkollege afgetree het, gee hy privaat klavierles, doen verwerkings en gee meer uitvoerings as ooit.

Hy is ook een van die stigterslede van die Liedmakersgilde, wat verlede jaar sy 25ste bestaansjaar gevier het.

* Die konsert met Bushakevitz is op 22 Februarie om 19:30 in die Baxter-konsertsaal. Kaartjies kos R190 by Webtickets.

Schumann

Nina Schumann

Dié pianis en professor in klavier aan die Universiteit Stellenbosch speel in haar eerste uitvoering vir die Wagner-vereniging Bach se Fantasia in A mineur, BWV 922, sy Partita in D majeur, BWV828, Haydn se Sonate in B mineur, en Preludes van Debussy en Rachmaninoff.

Op haar kerfstok is meer as 140 uitvoerings in Duitsland, Portugal, Skotland, Armenië, die VSA en hier te lande, en in haar repertorium meer as 40 klavierconcerto’s.

Sy het ’n MMus aan die Universiteit van Kalifornië verwerf en vir ’n DMus onder die Van Cliburn-wenner Wladimir Wiardo aan die Universiteit van Noord-Texas ingeskryf. Voordat sy dit kon voltooi, is sy as klavierhoof aan die Universiteit Stellenbosch aangestel en het toe haar DMus na die Universiteit van Kaapstad oorgedra en dit in 2005 voltooi.

Schumann, ’n Yamaha-kunstenaar, het al ’n groot hoop hooi op haar vurk hanteer. Sy is gereeld genooi om meesterklasse in die buiteland te gee, onder meer by Juilliard, en in 2013 en 2014 het sy haar buiging in Londen se Wigmore en Zürich se Tonhalle gemaak. Sy is die stigter en direkteur van TwoPianists Records, wat wêreldwyd onder Naxos versprei, die stigter van die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees en die tweejaarlikse Internasionale Klaviersimposium.

Dit alles doen sy tesame met lesgee en optredes.

Onlangs het sy boonop ’n stryd teen borskanker gevoer, ’n dubbele mastektomie gehad, is sy van haar duomaat en man, Luis Magalhães, geskei en nou is haar grootste stryd gewikkel, dié teen parkinsonsiekte.

Sy sê egter sy sal aanhou speel so lank as wat haar liggaam haar toelaat.

* Die konsert is op 23 Februarie om 17:30 by die Richard Wagner-vereniging in Seepunt. Die kaartjieprys van R260 vir lede en R280 vir nielede sluit ’n vingerbuffet in. Bespreek by rianviv@gmail.com of 082 789 2082.

Meer oor:  Musiek  |  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.