Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Musiekbedryf tot stilstand oor Floyd en ander se dood
Sony Music is een van talle platemaatskappye wat Dinsdag aan die #TheShowMustBePaused-veldtog deelneem. Foto: Getty Images

Die grootste platemaatskappye ter wêreld, waaronder die sogenaamde “groot drie” – Sony Music, Universal Music en Warner Music – draai Dinsdag die volumeknoppies heeltemal af en bring die musiekbedryf tot stilstand as deel van die #TheShowMustBePaused-veldtog.

Die rede hoekom hierdie maatskappye vir die dag sluit, is uit protes teen die dood van onder andere George Floyd en “tallose ander swart burgers” wat weens die polisie se toedoen in Amerika gesterf het.

Volgens Billboard het Brianna Agyemang en Jamila Thomas, albei senior bemarkingsbestuurders by die platemaatskappy Atlantic Records, dié veldtog van stapel gestuur.

Netwerk24 het vroeër berig dat Floyd (46), ’n swart Amerikaner, op 25 Mei in Minneapolis deur drie polisielede op die grond vasgepen is nadat hy glo met ’n vals banknoot in ’n winkel wou betaal.

Derek Chauvin (44), een van die wit polisielede, het sy knie agt minute en 46 sekondes lank op Floyd se nek afgedruk terwyl hy op die grond vasgepen word. Dit ondanks die feit dat Floyd minstens 16 keer gepleit het dat hy nie asem kan kry nie, berig The New York Times.

Floyd het kort daarna sy bewussyn verloor en is later in ’n hospitaal dood verklaar.

Beeldmateriaal van die voorval het wêreldwyd opslae gemaak en ’n reeks betogings ontketen wat onder meer polisiegeweld, rassisme en ongelykheid in Amerika vir die soveelste keer in die kollig plaas. Dit was ook die vonk in die kruitvat wat Agyemang en Thomas se veldtog begin het en ook tot #BlackoutTuesday gelei het.

“Ons sal nie voortgaan om sake soos gewoonlik te doen terwyl swart lewens nie geag word nie,” sê Agyemang en Thomas in ’n aanlyn verklaring.

“Dinsdag 2 Junie is veronderstel om die werkweek te ontwrig . . . Dit is ’n dag waarop ons vir ’n oomblik ’n eerlike, nadenkende en produktiewe gesprek moet hê oor die stappe wat ons gesamentlik moet doen om die swart gemeenskap te ondersteun.”

Ons sal nie voortgaan om sake soos gewoonlik te doen terwyl swart lewens nie geag word nie.

Volgens Agyemang en Thomas maak die musiekbedryf miljarde dollar uit “swart kuns” – en daarom is dit die hele bedryf en hul vennote se verantwoordelikheid om swart gemeenskappe te beskerm en te bemagtig.

“Dit is nie net ’n veldtog van 24 uur lank nie. Ons sal die stryd op die lange duur voortsit. ’n Plan van aksie sal aangekondig word.”

Agyemang en Thomas se verklaring is wyd op sosiale media gedeel en talle platemaatskappye steun dit. Benewens die “groot drie” neem die platemaatskappye Capitol Music Group, Colombia Records, Def Jam, Elektra Music Group, HitCo, Interscope Geffen A&M, Island Records, Pulse Music Group, Reservoir, Republic Records en Virgin EMI ook aan die veldtog deel, volgens Deadline.

– Saamgestel deur Christiaan Boonzaier

Meer oor:  Atlantic Records  |  Derek Chauvin  |  Sony Music  |  George Floyd  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.