Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Musiekman, joernalis en skepper van ‘local is lekker’ sterf
Carla en Peter Feldman. Foto: Facebook

Peter Feldman (76), musiek-en-vermaakjoernalis wat die uitdrukking “local is lekker” die eerste keer gebruik het, is Maandag in Johannesburg tydens ’n operasie vir ’n hartkwaal dood.

Hy sou in Oktober 77 jaar oud geword het. Die sanger Johnny Clegg het in 2014 op Feldman se 70ste verjaardagviering in die Joburg-teater in Braamfontein, Johannesburg, opgetree.

Feldman was meer as 50 jaar in die bedryf en het flieks, musiek en teater geresenseer en onder meer bydraes vir David Gresham se program The 4:30 Special op Springbok Radio gelewer.

“Dis juis op Springbok Radio waar hy die uitdrukking ‘local is lekker’ die eerste keer gebruik het,” sê Gresham, oud-omroeper en stigter van David Gresham Records.

“Verskeie Suid-Afrikaanse treffers (“Paradise Road” van Joy was een daarvan) is agtereenvolgens oor die radio gespeel en Peter het agterna gesê: ‘Local is lekker!’ Daarna wou ek die uitdrukking heeltyd gebruik.”

Gresham het Feldman sowat drie weke gelede die laaste keer gesien.

“Hy het onlangs na ’n nuwe meenthuis getrek en ons het besluit dit is hoog tyd om te kuier noudat David en sy vrou, Carla, in hul nuwe woonruimte is. Hy was ’n lewenslange vriend. Hy het my TV-program Pop Shop met sy beriggewing gered toe hulle dit wou kanselleer. Die opskrif het gelui: ‘Pop Shop to be axed.’ Dit het ’n beroering onder die publiek veroorsaak en die program is behou.”

Volgens die voormalige omroeper Tinus Esterhuizen was Feldman ’n belangrike skakel in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidswêreld.

“En hy het nooit afgetree nie – hy was altyd paraat en betyds.

“Sy dienste as beoordelaar vir die Sarie-musiekpryse was van onskatbare waarde. Dit was in die dae voor Google en Feldman moes die navorsing self doen. Hy was by uitstek ’n formidabele resensent. Talle voorbladstories met brekende nuus het in The Star Tonight verskyn.”

Die omroeper Benjy Mudie was 21 jaar oud toe hy Feldman in 1976 ontmoet het.

Carla en Peter Feldman en hul kleinseun, Quinn. Foto: Facebook

Mudie was pas by WEA Records aangestel en sy baas het aan hom gesê die invloedrykste musiekjoernalis is Feldman “en dat hy voorkeur bo ander media moet kry”.

“Dit was in ’n tyd toe musiekjoernaliste en omroepers baie belangrik was om Suid-Afrikaanse kunstenaars se loopbaan van die grond af te kry. Ek het so baie herinneringe aan Peter – al die middagetes wat ons saam gehad het en die albumbekendstellings wat hy bygewoon het.”

Een van Mudie se gunstelingherinneringe aan Feldman is ’n middagete met Nielen Marais van die groep Falling Mirror, kort nadat hy groot welslae met die treffer “Johnny Calls the Chemist” gehad het.

“Nielen was ’n baie vreemde persoon. Hy het joernaliste nogal onthuts met lawwe stellings en baie het hom vermy. In die middel van die middagete het Nielen aan Peter gesê: ‘Jy weet, Peter, ek het ruimtelike disleksie en ek kan deur mure en geboue sien, en hoor wat ander mense dink, so ek weet jy dink ek is mal.’

“Peter het geantwoord: ‘Jy is dalk mal, maar jy is ook vol k*k. Nou hou op om tyd te mors en vertel my van die inspirasie agter ‘Johnny Calls the Chemist’.’”

Marais was verslae en het die volgende halfuur die konsep uiteengesit. Hy en Feldman was daarna jare lank na aan mekaar.

Volgens Mudie is Feldman een van die laaste groot musiekskrywers, soos Jann Wenner van Rolling Stone en Allan Jones van NME.

“Sy onderhoude is legendaries wat hul speelruimte en verbeelding betref. Ek sal hom vreeslik mis.”

Hazel Feldman, van Showtime Management, was ’n jare lange vriendin en kollega.

“Ek het hom dekades lank geken, maar ons is nie familie nie. Sy invloed in die musiek- en teaterbedryf strek oor dekades.”

Hazel voel Feldman se artikels en resensies kon aan konserte en geleenthede lewe gee soos min ander joernaliste s’n.

“Ek glo dit het sy liefde en hartstog vir die bedryf weerspieël. Hy was onomwonde en eerlik in sy beoordeling,” sê sy.

“Die bedryf is armer sonder hom. Ek wens Carla en sy familie alle sterkte toe.”

Feldman word ook oorleef deur sy dogter en skoonseun, Janna en Martyn Balham, en een kleinseun, Quinn.

Meer oor:  Musiek  |  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.