Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Musieknuus: Rattle verlaat LSO, violis Gitlis (98) sterf

Sir Simon Rattle, een van die wêreld se bekendste dirigente, sal hom in 2023 as hoofdirigent by die Beierse Radio-simfonieorkes (BRSO) in München, Duitsland, aansluit.

Simon Rattle leading the Berlin Philharmonic in Sc
Sir Simon Rattle. Foto: Getty Images

Dit is ’n onverwagse slag vir die Londense Simfonieorkes (LSO) wat gehoop het Rattle sal daar aftree. Rattle (66) het ingestem om sy kontrak met ’n jaar te verleng, waarna hy die rol van emeritus-dirigent van die LSO sal inneem.

Rattle het voorheen die Berlynse Filharmonie as hoofdirigent gelei en bly in Berlyn saam met sy vrou, die Tsjeggies-gebore sangeres Magdalena Kozena, en hul drie kinders.

Volgens hom het hy om logistieke redes die pos in München aanvaar. “Dit is nader aan my gesin en gee my meer tyd om aandag aan my kinders te gee.”

Hy sê dat hy toegewyd bly aan die LSO en reeds groot projekte vir die nabye toekoms beplan.

Rattle sal in Maart reeds drie konserte deur die BRSO dirigeer.

Hy neem die leisels oor by Mariss Jansons wat die orkes 16 jaar lank gelei het tot sy dood in Desember. Hy het aan ’n hartkwaal gely.

Ivry Gitlis during MIDEM 2003 - Tribute to Xavier
Ivry Gitlis. Foto: Getty Images

Ivry Gitlis

Die dood van die Israelse vioolvirtuoos Ivry Gitlis op 24 Desember, het hier ongesiens verbygegaan, maar nie in die wêreldmedia nie. Gitlis was 98 jaar oud en is oorlede in Parys waar hy sedert die 1960’s gewoon het.

Hy het nog in sy 90’s viool gespeel, en een van sy laaste optredes was saam met die pianis Martha Argerich in 2018 in Tel Aviv.

Gitlis is op 25 Augustus 1922 in Haifa gebore en het op sesjarige ouderdom met vioollesse begin. Sy studentejare het hy by meesters in Parys deurgebring. In die Tweede Wêreldoorlog het hy in ’n oorlogfabriek in Brittanje gewerk, waar hy ook konserte vir die geallieerde soldate gehou het.

Daarna het hy saam met verskeie bekende orkeste van Brittanje, Europa en Asië opgetree en talle bekroonde opnames gemaak. Hy was ook die stigter van verskeie musiekfeeste in Europa.

Gitlis was bekend vir sy kragtige en vurige individualistiese uitvoerings.

Die geprese Britse pianis Stephen Hough, wat in 2018 in Kaapstad opgetree het, het ná ’n konsert saam met Gitlis in 2011 geskryf dit was onnodig om te repeteer, want “wat ook al Ivry om 10:00 gedoen het, sou later op die verhoog heeltemal anders gewees het. Ons het toe besluit om dit te ‘wing’. Al waarop ek voorbereid was, was die onvoorbereide kreatiwiteit van Gitlis se kunstenaarskap.”

In 2007 het Gitlis aan studente in Amerika gesê: “ ’n Lieflike ‘verkeerde’ noot deur uitvoerende kunstenaars soos Pablo Casals, Maria Callas en Fritz Kreisler, is meer werd as ’n duisend sogenaamde ‘regte’ note.”

Gitlis was getroud met die Duitse aktrise Sabine Glaser by wie hy drie kinders het. Die twee seuns, Jonathan en David, was lede van die rockgroep Enhancer.

Saamgestel deur Elretha Britz met bykomende bronne: classicalmusicdaily.com, musicalchairs.com, en usatoday.com

Meer oor:  Musiek  |  Klassieke Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.