Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Musieksalf vir ’n onrusbarende tyd

Daar is min dinge wat ’n onstuimige gemoedslewe kan red soos musiek. En soos die geluk dit wil hê, is van die beste plate wat in die onrusbarende eerste maande van 2020 uitgereik is, ook van die strelendste, hartverwarmendste albums in n lang tyd. Danie Marais het geluister daarna. 

Bill Fay se ‘Countless Branches’.

Bill FayCountless Branches

Die Londense sanger-liedjieskrywer Bill Fay het twee hoog aangeskrewe plate in die vroeë 1970’s gemaak. Beide was egter volslae kommersiële mislukkings en hy het spoorloos van die folk-toneel verdwyn, waarvan hy nooit werklik deel was nie. Fay het wel tuis aanhou musiek maak vir sy eie heil, terwyl hy sy brood en botter onder meer verdien het as vispakker en jare lank as opsigter van ’n openbare park.

Sy merkwaardige herrysing uit die musikale vergetelheid is aan die Kaliforniese sanger-liedjieskrywer Joshua Henry te danke. Fay se psigedeliese folk-plaat, Time of the Last Persecution (1971), was ’n obskure kroonjuweel in die plateversameling van Henry se pa. Terwyl sy pa sterwend aan kanker was, was hul gedeelde liefde vir hierdie album ’n gesprekspunt en bron van vertroosting. Ná sy pa se dood in 2010 het Henry besluit om Fay op te spoor. Hy en sy pa het die fantasie gehad om hom tot nuwe opnames te oorreed. Die wonderbaarlike resultaat van Henry se pelgrimstog was Fay se eerste plaat in vier dekades – die skitterende Life Is People (2012).

Sedertdien het die eweneens merkwaardige Who Is the Sender? (2015) verskyn en nou Fay se strelende jongste, Countless Branches. Al drie is onder Henry se musiekregie gemaak en in al drie is Fay se beleë stem en suiwer klavier die sentrale fokuspunte in mymerende meditasies oor God en natuur en die mens se hele ou ondermaanse bestaan.

Op Countless Branches word stem en klavier subtiel aangevul deur kitaar en tjello en alles is altyd net genoeg. Fay se lirieke is so gestroop soos sy musiek en verskaf geen groot nuwe insigte nie, maar dit oortuig jou stil-stil dat sinisme so dwaas soos nodelose kommer en angs is. Sy musiek spoel deur jou soos vergifnis.

Wanneer hy in “Love Will Remain” sing: “Love will remain / When knowledge has passed away […] When other tongues have failed / Love will remain” ervaar jy dit as ’n waarheid so eenvoudig geheimsinnig soos sonskyn en maanlig. Op die Deluxe-uitgawe van Countless Branches is daar ook weergawes van sewe liedjies met ’n volle orkes. Ook dít is die moeite werd, maar uiteindelik verkies ek soos Fay en Henry die onopgesmukte, minimalistiese interpretasies.

Fay se werk herinner aan die bekende frase uit Lord Tennyson se “Ulysses”: “Though much is taken, much abides.” Sy gelouterde dankpsalms laat jou besef ware aanvaarding van die aardse sirkelgang, die ewige aankoms en vertrek, kan weer kinderlike verwondering moontlik maak. “Elke hart het in sy holte tuisgekom” dig Petra Müller in “Sneeu in September: Agter-Pakhuis”. Dit is wat gebeur wanneer jy Bill Fay met ’n oop gemoed binnelaat.

Topsnitte: “Salt of the Earth”, “Filled With Wonder Once Again”, “Love Will Remain”

Vir verdere gemoedsverheldering luister op Life Is People na “The Never Ending Happening”, “Jesus, Etc.” en “Be at Peace With Yourself”; op Who Is the Sender? na “The Geese Are Flying Westward” en “War Machine”.

Ander pleisters vir jou nerwe

Swamp Dogg se ‘Sorry You Couldn’t Make It’.

Swamp DoggSorry You Couldn’t Make It

Die 77-jarige Jerry Williams jr. laat die meeste veterane na bogsnuiters klink. Dié man, wat sedert die 1970’s as Swamp Dogg bekend staan, het al in 1954 op die ouderdom van 12 as Little Jerry ’n enkelsnit opgeneem – “HTD Blues”. Ses dekades later is hy ’n musikaal onklassifiseerbare lewende legende en kultusheld.

Williams, ’n alumnus van die invloedryke Muscle Shoals-ateljee se Southern soul, het al alles van gospel tot eksperimentele indie-pop gemaak – Love, Loss, and Auto-Tune (2018) saam met Justin Vernon (Bon Iver).

Sy jongste is vuurwarm country-soul opgeneem in Nashville saam met beroemde gaskunstenaars en vriende soos Vernon, Jenny Lewis en John Prine.

Williams sing soos ’n man wat alles al minstens twee keer oorleef het en met sy humorsin ongeskonde daarvan afgekom het. Daarom is hierdie ballades oor verlore liefdes, fatale verslawings en verspeelde kanse uiteindelik eerder opbeurend as droefgeestig.

Wanneer hy saam met Prine verklaar “Memories / Don’t leave like people do / And that’s why in my mind / I’m always gonna be with you”, skep jy saam met die nostalgie sommer onverklaarbare nuwe moed ook. En vir ’n klavierballade soos “Billy” kan Tom Waits sy ou skoene agterna gooi.

Topsnitte: “Don’t Take Her (She’s All I Got)”, “Memories”, “Billy”

Bonny Light Horseman se ‘Bonny Light Horseman’.

Bonny Light HorsemanBonny Light Horseman

“If it’s never been new and it never gets old, it’s a folk song,” sê die hoofkarakter in die Coen-broers se fliek Inside Llewyn Davis voor hy in ’n donker klein kelderklub begin sing. Die Bonny Light Horseman se gelyknamige debuut is ’n treffende illustrasie van hierdie waarheid. Dié folk-supergroep bestaan uit Anaïs Mitchell, Eric D. Johnson van Fruit Bats en Josh Kaufman, ’n musiekregisseur en multi-instrumentalis wat al saam met The National en Josh Ritter gewerk het. Saam voer hulle ou liedjies uit die Amerikaanse folk-skatkis tot nuwe hoogtes met gesofistikeerde musikale bewerkings en hoendervleis-samesang. Anaïs Mitchell, wat ’n Tony vir haar folk-opera “Hadestown” gewen het, is gebore om “The Roving” te sing. Dis musiek so oud en gerusstellend soos die berge.

Topsnitte: “Deep in Love”, “The Roving”, “Jane Jane”

The Lost Brothers se ‘After the Fire After the Rain’.

The Lost BrothersAfter the Fire After the Rain

As jy met sielvolle harmonieë en fyn kitaarspel aan The Everly Brothers en Simon & Garfunkel herinner wil word, moet jy hierdie twee Iere ’n kans gee. “After the Fire” met M. Ward, Howe Gelb en Bob Dylan se gereelde baskitaarspeler, Tony Garnier, is pure luistergoud.

Topsnitte: “Fugitive Moon”, “After the Fire”, “Hope Machine”

J.S. Ondara se ‘Tales of America’.

J.S. OndaraTales of America

Een plaat wat ’n gapende leemte in my top-20 van 2019 gelaat het, is dit die 26-jarige J.S. Ondara se onweerstaanbare debuut, Tales of America, wat ek eers aan die begin van 2020 ontdek het. Dié Keniaan het hom in Amerika gaan vestig nadat hy ses jaar gelede ’n green card in die lotery gewen het. G’n wonder hierdie groot Dylan-aanhanger het die Babiloniese folk-soul-blues so deeglik onder die knie nie.

Ondara tref ’n onsigbare teiken sekuur – ’n kolskoot netjies in die middel van Dylan, Robert Johnson en die jong soul-sensasie Leon Bridges.

Topsnitte: “American Dream”, “Saying Goodbye”, “Lebanon”

Meer oor:  Musiek  |  Danie Marais
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.