Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Musiek-vereniging vereer 8 SA onderwysers

Die Suid-Afrikaanse Vereniging van Musiekonderwysers (SAVMO) het ’n prys vir uitnemendheid in musiekonderrig aan agt opvoeders toegeken.

Nina Schumann
Carina Brown

Dit is die eerste keer in die vereniging se bestaan van sowat ’n eeu dat hy musiekopvoeders by laer- en hoërskole, musiekskole en -sentrums, organisasies sonder winsbejag, universiteite én dié wat onder moeilike omstandighede tuisonderrig verskaf, op dié manier vereer.

Volgens Erna Rademan, president van die SAVMO, het die vereniging se vorige president, Lestie Hughes, ’n behoefte geopper om musiekopvoeders te vereer wat “ongelooflike werk doen om kinders na musiek toe te bring, om kinders amper deur musiek te red”, maar wat nie erkenning vir hul werk kry nie.

“Dit is mense wat partykeer in townships werk, in hul huise les gee, mense wat dit vir die liefde van musiek doen,” sê Rademan.

“En dan is daar ook baie mense by ons universiteite en ons instellings wat die wonderlikste werk doen – maar niemand weet daarvan nie. Dit word nêrens erken nie – dit word nêrens aan ’n klok gehang nie – en ons het besluit ons wil dit bitter graag aan ’n baie groot klok hang.”

Dié “klok” is die SAVMO-prys vir uitnemendheid in musiekonderrig wat Rademan sê “musiekopvoeders vereer vir die onselfsugtige werk wat hulle doen om ons nasie te bou”.

Die prys word in twee kategorieë toegeken: die eerste aan opvoeders wat “buite die formele strukture van musiekonderrig”, soos sekondêre of tersiêre instellings, hetsy private of staatskole, musiekonderrig gee, en die tweede aan opvoeders wat jong musici meestal binne dié strukture oplei.

Vanjaar se ontvangers van die prys in die eerste kategorie is:

  • Michael Alley van Port Elizabeth, onder meer vir sy stigting van die Bloemendal-simfonieorkes en sy bevordering van vioolonderrig in gebiede wat onder bendegeweld deurloop;
  • Nadia Smith van Bloemfontein, wat haar onder meer toespits op musiekterapie en die bevordering van musiekonderrig vir kinders met gestremdhede; en
  • Tyrone Hitzeroth van Port Elizabeth, wat as hoof van die Christian Gregor-musiekskool nie net skitterende musiekstudente oplewer nie, maar jongelinge aanspoor om ook in velde soos biokinetika, medies en die regte te presteer.

Die ontvangers in die tweede kategorie is:

  • Carina Brown, hoof van die Weskus-musiekakademie en die Weskus-jeugorkes in Hopefield, wat oor die afgelope meer as 25 jaar ’n leeueaandeel het in die onderrig van musiekstudente en die stigting van ontwikkelingsprogramme in dié gebied;
  • Joan Lithgow van Johannesburg, wat onder meer een van die stigterslede van die Marimba Education Foundation is, reeds ses nasionale marimbafeeste georganiseer het en marimba as instrument in skole bevorder;
  • Nina Schumann, hoof van klavier aan die departement van musiek by die Universiteit Stellenbosch én medestigter van die Stellenbosse Internasionale Kamermusiekfees, wat deur die bank oor die afgelope 19 jaar ontelbare plaaslike en internasionale geleenthede – soos meestersklasse, studies en eindelik ook loopbane – vir musiekleerlinge geskep het;
  • Stefné van Dyk van Kleinmond, wat onder meer deur die Handevat-musiekprojek musiekonderrig in minder bevoorregte gemeenskappe in die Overberg bevorder; en
  • Vaughan Pietersen van die Paarl, sedert 1994 hoof van die Frank Pietersen-musieksentrum, wat nie net eens die musieksentrum vanuit sy sitkamer van ondergang gered het nie, maar ook onder meer deur hul uitreikprogram opleiding aan kinders bied wat nie die geleenthede het om musiekopleiding te ontvang nie.

Volgens Rademan gaan die SAVMO voortaan jaarliks so aan opvoeders erkenning gee. Sy nooi alle musiekopvoeders, dié met en sonder formele kwalifikasies, om lede van die vereniging te word. Besoek www.sasmt-savmo.org.za/ vir meer inligting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.