Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Musikant John Oakley-Smith (71) in Zimbabwe vermoor

Die komponis en musikant John Oakley-Smith (71) is Maandag in sy huis in Mutare, Zimbabwe, vermoor.

“Jy assosieer nie geweld met hom nie,” sê sy seun, Lucien Oakley-Smith.

John Oakley-Smith het ’n groot bydrae gelewer tot die skep van oorspronklike Engelse Suid-Afrikaanse folkliedjies. Foto: Africa Open-instituut vir musiek, navorsing en innovering van die Universiteit Stellenbosch

“Hy was ’n saggeaarde siel, seker ses voet lank. Ek ken nie iemand wat minder gewelddadig as hy was nie. Dat ons hom nou so moes verloor. Hy het sy huis The Castle genoem. Dit was in die stad, maar afgeleë. Byna soos ’n kleinhoewe. Ons het ver van mekaar gewoon en hy was ’n kluisenaar. Trouens, hy het nooit sy drie kleinkinders ontmoet nie.”

'Gedurende apartheid he fell through the cracks. Maar hy het sy lewe geleef."

Oakley-Smith is in Zimbabwe gebore, maar het aan die Universiteit van Kaapstad (UK) gestudeer en het later in Johannesburg gewoon.

Hy het hom later weer in Zimbabwe gevestig. Hy was voorheen met Terry Oakley-Smith getroud.

Hy het net een seun.

John Oakley-Smith het rolprentklankbane geskryf en was die musiekregisseur van verskeie teaterproduksies.

(John) Oakley-Smith het die klankbaan van rolprente soos The Native Who Caused All the Trouble geskryf en hy was ’n musiekregisseur van talle teaterproduksies.

Volgens dr. Lizabé Lambrechts, projekleier: Hidden Years-musiekargief by die Africa Open-instituut vir musiek, navorsing en innovering van die Universiteit Stellenbosch, het hy naam gemaak met die skryf van oorspronklike Engelse Suid-Afrikaanse folkliedjies.

“Hy kon nie op groot verhoë optree nie. Hy het onder meer in klein klubs in Hillbrow opgetree. Gedurende apartheid he fell through the cracks. Maar hy het sy lewe geleef.

“Hy was ’n skerp waarnemer as ’n mens na sy lirieke kyk. Dit is ’n groot nalatenskap, ook vir musieknavorsers.”

Lambrechts sonder die liedjie “The Lady From the Odeon” en dié lirieke uit die liedjie “Dogs” uit:

Day is a time to be busy

Night is a starry dance

Love is just a void into which we fall

As for pain and sorrow

Here today . . . gone tomorrow

In the end it won’t mean anything at all.

Hy was ’n stigterslid van Mannie Manim en Barney Simon se teatergeselskap The Company.

John Oakley-Smith Foto: Africa Open-instituut vir musiek, navorsing en innovering van die Universiteit Stellenbosch

Manim onthou ’n teruggetrokke Oakley-Smith.

“Hy sou nie by ’n funksie aankom en begin klets nie. Hy het stil-stil op sy eie geskep. Hy en Barney het sommige liedjies saam geskryf. Hy het voor ’n klavier gesit en die mooiste klanke het daaruit gekom. En hy kon woorde daarby voeg. Hy was nogal gevat – jy kan dit in van sy lirieke hoor. John het ’n spesiale plek in ons hart gehad – ons wat daardie jare by The Company betrokke was.”

‘Matinees on Saturdays’, John Oakley-Smith se enigste LP.

Suzanne Brenner, wat getroud is met die akteur, sanger en liedjieskrywer Richard van der Westhuizen, het in 2012 die laaste keer met Oakley-Smith gekommunikeer.

“Ek het probeer om sy (enigste) LP Matinees on Saturdays op te spoor. Richard reken dis een van die beste LP’s uit daardie era. Hy is ’n toegewyde aanhanger.”

Brenner het Oakley-Smith in die 1970’s ontmoet toe sy ’n aktrise was en oor musiek geskryf het.

Nadat hy weer in Zimbabwe gewoon het, het hy steeds gewerk en Suid-Afrika nou en dan besoek, sê Lucien.

John Oakley-Smith het stil-stil geskep, onthou Mannie Manim.

“Ek kan hom voorstel waar my pa in sy huis klavier speel.

“Onder die sterrehemel. Hy was ’n kluisenaar. Hy was selektief met wie hy te doen gehad het. Hy was eenkant, maar liefderik. Ja, ons het mekaar baie jare laas gesien, omdat hy so afgeleë gewoon het. Maar die rou is baie werklik. ’n Boom het geval en nie baie het dit gehoor nie.”

Meer oor:  Musiek  |  Musikant  |  Vermoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.