Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
’n Bykans volmaakte ‘Pique Dame’ danksy Jansons

Die musikale en vokale prestasie van die operadirigent Mariss Jansons se produksie van Pique Dame, een van die dirigent se laaste operas voor sy dood, inspireer, skryf Paul Boekkooi.

Naas sy meesterwerk Eugene Onegin (1879), is Tsjaikofski se oorblywende agt operas van mindere statuur. Naaste aan sy magnum opus kom Pique Dame (1890), sy voorlaaste een.

Pique Dame, wat in die Engelssprekende wêreld as Queen of Spades bekend staan, is in drie bedrywe en sewe tablo’s onderverdeel. Die komponis het dit in ses weke gedurende ’n verblyf in Florence voltooi. Die libretto, deur sy broer Modeste voorberei, is soos Onegin s’n gegrond op ’n bekende verhaal van Aleksander Poesjkin.

Dit is bykans voorspelbaar, maar tog ook nie. Die hoofkarakter is Hermann, ’n dobbelaar met passie, wat verlief is op Liza, die kleindogter van die gravin bekend as “Pique Dame”. Sy was in vervloë dae die gelukkigste kaartspeler in die dobbelhuise van St. Petersburg. Soos die geval maar is, loop die intriges by Poesjkin wyd en raak dan verknoop, voordat dit moeisaam ontrafel kan word.

Die Noorweegse regisseur Stefan Herheim verplaas met hierdie produksie van die Nederlandse Nasionale Opera die fokuspunt aansienlik wyer as wat slegs die Poesjkin-gegewe sou kon suggereer. Die komponis word ’n akteur en pianis te midde van die aksie op die verhoog!

Herheim se motivering hiervoor is Tsjaikofski se selfteisterende seksuele oriëntasie, maar daar word ook verwys na ’n glas water wat met cholera besmet is, terwyl sy voorliefde vir Mozart by tye visueel en klinkklaar uitgebeeld word. Hierdie “stil” rol word met ’n merkwaardige intensiteit deur die akteur Christiaan Kuyvenhoven oorgedra.

Dit is die musikale en vokale prestasies wat uiteindelik die kroon op dié produksie plaas. Bykans die hele rolbesetting toon in die meerderheid gevalle die stand en vermoëns van Russies gebore en -opgeleide sangers wat in ’n opera soos dié weer eens deurslaggewend blyk te wees.

Misja Didyk weet presies hoe om die karakter van Hermann oor die drie bedrywe in statuur te laat groei. Aanvanklik is hy ’n somber, ingetoë mens, maar teen die einde vestig hy die dobbelverslaafde minnaar met ’n bykans huiweringswekkende vlak van realisme op die verhoog.

Oor die ander sangers kan ewenwel odes oor hul vokale karakterisering en woordaksentuering en -kleuring geskryf word. Die feit bly staan: Slegs die uitsonderlikste voorbeelde van Westerse sangers bereik ooit dié peil. Albei kore, volwassenes én die kinderkoor, verleen ’n spontane lewendigheid aan die gebeure.

Vir Mariss Jansons, in 2019 oorlede, was dit een van sy laaste optredes as operadirigent en hy sal onthou word vir sy bydrae tot ’n bykans ideaal verwesenlikte Pique Dame.

TSJAIKOWSKI: Pique Dame. Misja Didyk (Hermann), Aleksei Markof (graaf Tomski/Zlator), Wladimir Stojanof (prins Jeletski), Andrei Popof (Tsjekalinski), Andrii Goniukof (Soerin), Michail Makarof (Tsjaplitski), Anatoli Sifko (Naroemof), Larissa Diadkowa (gravin), Svetlana Aksenowa (Liza), Anna Gorjatsjowa (Polina/Milofzor), e.a. Regisseur: Stefan Herheim. Koninklike Concertgebouw-Orkes/Mariss Jansons. Koor van die Nederlandse Nasionale Opera en Nieuw Amsterdams Kinderkoor. C Major 743908 – 2 DVD’s – 181 min.

Meer oor:  Musiek  |  Opera
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.