Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
’n Konsert vir Lochner se 70ste
Lochner de Kock is eersdaags 70. Foto: Nicolene Olckers

Dit is die kenmerkende warmhartige stem wat menige Afrikaanssprekende intiem ken van die radio aan die ander kant van die foon op ’n ysige, stormagtige Kaapse wintersdag.

Lochner de Kock word op 23 Julie 70 en hy dink dit is gaaf en goed. “Ai, dis tog gaaf dat julle nou iets daaroor wil doen.”

Hy dink nie eintlik in getalle nie. “10, 20, 30 . . . 60 of 70. Dit gaan eintlik oor wat agter jou lê en wat nog voor jou lê. Vir my gaan dit oor my vriende en familie en ’n heerlike dag saam met hulle – nie dat ons saam gaan wees nie, die virus het ’n stokkie daarvoor gesteek.”

Op sy verjaarsdag word ’n kuberkonsert in die Pierneef-teater in Pretoria aangebied Lochner de Kock kóók op 70!

Hy voel reeds hul warmte en liefde.

“Dit maak my nederig, jong. Ek voel diep dankbaar vir my wonderlike vriende en dat hulle dit reël. Daar gaan musiek wees en boodskappe gaan gelees word. Dit is ’n riem onder my hart, maak dit ’n ossewa van rieme onder my hart.”

Die andersoortige konsert begin om 19:00 op die teater se webblad. Hy maak kos, gee koswenke en vertel staaltjies oor kos, terwyl ’n aantal musiekvriende inval met liedjies as geskenke. Richard van der Westhuizen, Anton Goosen, Jannie du Toit, Helena Hettema, Riku Lätti en Laurinda Hofmeyr sing elkeen ’n liedjie terwyl Amanda Strydom ook ’n spesiale verjaardagwens kom gee en Susan Mouton kuier saam met haar tjello.

De Kock is in soveel neringe werklik suksesvol. Geen jack of all trades nie. Dink akteur, sanger (hy en Richard van der Westhuizen in 2016 vir hul lewenswerk vereer wat musiek deur Innibos), liedjieskrywer van daardie lieflike lied “Tussen treine”, rympieskrywer, oorklankingsregisseur, stemkunstenaar (hy was Sarel Seemonster én Karel Kraai), bobaaskok en resepteboekskrywer asook dramaturg. Televisiester in Vyfster, Isidingo, Dryfsand, Getroud met Rugby,7de Laan, en Huis Lelieveld.

Dan ook eggenoot van Christine Pretorius, die beste “lockdown-partner” en pa van Cara (met ’n C) hy vra asseblief dat die spelling reg is.

Hy lag lekker oor die vraag oor sy tydjie as ’n sweefstok-arties in ’n sirkus in Londen. “Dit is waar, dit was ’n baie kort loopbaan, sien ek het baie hard geval. Dit is die storie van my lewe, ek probeer áls!”

Oor al die kronkels en draaie van ’n veelsydige loopbaan is hy ook diep dankbaar. “Die lewe het my loopbaan gekies, nie ek nie. Daar is ’n gesegde wat lui ‘as jy nie uitdraai op die pad nie, gaan jy aankom waar jy is’. Dit is hoe dit was met my.’’

Tans is hy omtrent net kok, weens die inperking.

“Ek kook en ek kook. Ek kook met dit wat in die yskas is. Ek het pas vir ons ’n herderspastei gemaak – dan sê Christine dis nog lekkerder as verlede week s’n. Dan moet ek vinnig dink wat ek nou weer daarin gesit het.”

Die Covid-19-tyd by die huis is eintlik die beste tye van sy lewe, meen hy. “Om so doelbewus geïsoleer te wees bring goeie goed. Ek en Christine ontdek mekaar weer, ons gesels, lees hordes boeke – van Jane Austen tot Gabriel Garcia Marques en ook sommer lawwe, simpel boeke. Smiddae sit ons op ons stoep dan lees ek vir haar voor uit ’n boek oor Parys in die ou dae.”

Hy dink ’n oomblik na oor die vraag na hoogtepunte in sy lewe. “Daar is een wat bo al die ander uitstaan. Die geboorte van Cara, om ’n dogter te hê, ’n kind.” Hy bly ’n oomblik stil. “Hulle sê as jou kind gebore word leef jy vorentoe met jou hart buite jou lyf. Dis waar. Sy is die afgelope 34 jaar die hoogtepunt van my lewe.”

Hy werk tans as oorklankingsregisseur van ’n Turkse reeks en lees ook stories voor van Jan Spies op RSG. “Dit is werk wat net op die regte tyd gekom het.”

Die Covid-19-pandemie het mense na aan hom siek gemaak en ander het gesterf. “As dit so na aan jou kom, word jy opnuut bewus van jou verganklikheid. Dit het my introspektief gemaak en ek het ’n paar liedjies geskryf. Ek weet dat ek nou op geleende tyd leef. Ek geniet als.”

Sy groot passie bly maar kos. “Ek wou elke gereg in die wêreld maak. Die afgelope 40 jaar het ek als probeer. Dit is ’n uitdaging om kos te maak. Ek is maar ’n vaalsiel jong, ek bloos soms oor myself. Ek is naïef gebore en wil so doodgaan.”

*Kaartjies vir Lochner de Kock kóók op 70! kos R75. Ná die konsert op 23 Julie, is dit steeds op die teater se webblad beskikbaar. Besoek pierneefteater.com.

Meer oor:  70  |  Konsert
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.