Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
’n Laaste ruk en rol aan die Ryn
Die Australiese groep Midnight Oil is besig met sy laaste Europese toer.

In ’n vergete agterhoek van die 1980’s se rockmusiek en ingehaal deur nuwe tienersmake van kletsrym en gesels-harmonieë het ’n Australiese groep vir oulaas die langpad aangepak. Marnus Hatting het Midnight Oil se laaste Europese konsert in Gelsenkirchen.

Enigeen aan die verkeerde kant van 40 sal vandag nog “Beds are Burning” onthou. Daardie slagkreet van menige tiener in die 1980’s: Vies, kwaad en verontreg – al is dit dan ook net in sy eie oë.

Teen die tyd dat Midnight Oil sy wêreldtreffer neergepen het, was die groep al ’n dekade in die bedryf. Vroeë sukses op die radio was helaas net tot Australië beperk, met Men at Work en later INXS wat die internasionale kollig gesteel het.

Maar in 1987 reik die groep sy seminale album Diesel and Dust uit, en met sy kampvuur-gloed van hart op die mou lirieke oor verontregting het dit gou regoor die wêreld bekendheid verwerf.

Die roem en glorie was egter moeilik om vol te hou. Die Oils se volgende vrystelling in 1990, Blue Sky Mining, het nog gehore in Amerika en Europa gelok, maar hierna het sy olie laer gebrand.

Vier albums later het die groep se lede in die vroeë 2000’s elk hul eie koers ingeslaan. Sommige het soloprojekte aangepak. Peter Garrett, die enigmatiese kaalkop-hoofsanger, het wel toe in die parlement as Australië se minister van omgewingsake geëindig.

Waar laat dit ’n omgekrapte rocker dan in ’n landskap van Donald Trumps en Boris Johnsons 30 jaar later? Daar is fluisteringe van nuwe materiaal. Maar eerste was ’n wêreldtoer, gepas die Great Circle Tour genoem, om weer blad te skud met ondersteuners van ouds.

In Gelsenkirchen, in Duitsland se westelike nywerheidshartland, was die gehoor merkbaar ouer. Mans en vroue in hul 40’s en 50’s wat almal die treffers van die 1980’s onthou en dit op verweerde T-hemde verkondig.

Die omgewing was treffend. ’n Koel someraand in ’n opelug-amfiteater op die oewer van ’n sytak van die Ryn. Terwyl massiewe barge agter verbyvaar, ruk en rol die Oils deur hul stel van 15 liedere met die son wat eers laatnag sy gesig agter toring-skoorstene laat sak.

Die stemme raak yler – die lede is darem al in hul 60’s – en hoë note raak soms ’n geknyp. Ook die frenetiese rondhardlopery op die verhoog van ouds, het plek gemaak vir ’n bedeesde armswaai of drie.

Maar die twee hoofkitare basuin nog suiwer, steeds in daardie ek-sê-jy-sê-styl waar die een kitaar antwoord op wat die ander pas gespeel het. Rob Hirst, medestigter en tromspeler, hou die tempo vol met stokkies wat kort-kort aan die einde van ’n lied vurig die gehoor ingegooi word. Tot groot vermaak van sekerlik die besadigste skudgroep nóg wat reg voor die verhoog ingebondel staan.

Die treffers word gespeel, ja. Maar interessant genoeg ook talle obskure nommers uit hul arsenaal, wat net saam met solosnitte vrygestel is of nooit lugtyd op radiostasies geniet het nie. Uit die ou materiaal kom ook hul punk-wortels na vore, en die Duitse skare staan hande langs die sye oor dié Aussie-klanke van die 1970’s.

Twee uur later word die aand met ’n kwinkslag oor Trump en vriende afgesluit. Nog ’n radiobekende treffer volg as toegif, en toe is dit elfuur en goeienag. Ons almal is moeg.

Geen looprame was nodig nie, maar die jare het ingehaal. Gelukkig is die musiek – en sinvolle lirieke – reeds op ons plateversamelings verewig.

* Hattingh is die afgevaardigde Media24-joernalis in Zuid-Afrikahuis in Amsterdam.

Meer oor:  Musiek  |  Marnus Hattingh
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.