Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Ná 20 j. is Rocco nou net homself
Rocco de Villiers vier vanjaar 20 jaar in die musiekbedryf. Foto: Picture Perfect

Ná 20 jaar in die musiekbedryf het die pianis Rocco de Villiers vrede gemaak met wie hy is en wat hy as vermaaklikheidskunstenaar aan die wêreld kan bied.

Dit is onder meer waarom sy nuwe konsert Just Be Yourself heet.

Dié konsert, wat van 3 tot 14 Oktober in die Pieter Toerien-teater in die Montecasino in Fourways, Johannesburg, op die planke is, is een van ’n paar projekte waarmee hy vanjaar sy loopbaan vier.

“Ek het vrede gemaak met die feit dat ek totaal en al verslaaf is aan wine gums, dat ek mal is oor countrymusiek en dat Dolly Parton vir my die ultimate is.”

In Just Be Yourself speel hy saam met ander orkeslede die musiek op sy nuwe album, Kortbroek, langkouse.

De Villiers (53) speel ook al hoe meer sy eie komposisies, dus sluit die titel ook daarby aan.

“Ek het ’n tannie gehad wat altyd gesê het: ‘Just be yourself, because all the others have been taken.’

“Ek dink nie ek is noodwendig die beste klavierspeler in die wêreld nie. Ek is nie die beste storieverteller nie. Ek lig mense in oor wat met my gebeur het en dan speel ons die stukkie musiek, maar ek weet dat ek mense kan vermaak en dis my sterk punt.”

Sy eerste album, Screen Test, is in 1998 uitgereik.

Sy benadering tot sy nering het nog nie verander nie.

Hy onthou ’n baie bekende satirikus se raad aan hom vroeg in sy loopbaan.

“Toe ek begin optree het, het niemand na my konserte gekom nie. In een van my konserte was daar agt mense in die gehoor en een van daardie mense was Pieter-Dirk Uys.”

Uys kom praat toe ná die tyd met De Villiers.

“En hy het gesê ‘My darling,’ – dis mos hoe hy praat – ‘ek kan sien dat jy besig is met jou eie ding. Dit voel vir my jy het nou jou alfabet gemaak. Ek kan dit sien as ek na jou kyk. Die volgende wat jy moet doen, is om daardie woorde te maak, jou taal. Jy moet 20 jaar lank jou taal praat wat jy geskep het en jy sal ná daardie 20 jaar sien dat mense saam met jou daardie taal praat.’

“Is dit nie wonderlik nie? Daardie raad sal ek in my lewe nooit vergeet nie.”

Rocco de Villiers bied in Oktober die konsert Just Be Yourself in die Pieter Toerien-teater by Montecasino aan.

De Villiers het nog steeds baie in sy taal te sê.

Hy dra ook weer kortbroeke en lang kouse, maar anders as op skool doen hy dit nou op sy eie voorwaardes.

Die album se titel is Afrikaans omdat hy Afrikaans en Suid-Afrikaans is.

Die snitte het ook Afrikaanse titels, hoewel dit ’n instrumentale album is.

“Reën kan jy nie koop nie” het hy oor die natuur en omgewing geskryf. Hy en sy orkes dra ook in die tweede helfte van elke vertoning groen uitrustings.

“Die komposisie gaan oor wat mense aan die aarde doen. Dit voel soms vir my of dit niemand hinder dat daar hope plastiek rondlê of ysbere sonder ys is nie. Dis een van die kwessies wat ek pak.”

Een van die ander liedjies is “Wat om te dra agterop ’n bakkie”.

“Dit gaan oor iets wat met my gebeur het toe ek op ’n klein dorpie opgetree het . . .”

Hieroor sal hy meer uitwei in sy konsert.

De Villiers is op 16 September een van die kunstenaars in die Starlight Classics-konsert in Johannesburg en Donderdagaande kan televisiekykers hom steeds sien op die musiekspeletjiesprogram Beter assie bure op SABC2. Volgende jaar gaan hy in Australië toer.

Hy werk ook aan ’n digbundel, waaroor hy nog nie te veel kan praat nie.

“Dis ’n jaar van viering, ’n jaar van vrede maak en oorspronklike musiek. Rocco se 2018 – die jaar van smarag. Die jaar van wees wie jy is. Wat is daar dan nou anders?”

*Just Be Yourself word van 3 tot 14 Oktober in die Pieter Toerien-teater by Montecasino opgevoer.

Lizelle le Roux (viool), Robert Mitchley en Hansie Roodt (albei op kitaar), tree saam met hom op. Kaartjies kos R100 tot R220.

*Starlight Classics word op 16 September om 18:30 in Johannesburg se buiteklub aangebied. Kaartjies kos R280.

*Hy tree ook op 6 September om 20:00 in die Atterburyteater op. Kaartjies kos R200 tot R220.

*Beter assie bure word Donderdagaande om 19:00 op SABC2 uitgesaai.

Meer oor:  Pieter-Dirk Uys  |  Rocco De Villiers  |  Montecasino  |  Klavier  |  Musiek  |  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.