Die befaamde Suid-Afrikaanse komponis Peter Klatzow sterk in sy huis in Kaapstad aan ná ’n hartaanval.

Peter Klatzow Foto: Jaco Marais
Lionel Walker, ’n vriend van die 75-jarige komponis, het op Klatzow se Facebook-blad geskryf dat hy (Klatzow) kort ná die hartaanval op 2 November na die Life Vincent Pallotti-hospitaal in Pinelands gehaas is, waar hy ’n noodoperasie ondergaan het om “ou stente” te vervang.
Hy is daarna vir ’n paar dae in die hospitaal opgeneem voordat hy ontslaan is.
Klatzow, ’n gesiene emeritusprofessor in komposisie aan die Universiteit van Kaapstad, het Dinsdag ’n kort telefoononderhoud aan Netwerk24 toegestaan en die hartaanval as ’n “aaklige ondervinding” beskryf.
“Ek het groot geskrik – dit gaan eintlik steeds nie goed nie,” sê hy.
“Ek het (kort voor die hartaanval) ná middagete ’n uiltjie gaan knip. Toe ek wakker word, het dit gevoel asof iemand my ’n kwaai hou op my bors gee.
“Ek het van die bed afgerol, gekeer dat ek op die vloer beland, en toe stadig maar seker na die sitkamer beweeg.
“Lionel het my gevra wat fout is, of hy ’n ambulans moet ontbied, wat hy toe gedoen het. Hulle het gou daar aangekom en my gestabiliseer. Die rit (na die hospitaal) was ’n nagmerrie.”
Klatzow sê hy het in die verlede weens angina ’n soortgelyke, dog “ligter” ervaring gehad, maar dit was nog nooit so ernstig soos dié keer nie.
“Hulle het dadelik geopereer en my vyf dae in die hospitaal gehou. Die dokter sê die hartprobleem is ernstig. As ek tien minute later by die hospitaal opgedaag het, sou ek dit nie gemaak het nie. Dit is steeds moeilik om asem te haal.”
Hy sê sy herstel gaan “lank en stadig” wees omdat hy ook ’n diabeet is. Dit kompliseer sy herstelplan.
“Die hordes boodskappe wat ek op Facebook kry, gee my baie moed. Dit lei eintlik my aandag af terwyl ek nou niks doen nie. Ek vat dit maar stadig.”
Hy sê hy het ook besluit om nie meer te komponeer nie.
“ ’n Mens bereik ’n punt in jou lewe dat jy voel jy het geskryf wat jy kon skryf – en daar is niks meer om te skryf nie. Ek het kort voor die hartaanval ’n paar liedere vir mezzosopraan, altviool en klavier voltooi – liedere oor die herfs en die einde van seisoene – en ek het besef dit is eintlik ’n goeie plek om op te hou.
“Ek wil voortaan net Al Jazeera kyk en ook inskrywings op Facebook maak, maar Facebook begin my ook al hoe meer irriteer.”