Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Nachtrein vind sy styl met nuwe album

Die sanger en liedjieskrywer Neil Nachtrein het ’n “nuwe aar” gevind met sy jongste album, Op plekke waar ons eens was, danksy verskillende musiekstyle wat hy daarvoor op die proef gestel het.

Soveel so dat hy reeds ’n paar idees vir ’n volgende album het.

Neil Nachtrein in die ateljee.

“Dit is nodig om in die ateljee te eksperimenteer,” sê Nachtrein, wat al vantevore gesê hy sy jongste album voel inderwaarheid soos sy debuutalbum.

“Ek het nou die styl gevind waarin ek wil werk; akoestiese rock. Ek dink dit is die grootste rede waarom dit soos ’n eerste album voel. Met my eerste album het ek as ’n groentjie die ateljee ingestap. Met die nuwe album het die skryfproses en die gedagte aan hoe die album oplaas sou klink, heeltemal verskil.”

Sy debuutalbum, Gisters en blisters, is in 2012 uitgereik. Hy het ook drie jaar lank saam met Jan Blohm in die duo Blomtrein opgetree.

Neil Nachtrein

Die skryf, saamstel en opname van Plekke waar ons eens was, het betreklik vinnig gebeur.

“Dit was ongeveer ses maande. Twee liedjies het al bestaan,” sê Nachtrein, wat in Bloemfontein woon.

Op plekke waar ons eens was deur Neil Nachtrein.

“Ek het ’n besliste idee gehad van hoe alles moes klink. Lirieke is vir my die moeilikste. Dit neem my die langste om te skep. Vir my moet daar ’n melodie bestaan om dit ’n liedjie te kan noem.”

Nachtrein neem dikwels die langpad.

“ ’n Mens kan nie net albums maak en dit uitstuur en verwag mense gaan daarvan bewus wees of daarvan hou nie. Jy moet dit op die pad vat. Dis eintlik op twee maniere ’n goeie ding. Jy kry ondervinding op die pad want jy sien nuwe goed en jy beleef nuwe dinge. Dit beïnvloed definitief waaroor en wat jy skryf.”

Hy hou van stilte en om mense en dinge waar te neem.

Nou die dag het ’n vriend met hom oor sy liedjie “Stilste uur” gepraat.

“Hy het gepraat van die liriek ‘tyd staan stil met sy rug teen die muur’. Dit is eintlik tweeledig. As jy met jou rug teen die muur staan, is jy so half vasgekeer. En ’n horlosie hang met sy rug teen die muur. Dit was die bedoeling.”

Vanweë sy musiektoere kan Nachtrein dikwels net vir ’n kort rukkie by die huis wees.

“Jy wil nie weer so gou weggaan nie en daarom wens jy die tyd kan so ’n bietjie stilstaan wanneer jy die slag by die huis is.”

Die verlange kom ook voor in sy liedjies, hoewel hy dit nie doelbewus so skryf nie.

“Ek verlang verskriklik, daarom skryf ek daaroor. Baie keer as jy happy is en jy gaan aan, dan gaan sit ek nie en skryf nie. As ek op toer is en ek verlang, kom daar gedagtes op wat lei tot skryf. Dit is seker maar onomwonde deel van ’n mens.”

Hy probeer deurgaans skryf, maar hy maak ook tyd daarvoor.

Hy beskryf die liedjie “1998” as sy poging tot ’n Bruce Springsteen-liedjie, en dit gaan oor sy tuisdorp, Odendaalsrus.

Sy lirieke is allermins gedigte, sê hy.

“Dit is dalk ’n digterlike aanslag tot lirieke, maar dit is nie poësie nie. Tog ontstaan baie van my liedjies uit ’n vrye vers. Soms begin jy aan ’n gediggie krap en naderhand toonset jy dit.”

Meer oor:  Neil Nachtrein  |  Sangers  |  Album  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.