Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Nataniël moeg, maar reg vir Bloem
Nataniël tree volgende week vir twee aande in Bloemfontein op.

“ ’n Duisend goed het gebeur vandat ons laas in Bloemfontein was. Vanjaar was die jaar waarin ek moes afskaal en nou is dit ’n malhuis. Ek is tien jaar ouer omdat ek al die klassieke note en Duits vir Classic Nataniël moes onthou.”

Nataniël vertel wat voor en ná sy “jaarlikse pelgrimstog die afgelope 300 jaar” na Bloemfontein gebeur. “Ons redigeer Edik van Nantes 2 (die TV-kosreeks saam met sy broer), ek werk aan my nuwe CD vir volgende jaar, ek het konserte in Sasolburg, Roodepoort, Atterbury en die Krismiskonsert. In die middel van Desember is ek klaar. Ek het nog nie my opgewondenheid verloor nie en wanneer ek op die verhoog stap, is ek reg. Dis net tussen shows dat ek moeg is.

“Maar ek werk daaraan. ’n Mens moet net minder stres en genoeg slaap, jy hoef nie minder te werk nie. In Oktober moet jy afvat, ek het twee weke gevat, want Oktober is hartaanvaltyd. Ek het energie-inspuitings probeer, maar dit hou net tot by die kar.”

Nataniël skep nie asem nie en vertel van sy nuutste missie om “die land te leer om nie te mors nie. Ek moet dit met ’n bom tref en as ek dit nie regkry nie, gaan ek emigreer, ek wil nie in ’n varkhok woon nie.

“Ons toekoms is om een generasie oor te slaan. Die huidige generasie is moeg en op pille en die studente is ook ’n verlore geslag, ’n mens breek mos nie ’n plek af wat jy nodig het nie. Ons moet met die kindertjies werk wat nog nie besoedel is nie.

“Ek lewe nou baie meer holisties en is meer bewus van alles om my – die aarde, hoeveel water ons mors, die veld. As ek ’n vuil pad moet ry na ’n dorp, sê ek net nee (vir vertonings).”

Volgende jaar gaan Nataniël groot gaan. Hy vier 30 jaar op die verhoog en beplan ’n massiewe vertoning wat nie net in Emperor’s Palace opgevoer gaan word nie. Die eerste keer gaan die hele land die vertoning sien.

Maar eers moet hy sy “Krismis-show”, How to Break a Bone, op die planke kry. “Dis ’n Kersvertoning sonder ‘Stille nag’, ’n fun show wat ek ná Krismis ook in die Kaap gaan aanbied.”

Nataniël in Concert in Bloemfontein is egter nou sy eerste prioriteit. “Ek het ’n berg nuwe materiaal en beautiful songs en costumes en nog opwindende goedjies vir Bloemfontein. En net een Engelse storie.”

Die musiek in die produksie word verskaf deur die kitaarvirtuoos Juan “Floors” Oosthuizen en die Charl du Plessis-trio wat bestaan uit die kontrabasspeler Werner Spies, tromspeler Hugo Radyn en Du Plessis op klavier.

Hulle sal Nataniël begelei in treffers soos “Purple Rain”, “Ain’t got Nothin’ but the Blues” en “Moeder Aarde”.

* Nataniël in Concert: 9 en 10 November om 19:30 in die Sand du Plessis-teater. Kaartjies kos R130, R180 en R250 by Pacofs, 051 447 7772.

Meer oor:  Musiek  |  Nataniël  |  Sanger  |  Akteur  |  Optrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.