Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Navorsing oor musiek kry tuiste op Stellenbosch
Pieter Olckers en Wim de Villiers by die onthullig van die navorsingsentrum op Stellenbosch

Musiek, erfenis en restitusie was die elemente van Dinsdagaand se opening van die nuwe tuiste van die Africa Open Instituut vir Musiek, Navorsing en Innovasie (AOI) op Stellenbosch.

Dié instituut is twee jaar gelede deur Stephanus Muller, musikologieprofessor aan die Universiteit Stellenbosch (US), op die been gebring om navorsing in musiek te verbreed. Dit is verbonde aan die US en fokus nie net op musieknavorsing nie, maar verken ook innoverende maniere van navorsing doen en nuwe benaderings tot musiek maak.

Dinsdagaand het die AOI sy nuwe tuiste by Joubertstraat 7, Stellenbosch, ingewy en die huis se nuwe naam onthul: die Pieter Okkers-huis. Okkers (1875-1952) was die oorspronklike eienaar van die huis, asook die huis langsaan by Joubertstraat 5.

Dié huis is geleë in die voormalige bruin woonbuurt wat bekend was as Die Vlakte. In 1964 is dit tot ’n sogenaamde wit gebied verklaar en die inwoners is gedwonge verskuif na Idasvallei en Cloetesville. Okkers het egter toe reeds albei sy huise verkoop.

Met die opening Dinsdag kon sy nasate, waaronder sy naamgenoot en kleinseun, Pieter Okkers, die huis besoek. “Nooit sou ons kon droom dat ons oupa op so ’n merkwaardige wyse vereer sal word nie. Hy was ’n gesinsman en ek was sy gunsteling-kleinkind. Hy het my selfs toegelaat om spykers in die vloer te kap met die hoop dat ek in sy voetspore ’n timmerman sou word,” het Okkers vertel.

Colleen Biscombe, ’n agterkleindogter van Okkers sr., het vertel dat haar ma, Rosina, wat in Junie 2017 op 89-jarige ouderdom dood is, by Joubertstraat 5 gebore is.

“Dit is heel gepas dat ’n musiekinstituut hier sy tuiste kry, want ons familie is lief vir musiek en sing in die kerkkoor of speel ’n instrument. En dalk kom een van Pieter Okkers se nasate nog eendag hier by die AOI navorsing doen,” het Biscombe, ’n musiekonderwyser by die Hoërskool Lückhoff in Idasvallei, gesê.

Marietjie Pauw, ’n fluitspeler en ná-doktorale genoot by die AOI, het navorsing gedoen oor die huis se geskiedenis. Sy kon vasstel dat Okkers se pa, Piet, die erwe gekoop het, en het die geskiedenis van die huis in ’n joernaalartikel (Phulaphula Journal) neergepen.

Die geleentheid is geopen met ’n nuwe komposisie, getiteld “Fanfare for a New Institute”, wat Michael Blake, ’n ereprofessor aan die AOI, spesiaal vir die inwyding geskryf het.

Muller het gesê die stigting van die AOI in 2016 is merkwaardig, omdat dit nuwe maniere ontgin waarop daar na musiek gekyk word. “Met ons nuwe adres en deur hierdie huis na die oorspronklike eienaar te noem, skep die AOI ’n band met ’n belangrike verlede,” het Muller gesê.

Meer oor Pieter Okkers

Pieter James Andrew Okkers (1875-1952) was ’n bouer en skrynwerker van beroep. Hy was ook ’n stigterslid van die Volkskerk en die Spes Bona-sokkerklub op Stellenbosch. Hy het die erwe by Joubertstraat 5 en 7 van sy pa, Piet, geërf en die twee enkelgewel-huise in 1926 en 1927 opgerig. Dit is onbekend in watter huis hy en sy vrou, Rosina Catherina Daniels (1880-1951), gewoon het. Okkers het die huis by Joubertstraat 5 in 1940 aan Stephanus Abraham Conradie (1885-1987) verkoop, en Joubertstraat 7 is in 1951 aan Harold du Toit (gebore 1926) verkoop.

Meer oor:  Africa Open  |  Stellenbosch  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.