Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Ndlovu-jeugkoor deel van ekstravaganza in Kaapstad
Die Ndlovu-jeugkoorvan Limpopo is een van vier jeugkore wat in ’n ekstravaganza in Kaapstad optree.

Die sensasionele Ndlovu-jeugkoor van Limpopo wat die wêreld aan hul voete het ná hul deelname aan America’s Got Talent, tree volgende maand in Kaapstad op.

Nog drie internasionaal bekroonde jeugkore sluit by hulle aan vir SING!, ’n koor-ekstravaganza soos min. Dié kore is die Libertas-koor onder leiding van Johan de Villiers, die Kaapstad-jeugkoor gelei deur Leon Starker en die Tygerberg-kinderkoor wat saam met hul nuwe dirigent, Karina Erasmus, op die verhoog sal verskyn.

Die man wat die Ndlovu-koor ’n wêreldwye aanhang besorg het, is die dirigent Ralf Schmitt. Dit is ook hy wat ’n indrukwekkende verwerking van die Queen-liedjie Bohemian Rhapsody gedoen het vir die Hoërskool Rustenburg se DVD, wat soos ’n veldbrand op sosiale media versprei het.

Schmitt sal in Kaapstad die Ndlovu-jeugkoor in hul energieke vertolking van Afro-pop, tradisionele musiek en oorspronklike komposisies lei.

Die Tygerberg-kinderkoor word beskou as een van die beste kinderkore ter wêreld, en die Libertas-koor het in die 30 jaar van sy bestaan sewe internasionale toere onderneem en word met groot agting in die buiteland bejeën. Die koor voer standaard-a cappella-liedere uit, asook vertolkings van tradisionele en kontemporêre Suid-Afrikaanse liedere.

Die Kaapstad-jeugkoor het pas teruggekeer van ’n suksesvolle Europese toer wat deelname aan die Karpenissi Internasionale Koorfees in Griekeland ingesluit het waar hulle die Grand Prix-wenner was. Op die 56ste internasionale kompetisie vir kamerkore in Spittal an der Drau, Oostenryk, het dié koor van Kaapstad die algehele tweede plek behaal.

Die geleentheid word gereël deur Agri-Expo, ’n landbouvereniging sonder winsbejag wat as ARTivists optree om geld vir landbou-jeugprojekte in te samel.

Elke koor lewer ’n program van 25 minute gevolg deur ’n massa-uitvoering as slotnommer. * 7 September om 18:30 vir 19:00 in GrandWest se Grand Arena. Die kaartjies kos van R200 tot R350 by Computicket.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.