Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Neil Diamond bied Chris Else inspirasie

Die nasionale staat van inperking het vir die sanger Chris Else tot nog toe net goeie dinge teweeggebring. Hy het vir Terésa Coetzee sy storie vertel.

Dit was nog ’n doodgewone (vervelige) Vrydagaand tuis, reg aan die begin van die inperking, toe ek op Facebook toevallig op ’n konsert van die sanger Chris Else (27) inskakel.

Chris Else, die sanger wat almal op sosiale media laat gons. Foto: Willem Botha

Gewoonlik bly ek so ’n rukkie op ’n blad voordat ek verder rondsnuffel, maar ek was so gefassineer deur die nederige ou met sy oop gesig en mooi stem, dat ek die hele konsert deurgeluister het.

Dit was my eerste ontmoeting met die sanger Chris Else.

Sedertdien luister ek graag saam met meer as 2 000 luisteraars na sy weeklikse konserte op Facebook. Dis net hartjies en soentjies waar jy kyk as sy aanhangers eers begin lostrek.

Else is ’n jong sanger van wie jy maar beslis notisie kan neem en hoewel hy voorheen baie korporatiewe werk gedoen het, het sy loopbaan die laaste tyd danksy sosiale media ’n baie goeie hupstoot gekry.

Hy is in Mokopane (destyds Potgietersrus) in Limpopo gebore en het so ’n rukkie in Struisbaai gewoon, maar deesdae woon hy en sy vrou,Chanelle, in Pretoria-Oos.

“Ek was een van nege kinders en ek het sewe sussies wat ouer as ek is,” sê hy.

Hy vertel hy het wonderlike kinderjare gehad en dit was heerlik om in so ’n groot huisgesin groot te word, veral met soveel sussies wat om hom en sy jonger boetie gekloek het.

Sy sussies het hom vreeslik bederf, sê hy. Sy oudste sussie is 17 jaar ouer as hy.

Hulle hele familie is musikaal en sy pa kon nege instrumente speel.

Hy het sy eerste kitaar gekry toe hy 13 was en op 14 het hy dit so ’n bietjie begin tokkel terwyl hy saamsing. Sedertdien kon niemand daardie stem van hom stilkry nie en dis waarom Chris nie eens getwyfel het nie om sang sy loopbaan te maak.

“Van my grootste bronne van inspirasie is sangers soos Jim Reeves en Neil Diamond. Ek onthou toe ek ’n kind was, het ons altyd in die kar na hierdie sangers geluister en ons almal het saamgesing. Ek het sulke lekker herinneringe hieraan en daarom was dit vanselfsprekend dat ek my loopbaan met dié sangers se musiek begin.”

Intussen het hy ook sy eie debuutalbum uitgereik – Hoor my roep – met oorspronklike musiek op en hy sê die album het bo verwagting goed verkoop. Sy liedjie “Gebreekte glas” word gereeld op radiostasies gespeel.

Gospel

Hoewel hy homself nooit as ’n gospel-sanger gesien het nie, het mense ál meer begin vra dat hy ook geestelike musiek op sy Facebook-konserte sing, veral Sondae omdat niemand meer kerk toe kon gaan nie.

Dis vir my ongelooflik lekker om te sien hoe mense reageer op my musiek.

“Ek het gospel-liedjies begin sing en was verbaas toe ek sien hoe baie die mense daarvan hou. Dit het toe sommer ’n instelling geword om Sondae ’n gospel-konsert te hou,” sê hy.

Aan die begin van die staat van inperking het Chris so 4 000 aanhangers op Facebook gehad, maar deesdae trek die syfers al ver oor die 48 000.

“Dis vir my ongelooflik lekker om te sien hoe mense reageer op my musiek,” se hy.

Hy en Chanelle het mekaar maar positief gehou sedert die Covid-19-pandemie uitgebreek het.

“Ek mis dit om vertonings te hou. Ek mis die verhoog. Dis nou maar eenmaal nie dieselfde om in jou sitkamer te staan en sing vir jou telefoon nie. Ek mis mense. Maar ek weier om negatief te raak,” sê Chris.

Hy en Chanelle is ’n jaar en sewe maande getroud en hy sê dit was liefde met die eerste oogopslag. Hy het haar by ’n braai saam met vriende ontmoet en direk daarna vinnig op die landkaart gaan kyk presies waar Sannieshof, waar sy toe gewoon het, nou eintlik is.

Deesdae behartig sy Chris se administrasie vir hom.

Hoewel kinders nog nie dadelik op die agenda is nie, sal hulle wel ook eendag ’n gesin wil hê. “Ek is gewoond aan ’n groot gesin, maar ek weet darem ook nie of nege kinders vir my sal werk nie!” sê hy laggend.

Meer oor:  Neil Diamond  |  Cd  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.