Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Niël Rademan het weer lied in sy hart

Daar is ’n huppel in sy stap en ’n lied in sy hart. Niël Rademan is terug by sy eerste liefde – die verhoog.

Nadat hy vier jaar lank uitvoerende hoof van die Suidoosterfees in Kaapstad was, is sy titel nou weer kunstenaar.

Boonop verwesenlik hy nou sy droom van saam met ’n groep musiek te maak.

“Ek het mense naby aan my en wat ook puik musikante is gevra om by my aan te sluit. Ons is nou nie ’n garage band wat al van ons tienerjare al saam speel nie, maar elkeen het ingekom met sy eie talent. So het die groep Rademan ontstaan.”

Louis Jones (perkussie / tromme), Corneil Müller (tjello), Niël Rademan (klavier en sang), Lucas Heinen (akkordeon en klavier).

Die groep bestaan uit Corneil Müller (tjello), Rademan (klavier en sang), Lucas Heinen (akkordeon en klavier) en Louis Jones (perkussie en tromme). Hulle kan al vier of in kombinasies saam met mekaar optree.

Hy het ook nog skaars die deur van die Suidoosterfees agter hom toegetrek of die uitnodigings om op te tree het begin inkom. Vandeesweek tree hy by die Vrystaat Kunstefees saam met Müller op.

Hy beskryf musiek wat hulle maak as sigeunerklanke, ligte rock, tango en tradisionele musiek wat met mekaar vervleg word. Hulle konsentreer veral op Afrikaans, maar Europese liedjies word ook ingesluit.

“Ek is moeg daarvan dat mense vervreem word deur eksklusiewe ontoeganklike vermaak. Ons maak mooi musiek met ’n effense kinkel in die kabel,” sê hy.

Die bekendstelling van Rademan is op 21 Julie in die Dasjesdrift-teaterhuis in Heidelberg waar hy vandaan kom. Al die kaartjies is reeds uitverkoop. Hierna gaan verskeie konserte deur die land volg.

“Dis nogal konfronterend om skielik verantwoordelik te wees om ’n gehoor vir meer as 60 minute te vermaak. Dit vra konsentrasie. Ek moet myself bymekaar hou.”

Hy is baie dankbaar vir die tyd wat hy by die Suidoosterfees betrokke kon wees.

“Ek het die teaterlandskap van ’n ander kant af leer ken, maar nou is dit my beurt. Ek gaan myself uitleef op die plek waarvoor ek gebore is – die verhoog.

Die groep Rademan se eerste optrede is op 27 Julie om 19:00 in Welgemeend, Welgemeend straat, Kaapstad. Bespreek by niel.rademan@gmail.com

Ander optredes:

2 Augustus om 19:00 in Musikhaus Heuer, Stellenbosch. Bespreek by niel.rademan@gmail.com

16 Augustus om 19:00 Tredici, Swellendam (Niël en Corneil). Bespreek by nc@tredici.co.za

29 Augustus om 19:00 Café Roux, Kaapstad (Niël, Lucas, Louis Jones). Bespreek by info@caferoux.co.za

14 September om 21:00 Tuin van Digters, Wellington (Niël, Lucas, Louis Jones & Elsabe Daneel – gedigte). Bespreek by francois@breytenbachsentrum.co.za

Optredes vir die volle groep word voor einde Desember beplan vir Somerset-Wes, Darling, Stilbaai, Riversdal en binnekort ook die Noorde.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.