Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
‘Nightfall’ ’n bewys van groep se veelsydigheid

Min kunstenaars kan hul eiesoortige klank oor dekades heen vars hou. Little Big Town is só ’n groep en hul nuwe album, Nightfall, se liedjies is so gekies dat dit nie vir ’n oomblik klink asof dit dieselfde groep is wat dit opgeneem het nie. Dit kan netsowel ’n klankbaan van ’n rolprent of TV-reeks wees, skryf Kobus Burger.

Formules werk. En dan begin hulle téén jou werk. Hoeveel kunstenaars sal nie van hierdie musikale meulsteen kan getuig nie? Daar is waarlik min wat hul eiesoortige klank oor dekades heen vars kan hou.

En des te meer as jy in Nashville, die hartjie van Amerika se countrymusiekbedryf, bo die ander moet uitstyg.

Die kwartet Little Big Town is in 1998 gestig en bestaan steeds uit dieselfde lede wat van dag een af die instrumente en mikrofone opgeneem het – Karen Fairchild, Kimberly Schlapman, Phillip Sweet en Jimi Westbrook.

Hul negende album, Nightfall, is een van vanjaar se opwindendste uitreikings en ’n bewys dat veelsydigheid passievol in hul are klop. As ’n mens hulle aan ’n nuwe geslag popliefhebbers moet bekend stel, sal ’n vergelyking met Lady Antebellum deug. Tog gaan hul musiek nie onder resepmatigheid gebuk nie.

“Next to You”, die verrassende openingsnit, is ’n gawe gelukspakkie wat met elke strofe opbou tot ’n meesleurende poprocktreffer. Dié liedjie skuur skouers met die volbloed-countrysnit “Over Drinking” wat later volg. En dit is juis die goud wat hierdie groep raakgeboor het. Hulle ry alte lekker wipplank tussen gehoorgunstelinge, tradisionele, dog moderne country, asook pop en rock.

‘Nightfall’ deur Little Big Town.

Little Big Town is nie net die sangers en musikante op hul jongste album nie, maar ook medeliedjieskrywers en produksieleiers – ’n proses wat hulle as “organies” beskryf. Dit is ook die indruk wat hierdie driekwartier van kragdadige musiek wek. Van Fairchild se altstem as sy solosang lewer tot die viertal se opruiende saamsing-harmonieë wat klink asof dit ’n ieder en ’n elk in ’n reuse-stadionkonsert op hul voete sal kry.

Die liedjies is só gekies en gerangskik dat dit nie vir ’n oomblik klink asof dit dieselfde groep is wat dit opgeneem het nie. Dit kon netsowel ’n klankbaan vir ’n rolprent of TV-reeks gewees het. Vandaar dat hulle al die beskrywing “silwerdoekklank” toegevoeg is.

In die een uiterste hoek sal “Wine, Beer, Whiskey” ’n stampvol kroeg aan die sing kry, terwyl die rou en gestroopte “Daughters” die hartsnare sal roer.

Die groep erken self dat hulle nie meer in radiotreffers glo nie, want min van hul liedjies word deur kommersiële stasies gespeel. Tog is “Sugar Coat” geoormerk as die snit wat die kruin van die hoofstroomgolf gaan ry.

Luister ’n mens so tien of 12 keer na die album, is dit egter “Questions” wat onder die vel begin inkruip.

Westbrook het die mikrofoon opgeneem vir “Problem Child” wat sommige luisteraars ’n traan sal laat wegpink, wanneer hy met stemmingsvolle klavierbegeleiding sing, “Are you the black sheep, have you been lonely out on the outside, you’re not the only one . . .”

Nightfall is oorspronklike, ongebreidelde Nashville-musiek wat nie in ’n massageproduseerde kassie gedruk kan word nie. Vars en hoendervelheerlik. Soms ’n titseltjie soetsappig, maar verfrissend anderkant die verwagtingshorisonne van hedendaagse Amerikaanse country. Dit is nie heeltemal ’n tien-uit-tien-uitreiking nie, maar jou ore sal nie spyt wees nie.

Meer oor:  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.