Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Nog wêreld-aansien vir Bfn-klarinetspeler
Danré Strydom

’n Tweede wêreldeer het die Bloemfonteinse klarinetspeler Danré Strydom in ’n kort tyd te beurt geval deurdat sy as die nasionale voorsitter aangewys is om Suid-Afrika in die Internasionale Klarinetvereniging te verteenwoordig. Dié vereniging is in Columbus, Ohio, in Amerika gevestig.

Ses maande gelede is Strydom­, houtblaasdosent aan die Odeion Skool vir Musiek (OSM) van die Universiteit van die Vrystaat, as Buffet-kunstenaar aangewys, die eerste Suid-Afrikaner wat dié handelsnaam verteenwoordig. Dit is ’n prestasie wat hoë internasionale aansien geniet.

Buffet-Crampon word allerweë as die “Steinway” van klarinetvervaardigers beskou.

Strydom is besonder in haar skik met die pos as nasionale voorsitter, omdat dit haar die geleentheid bied om klarinetopleiding en -kunstenaars in Suid-Afrika onder die wêreld se aandag te bring.

“Ek moet gereeld artikels oor klarinetprestasies en -geleenthede vir die vereniging se kwartaallikse tydskrif skryf en het reeds een gelewer wat in Augustus verskyn. Daarin het ek sterk gefokus op die Internasionale Klarinetfees wat in Oktober by die OSM aangebied word.”

Op die vraag hoe sy alles gaan behartig, het Strydom gesê: “Ek het buitendien my vinger op die pols van klarinetbedrywighede in die land; hierdie aanstelling gee my nou die geleentheid om dit wyd te verkondig.”

Die Internasionale Klarinetvereniging se doel is om projekte tot voordeel van klarinetspelers te ondersteun. Dit sluit in die uitruil van inligting onder die lede, die bevordering van komposisies, publikasies, opnames en verspreiding van musiek vir die klarinet, en moedig navorsing vir die voortdurende verbetering van die klarinet aan. Die vereniging bied jaarliks ’n klarinetfees aan en gee ook sy samewerking aan ’n navorsingsbiblioteek sodat materiaal aan alle lede beskikbaar gestel kan word.

Strydom, wat sê sy voltooi vanjaar ook haar Ph.D., is tans hard aan die organiseer aan die klarinetfees wat sy as Buffet-kunstenaar van 4 tot 8 Oktober aanbied.

Sy het reeds internasionale hoëprofiel-klarinetspelers van Peru, China en verskeie Europese lande gekry om die fees by te woon.

Meesterklasse, kompetisies en 12 konserte wat kamermusiek, solo-optredes en dié deur ’n klarinetkoor insluit, is deel van die opwindende projek. Dit is ’n eerste in Suid-Afrika.

Strydom is in 2013 as houtblaasdosent aan die OSM aangestel waar sy ’n B.Mus.-graad onder Heinrich Armer verwerf het. Haar vroeë opleiding was aan die Windhoek-konservato­rium in Namibië waar sy grootgeword het.

Vanweë haar prestasies as B.Mus.-student het sy ’n beurs ontvang om aan die Indiana-universiteit se Jacobs-musiekskool in Amerika verder onder die vermaarde Eli Eban en Eric Hoeprich te studeer.

Ná twee jaar daar is sy na die Koninklike Konservatorium in Gent, België, waar sy twee meestersgrade onder die gerekende klarinetmeester Eddy van Oosthuyse verwerf het.

In die sewe jaar wat Strydom in Europa gevestig was, het sy as solis saam met verskeie orkeste opgetree en ’n groot deel van die kamermusiekreperto­rium vir klarinet onder die knie gekry en uitgevoer.

Strydom is net so ernstig oor opleiding as die uitvoerende kuns, wat weer geblyk het in ’n konsert waaraan haar jong leerlinge Sondag deelgeneem het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.