Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
‘Nou moet ons Johnny se droom verwesenlik’

Sy lig het van die begin tot die einde helder geskyn en hy het bly glo in verdraagsaamheid, geregtigheid en liefde as die sleutels tot ’n beter Suid-Afrika. Nou leef Johnny Clegg se boodskap en musiek in ons harte voort. Ons is dit aan hom verskuldig om sy droom te verwesenlik, skryf Christiaan Boonzaier.

Johnny Clegg Foto: Facebook

Sy musiek het die afgelope 40 jaar wêreldwyd opgeklink. Sy boodskap oor verdraagsaamheid, geregtigheid en liefde vir jou medemens klinkklaar daarmee saam.

Nou rus Johnny Clegg sag. Die musiek-ikoon het op 16 Julie sy jare lange stryd teen pankreaskanker verloor. Hy was net 66 jaar oud.

Suid-Afrika en die wêreld rou – oor die man wat sedert kleintyd verby rassegrense gekyk het; oor die “kryger” wat die apartheidsregering met sy musiek uitgedaag het; oor die man wat sy onverbiddelike lig helder in Suid-Afrika se donkerste tyd geskyn het; oor die vriend wat dekades lank op plate, albums en die radio in hul huise kuier; oor ons geliefde, nederige Wit Zoeloe. Ook die Franse se Le Zoulou Blanc, die Duitsers se Der weisse Zulu, die Spanjaarde se El Zulú Blanco.

Tereg ’n ikoon oor die wêreld heen.

En kyk ’n mens terug, staan jy in verwondering oor die pad wat hy gestap het – ’n pad wat deurspek was met spoedhobbels, maar wat hy sonder skroom aangedurf het.

Jonathan Paul Clegg is in 1953 in Engeland gebore en het op die ouderdom van 11 reeds ’n paar jaar in Zimbabwe en Zambië gewoon voordat hy en sy ouers hulle in Johannesburg gevestig het. Daar het hy sy stiefpa, ’n misdaadverslaggewer, soms na townships vergesel, wat die jongeling se horisonne vroeg reeds onmeetbaar verbreed het.

(Clegg se) ma het vertel hoe haar seun 'myle en myle' te voet moes aflê om na sy Zoeloevriende te gaan; die tiener kon nie bestuur nie en kon weens apartheidswetgewing nie busse vir slegs swart passasiers neem nie.

In ’n onderhoud met Murray la Vita op Netwerk24, het Clegg vertel hoe sy pad as 14-jarige met dié van Charlie Mzila, skoonmaker en kitaarspeler, in Yeoville gekruis het. Nadat hy Mzila omgepraat het om vir hom kitaarlesse te gee, het die tiener hom in die Zoeloekultuur verdiep, die taal vlot leer praat, die isishameni-dansstyl bemeester en hartsvriende met sy swart eweknieë geword.

Dit was nie maklik nie. Sy ma het in 1988 in die Sowetan vertel hoe haar seun “myle en myle” te voet moes aflê om na sy Zoeloevriende te gaan; die tiener kon nie bestuur nie en kon weens apartheidswetgewing nie busse vir slegs swart passasiers neem nie. Hy het selfs by die skool stokkies gedraai om die tog af te lê en is op 15 die eerste keer in hegtenis geneem toe hy sonder ’n permit tussen sy swart vriende betrap is. Hy het Sipho Mchunu, ’n tuinier, met wie hy later die musiekgroep Juluka sou stig, ook in dié tyd ook ontmoet.

Ná skool het Clegg hom op die antropologie toegespits en hy was ook ’n dosent by die Universiteit van die Witwatersrand, maar musiek het steeds deur sy are gebruis. In 1978 het hy en Mchunu heeltyds op Juluka gefokus en saam 11 albums uitgereik. Toe hul paaie skei, het Clegg Savuka in 1986 gestig, wat saam vyf albums gemaak het. Hy het ook vier solo-albums agter sy naam.

Sy musiek was heeltemal nuut. Ongehoord. Engels én Zoeloe. Westers én tradisioneel. ’n Musikale metafoor van die eenheid in Suid-Afrika waarna hy gesmag het en waarvan hy sedert sy kinderdae gedroom het. ’n Smorgasbord van albei tale en kulture waarvoor hy tot sy dood toe lief was. Eg hy.

“Ek speel al baie lank tradisionele Zoeloemusiek,” het hy in 1989 aan die Daily Dispatch gesê. “Ek was nog altyd daarin geïnteresseerd om ’n gemeenskaplike platform vir Westerse en Afrika-(musiek)style te kry.”

Dít het hy beslis vermag. Niemand hoef vandag aan die treffers “Scatterlings of Africa”, “Great Heart”, “The Crossing”, “Impi” en die anti-apartheidslied “Asimbonanga”, wat aan onder andere oudpres. Nelson Mandela opgedra is, herinner te word nie.

In die apartheidsera was die prentjie egter anders: Sy blinkste musikale juwele is as sondes afgemaak. Swart en wit is weinig op een verhoog toegelaat. ’n Wit man wat sy tale meng of ’n hele album in Zoeloe opneem? Taboe!

En toe hy boonop sy liedjies as wapens teen die apartheidsregering begin inspan, is sy musiek verban en nie wyd op radio en TV uitgesaai nie.

Volgens die SAUK se eie gegewens is een ná die ander van sy liedjies afgeskiet en verbied: “Talk to the People”, “One (Hu)man One Vote”, “Missing”, “Caravan of Love”, “Asimbonanga”, “I Wasn’t There”, “I’m Gonna Love Somebody Else’s Woman”, “Open Letter to the President”, “The World in Which We Live”.

Volgens die SAUK se eie gegewens is een ná die ander van Clegg se liedjies afgeskiet en verbied: 'Talk to the People', 'One (Hu)man One Vote', 'Missing', 'Caravan of Love' ...

Op ’n konsert vir Amnestie Internasionaal in die Ivoorkus in 1988 het Clegg gesê die SAUK probeer sy politieke beeld “verdoof”.

Maar dit het hom nie ondergekry nie – dit het hom eintlik woema gegee. Hy het met sy stem terugbaklei en volgehou met opvoerings in townships, nedersettings en landelike gebiede, ondanks bomdreigemente en die polisie wat sy opvoerings onderbreek het om hom en sy medemusikante in die tronk te stop.

Dit was belangrik dat hy rasseharmonie en samewerking oor kleurgrense heen op die verhoog uitleef, ’n simbool vir talle daarvan word, bewys dit is moontlik en mooi en die enigste pad vorentoe.

“Hy wou ’n voorbeeld wees van wat Suid-Afrika kon wees,” het die musikant David Kramer in die boek Popular Music Censorship in Africa gesê.

“Die beeld van hom (saam met swart musikante op die verhoog) was wat opwindend was en waar die trefkrag gelê het in wat Johnny doen, ongeag wat hy gesing het.”

Hy het hom ook tot die buiteland gewend, waar sy musiek die praatwerk kliphard gedoen het oor die nood van miljoene in apartheid-Suid-Afrika – ’n boodskap wat wêreldwyd weergalm het en stukkie vir stukkie, liedjie vir liedjie, ’n aandeel daarin gehad het om die outoritêre establishment sonder geweld te verbrokkel.

“Ek wil nie konfrontasie hê nie,” het hy in 1991 in Monte Carlo gesê. “Dit wat ek steun, impliseer ook dit wat ek teenstaan. Ek glo vas dat ’n veelrassige regering gaan ontstaan.”

En so was dit ook.

Clegg het in sy loopbaan talle pryse en eerbewyse ontvang: eredoktorsgrade en -pennings, ’n Grammy-benoeming, ’n Billboard-musiekprys. In 1988 was “Asimbonanga” gewilder op die European Top 100-trefferlys as liedjies deur Whitney Houston, Boy George en Depeche Mode. Hy is in 1991 in Frankryk tot ridder geslaan en het in 2012 die Orde van Ikhamanga (silwer) op eie bodem ontvang.

Maar dit voel steeds nie genoeg nie – nie vir die man wat jare deur sy musiek eenheid en samesyn, vrede en respek in Suid-Afrika aangemoedig en uitgeleef het nie. Weens die haat wat vandag nog om elke hoek en draai gesaai word, bly sy boodskap relevant. Ons is dit nou aan hom verskuldig om sy boodskap voort te dra en na te streef.

As ons dit deur sy musiek aanpak, word sy droom van sy geliefde Suid-Afrika dalk net verwesenlik.

* Bykomende bronne: www.johnnyclegg.com, Beeld, Newsweek, The Star.

Meer oor:  Musiek  |  Johnny Clegg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.