Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Nou sing Stefan Louw vir sy vrou

Die Suid-Afrikaanse operasanger Stefan Louw wil huiskonserte en kleiner konserte met operamusiek hou in ’n poging om geld in te samel vir sy vrou se kankerbehandeling.

Stefan Louw, ’n Suid-Afrikaanse operasanger, en sy vrou, Marisa. Stefan hou kleiner konserte om vir sy vrou se mediese onkoste te betaal nadat kanker onlangs by haar gediagnoseer is.

’n Seldsame en aggressiewe borskanker is einde Julie ná ’n roetine-mammogram by die 45-jarige Marisa (45) gediagnoseer. “Ek het geen simptome gehad nie,” sê dié vryskut-bemarker.

Sy het einde Augustus ’n dubbele mastektomie gehad en begin Vrydag met chemoterapie. Hoewel al die kanker verwyder is en nie versprei het nie, is dit belangrik dat sy steeds dié behandeling kry weens die aggressiewe aard van die spesifieke kanker.

Die siekefonds dek egter nie al Marisa se mediese koste nie.

“Jy voel hulpeloos, want jy weet nie wat om te doen nie. Die onsekerheid is die ergste,” sê Stefan oor die oomblik toe hulle uitvind sy vrou het kanker.

Die egpaar, wat al 21 jaar getroud is, woon die afgelope agt jaar op Parys in die Vrystaat.

Stefan het verlede week besluit om konserte van sowat ’n uur en 15 minute met ligte opera aan te bied om geld vir Marisa se mediese onkoste in te samel.

Die idee is om meer konserte te hou teen ’n fraksie van wat hy gewoonlik sou vra.

“Ek kan dít doen waarin ek goed is en geniet en waarvan mense hou. Dit is my bydrae,” sê Stefan.

“Ons moet oorleef en ek gaan nie dat sy haar rug breek om geld in te kry nie.”

Dié spesiale konserte kos R2 000 plus brandstofgeld. ’n Vol konsert kos gewoonlik tussen R10 000 en R12 000.

“Ek doen vir jou ’n volledige konsert met 25 jaar se ondervinding, maar ek wil die R2 000 op die mediese rekeninge afbetaal.”

Hy sing bekende en ligter operamusiek en gesels tussenin met die gehoor en vertel stories.

“Dit gaan oor die interaksie met mense en om vir mense ’n ligter kant te wys van wat ek doen,” sê Stefan.

Die konserte is meer intiem met gehore van tussen 15 en 100 mense.

Stefan Louw, ’n Suid-Afrikaanse operasanger, en sy vrou, Marisa.

“Ek wil hê die mense daar moet glimlag, selfs al hou hulle nie van operamusiek nie.”

Stefan sê hy sing in enige plek met ’n dak op. Selfs ’n motorhuis kan werk, skerts hy.

Drie konserte word al beplan en hy is positief dat dit vinnig byval sal vind.

“As ek net dit kan regkry, is dit genoeg vir my. Ek voel tevrede dat ek dit vir my vrou kan doen,” sê Stefan.

“Ek wil iets doen om ons situasie en vir haar te help.”

Marisa het egter nie woorde om te beskryf wat dié gebaar van haar man beteken nie.

“Hy tree baie op, maar om te weet dat dit spesiaal vir my is, is baie anders,” sê Marisa.

“Dit is baie spesiaal dat hy ekstra tyd sal insit, buiten al die goed waarmee hy besig is, om geld in te samel.”

http://www.stefanlouw.com

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.