Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Nr. 13 ’n gelukkige nommer vir Corneil in ‘The Voice SA’

Die sangeres en beoordelaar van The Voice SA, Lira, het gesorg vir ’n kinkel in dié sangkompetisie toe sy met ’n reeds vol span in die doodsnikke van ’n oud-Bloemfonteiner se lied besluit het om hom ook by haar span in te sluit.

Corneil Müller in die blinde oudisie op die werklikheidsreeks The Voice SA, wat die kompetisiereëls verander het. Foto: M-Net

Dit is hoe Corneil Müller (32) die gelukkige nommer 13 geword het in ’n span wat gewoonlik uit 12 deelnemers bestaan.

In Sondagaand se uitsending op M-Net het die werklikheidsreeks sy reëls aangepas nadat sy Müller gekies het. Dit ten spyte daarvan dat sy nie meer plek in haar span gehad het nie.

Die organiseerders het egter dié vergunning toegestaan en ook vir die ander beoordelaars ’n ekstra plek op hul span gegee. Ricky Rick, Riana Nel en Francois van Coke neem nou ook 13 sangers na die volgende ronde.

“Ek was geweldig angstig in daardie oomblik, want dit was al hoe nader aan die einde van die liedjie en ek het besef niemand draai sy stoel om na my nie (’n aanduiding dat die beoordelaar iemand kies).

“En toe sy op daardie laaste noot draai . . . dit het ’n bietjie soos ’n oorwinning gevoel,” sê Müller, wat met sy blinde oudisie “Anthem” uit die musiekspel Chess gesing het.

Dié vryskutkunstenaar en projekbestuurder by die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi) was aanvanklik nie bewus van wat gebeur het nadat Lira haar stoel omgedraai het nie. Müller kon die emosie en lyftaal sien, maar kon nie hoor wat die beoordelaars sê totdat Lira gesê het sy “mag dit nie doen nie” (om nog ’n lid vir haar span te kies nie).

Toe hy hoor dat sy nie nog ’n lid mag kies nie, was hy bereid om dit te aanvaar en huis toe te gaan, sê hy.

Hy was geweldig opgewonde toe hy hoor dat die reëls verander is sodat hy wel nog in Lira se span opgeneem kon word.

“Ek kan met alle eerlikheid sê dit is ’n geweldige voorreg dat sy die kans gewaag het om my te kies.”

Müller, wat in Somerset-Wes in die Wes-Kaap woon, het in Bloemfontein grootgeword. Hy het begin 2018 uit die Rosestad getrek.

Dit is die eerste keer dat hy aan ’n sangkompetisie deelneem. Hy is nie “regtig ’n kompeterende mens nie”.

Die sanger en tjellis se genre is klassiek-cross-over.

Müller het van sewejarige ouderdom tot matriek by Arend Brink, tjellis en stigter van Arco Musica, tjello-klasse geneem.

Dié oud-Grey se sangloopbaan het begin toe hy 17 was. Hy het sanglesse by Yvette Schoeman geneem.

Hy en Caroline-Grace Brüssow, wat in 2017 die topvier in die kompetisie gehaal het, ken mekaar sedert hul skooljare. Müller en Brüssow het gereeld tydens en ná hul universiteitsdae saam opgetree. Hy het bemarkingskommunikasie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) gestudeer.

Sy ouers woon nog in Bloemfontein. Hy het sy liefde vir die verhoog by sy ma, Petro, gekry wat die gesin aan ’n verskeidenheid verhoogproduksies en kunstenaars blootgestel het. Sy het haar eie drama-ateljee.

Sy pa, Riaan, was dekades lank ’n dosent in fisiologie en anatomie aan die UV. Sy suster, Rozaan (20), studeer vir ’n B Com-graad in bedryfsielkunde aan die Universiteit Stellenbosch.

Müller sê hy hunker nog daagliks na die mense van Bloemfontein.

“Bloemfontein se mense is enigmaties, dis mense wat jy vir die res van jou lewe saam met jou sal dra.”

  • Dié werklikheidsreeks word Sondae om 17:30 op M-Net, kanaal 101, uitgesaai en Maandae 20:00 op Vuzu, kanaal 116, herhaal.
Kinkel ‘was nie beplan’

Lani Lombard, M-Net se publisiteitshoof, sê die organiseerders se besluit om die reëls te verander was die beste besluit onder die omstandighede, en Müller het geen beheer daaroor gehad nie.

“The Voice SA is ’n positiewe program wat die belange van die talent wat deelneem op die hart dra.”

Lombard sê dié kinkel was nie beplan nie. “Wat kykers Sondagaand in ’n baie kort tydjie sien afspeel het, het wel ’n klein bietjie langer in die ateljee geneem om uit te klaar.”

Volgens Lombard was daar “gelukkig” ’n verteenwoordiger van die internasionale formaathouer van die reeks, Talpa, in die ateljee. Talpa moet enige verandering aan die formaat goedkeur.

“Dit was beslis goeie nuus vir vier deelnemers wat andersins nie die geleentheid sou hê om deur vier van die land se beste muso’s gementor te word nie,” sê Lombard oor die besluit.

Afrigters moes egter meer van hul tyd vir afrigting beskikbaar stel en ’n ekstra episode is by die reeks gevoeg.

Meer oor:  The Voice  |  Realiteitsreeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.