Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Nuwe Afrikaanse kunsliedere op album uitgereik
Franco Prinsloo Foto: Alet Pretorius

’n Ryk en omvangryke skatkis van bestaande Afrikaanse kunsliedere is onlangs met nog liedere op die digitale album Nagliedjies aangevul.

Die album is eintlik die soveelste op die Pretoriase komponis Franco Prinsloo (32) se kerfstok nadat hy vroeër ook gedigte van W.E.G. Louw en Elisabeth Eybers getoonset het en dit op albums soos Nokturnes en Noodluik uitgereik het.

Op sy jongste album het Prinsloo hom weer tot Louw se skryfwerk gewend en dit saam met gedigte van N.P. van Wyk Louw en Breyten Breytenbach in kunsliedere omskep. Oor die eindproduk, sê Prinsloo, is hy “baie, baie opgewonde”.

“Die album bestaan uit ses Afrikaanse kunsliedere waarvan drie ’n siklus met die naam ‘Nagliedjies’ is. Dit is gegrond op drie verse deur W.E.G. Louw wat as ‘volkspoësie’ beskou kan word. Ek het hierdie ‘volkselement’ in my komposisies probeer behou – iets wat die eenvoud van ’n volksliedjie met meer uitdrukkingsvolle, kontemporêre harmonie aanvul.

“Verder is daar nog ’n toonsetting van Louw, wat ‘Stil aand’ heet, asook ’n toonsetting van N.P. van Wyk Louw se gedig ‘By alle skone dinge’.

“My gunstelingsnit op die album is ‘Mag die bome groen bly’, ’n toonsetting van Breytenbach se baie bekende gedig ‘26 November 1975’, wat ek saam met Netanja Brink geskryf het.”

Hoewel Prinsloo die toonsettings lank reeds voltooi het, het hy onlangs eers die idee vir die album bedink nadat hy Dit kom van ver af, ’n album met volksliedjies wat deur Chris Lamprecht opgeteken en verwerk is, gehoor het. Die sopraan Renette Bouwer, wat die liedjies op dié album sing, het Prinsloo uitgeboul.

Die kunswerk op ‘Nagliedjies’ se albumomslag is ontwerp deur JP Hanekom.

“Veral haar fenomenale weergawe van ‘Aan die noordweste’ het my liries gelaat,” sê hy.

“Renette is natuurlik een van ons land se wonderlikste solo-stemme. Haar helderheid en ongekompliseerde, natuurlike klankproduksie pas perfek by die musiek.

“Ek het haar toe tydens die inperking gekontak en gesels oor die moontlikheid om die liedere op Nagliedjies op te neem.”

Die album is een van talle mylpale op ’n musiekreis wat die jong komponis reeds van kindsbeen af onderneem. Prinsloo, oorspronklik van Middelburg in Mpumalanga, het sy eerste toonsetting – van N.P. van Wyk Louw se “Nagliedjie” – reeds op 16 voltooi en toe musiek as loopbaan nagejaag omdat dit “nog altyd deel van my bestaan was”.

Sedert sy studies in musiek aan die Noordwes-Universiteit vestig hy hom as opwindende en opkomende komponis vir veral stem en koor, wat spruit uit die dae toe hy self in onder meer die Mpumalanga-jeugkoor en die NWU-Puk-koor onder leiding van prof. Awie van Wyk gesing het.

“Ek is mal daaroor om vir die stem te komponeer – daarom my vele vokale en koorwerke,” sê Prinsloo, wat ook dirigent van die Vox Chamber Choir is.

“Die Afrikaanse taal het ’n wonderlike, ryk kunsliedskat – ek hoop ek kan met hierdie versameling (die album Nagliedjies) iets tot hierdie tradisie bydra.

“Komponiste soos S. Le Roux Marais, Arnold van Wyk en Pieter de Villiers, om net ’n paar te noem, het wonderlike kunsliedere in Afrikaans gekomponeer, wat my sterk beïnvloed het. Ek het met hierdie musiek grootgeword.

“Daar is natuurlik ook kontemporêre komponiste wat wonderlike Afrikaanse kunsliedere komponeer, soos Martin Watt, Niel van der Watt en Pieter Bezuidenhout.”

Prinsloo komponeer benewens werk vir stem ook komposisies vir solo-instrumente, kamermusiek, orkesmusiek, musiekteater en kunsuitstallings. Fliekgangers sou ook al sy klankbane in die rolprente Wonderlus en die meer onlangse Meisies wat fluit gehoor het.

“Dit is natuurlik ’n geweldige moeilike bedryf om ’n lewe van te maak – en boonop maak die pandemie dit hoegenaamd nie makliker nie,” sê hy.

“Ek is nogtans positief oor nuwe musiek in Suid-Afrika. Ons plaaslike kore ondersteun Suid-Afrikaanse komponiste geweldig. Kore laat jaarliks vele komponiste nuwe werke komponeer en hou eintlik daardie deel van die bedryf baie lewendig.”

Nagliedjies is reeds aanlyn uitgereik en is onder meer op Spotify, Apple Music, Google Music, YouTube Music, Deezer en Shazam beskikbaar.

Meer oor:  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.