Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Ochse word met konsert vereer

Die musiekdoyen Derek Ochse word vandeesweek met ’n konsert deur die Odeion Skool vir Musiek (OSM) in herinnering geroep in navolging van jaarlikse gedenkkonserte vir die klavierdosent Nettie Immelman en dirigent Arnold Bosman. Ochse is vanjaar op 4 Maart oorlede.

Sharon de Kock
Anmari van der Westhuizen

Die kunstenaars wat in dié spesiale konsert sal optree, is Sharon de Kock, tweede violis in die Odeion-strykkwartet, ’n ensemble wat Ochse gestig het, en Nicol Viljoen, vorige artistieke hoof van die OSM.

Michael Haller, ’n tjellis wat byna twee dekades saam met Ochse in die kwartet gespeel het, Anmari van der Westhuizen wat Ochse as dirigent van die Odeion Sinfonia opgevolg het, en Jan Beukes, jare lange musiekkollega en tans hoof van die OSM, sal ook optree.

De Kock en Viljoen speel Mozart se Vioolsonate in E mineur, K.304 en Haller en Viljoen Beethoven se Tjellosonate nr. 3 in A majeur, op. 69.

Van der Westhuizen (tjello) en Beukes (orrel) sal Höller se Improvisationen über das geistliche Volkslied Schönster Herr Jesuop. 55 uitvoer.

Ochse se musiekloopbaan het in Rustenburg begin waar hy grootgeword het en waarheen hy ná sy oorsese studie teruggekeer het.

In 1979 het Bloemfontein die legendariese musikus ryker geword toe hy by die OSM aangestel is waar hy diep spore getrap het as viooldosent, leier van die Vrystaatse Simfonie-orkes en fenomenale konsert-organiseerder.

Ochse sal altyd onthou word as stigter van verskeie entiteite – die Consortium Musicum (ongelukkig ontbind), die UV-klavierkwartet wat met die Odeion-strykkwartet vervang is, die Odeion Sinfonia, die Ou Presidensie-konsertstigting en die Odeion Musik Fest.

Ná sy aftrede in 1999 het hy nog 25 jaar lank ’n aktiewe en invloedryke rol in die plaaslike musieklewe gespeel.

Viljoen sê: “Ons onthou Derek Ochse as ’n soort Menuhin-figuur en gedenk met die konsert sy onmeetbare bydrae tot musiek. Ons gee ook erkenning aan sy vrou, Anne Ochse, vir haar onwrikbare steun deur die jare.”

  • Ochse-konsert: 8 September om 19:30 in die Odeion-teater, Kovsiekampus. Toegang is gratis.

Meer oor:  Elretha Britz
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.