Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Odeion-ensemble bied ‘Viva Vivaldi’ aan
Die musici wat in Viva Vivaldi optree, is agter, van links, Heinrich Lategan, Ilané van Wyk, Tilla Henkins, Renée Ferreira, Asta Budack, Elspeth Neary, Lourie Coetzee en Lance Phillip. Voor is Johan Ferreira, Francois Henkins, Brahm Henkins, Petrus Krige en Maretha Krige.

Onder die solo-concerto’s, concerto’s vir meer as een instrument en ’n werk vir koor en kamerorkes in die Odeion Barok-ensemble se Viva Vivaldi-program, is ’n insiggewende aanbieding van dié Italiaanse komponis se Vier seisoene (Le quattro stagioni).

Petrus Krige, leier van die Barok-ensemble, meen hoewel die werk waarskynlik oorbekend is, sal die musiek nog beter verstaan word met die teks wat oorhoofs geprojekteer sal word.

“Dele uit die sonnette, vermoedelik deur Vivaldi self geskryf, sal met sekere dele in die musiek ooreenstem sodat die luisteraar sal weet hoe die koue windjie klink wat deur skrefies waai, of die winterstorms aangebring deur die noordewind, die gekabbel van ’n stroompie, voëlgesang of ’n skaapwagter en sy blaffende hond. Daar is ook dronk dansers, jaggeselskappe en skote wat klap.”

Om reg te laat geskied aan die geweerskote het Krige besluit om ’n Barok-timpani by die ensemble te voeg waarvoor hy musiek geskryf het. Vivaldi het die Vier seisoene, wat bestaan uit vier concerto’s vir soloviool, net vir strykinstrumente gekomponeer.

Benewens die solo-concerto’s vir viool (Francois Henkins), blokfluit (Krige) en hobo (Johan Ferreira), sal Tilla Henkins (tjello) en Brahm Henkins (fagot) ook Vivaldi se Dubbel-concerto in G mineur uitvoer.

Krige sê ’n besonder sprankelende werk op die program is die Concerto in D majeur vir vier solo-instrumente – viool, blokfluit, hobo en fagot. In die Baroktyd is die musiek nie vir spesifieke instrumente geskryf nie, wat meegebring het dat enige instrument kon saam speel. Krige het dié gebruik nagevolg en ’n part vir die sopranino-blokfluit bygevoeg, gespeel deur Renée Ferreira, ’n musiekstudent wat in blokfluitspel spesialiseer.

Die Cathedral Singers en cantando@bloem vorm die koor en sal in vier werke saam met ’n kamerorkes optree. Hulle sing onder meer Domine en die immergroen Gloria. Lance Phillip is die dirigent.

Soos in die Baroktyd sal die musici in die konsert ook om die klavesimbel plaasneem. Krige het seker gemaak al 13 instrumentaliste speel in al die werke deur parte te skryf waar dit kortgekom het.

Die konsert word opgedra aan Kobus Malan, wat vanjaar om gesondheidsredes uitgetree het. Malan is ’n hobo- en blokfluitspeler van Kimberley wat sowat 30 jaar lank nie net in Barokkonserte opgetree het nie, maar dikwels ook die leiding geneem het. Hy was ook dekades lank die hoofhobospeler in die Vrystaatse Simfonieorkes (FSSO).

Krige neem met dié “laaste formele konsert” self afskeid van Bloemfontein se musiekpubliek en sluit hiermee ook ’n dekades lange loopbaan af.

Krige sê hy gaan sy aftrede tussen Hentiesbaai in Namibië en Bloemfontein verdeel.* 28 November om 19:30 in die Odeionteater, UV-kampus. Die kaartjies kos tussen R50 en R130 by Computicket.

Meer oor:  Musiek  |  Odeion-Strykkwartet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.