Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Odeion nóg ’n virtuoos ryker
Albertus Engelbrecht, nuut aangestelde sangdosent aan die Odeion Skool vir Musiek in Bloemfontein. Hy kan op 18 en 19 November in Karl Jenkins se Kersfeesproduksie Stella Natalis gehoor word.

Dit was verlange wat Albertus Engelbrecht teruggebring het na Suid-Afrika, verlange na sy land en sy mense. En ná vier maande hier kan hy eerlik sê hy het nog nie een dag sy besluit berou nie en Europa nog nie een dag gemis nie, ondanks moeilike tye hier.

So gesels dié nuwe sangdosent aan die Odeion Skool vir Musiek (OSM) in Bloemfontein. Hy is aangestel in die plek van Peet van Heerden, sy sangdosent wat afgetree het. Engelbrecht het aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer en twee jaar gelede ’n M.Mus. verwerf.

Engelbrecht, ’n liriese tenoor, kan volgende naweek as solis in Stella Natalis gehoor word, Karl Jenkins se Kersfeeswerk vir koor, soliste en orkes. Die mezzosopraan Teresa de Wit deel die solodele met hom.

“Ek wou altyd graag onderrig gee en het gedink dit sal goed wees om my ondervinding met die opleiding van ons land se sangers te deel. Die laaste oortuiging was die wonderlike stemme wat ek hier in Bloemfontein gehoor het. Hier is so baie talent, ek sal dalk een van die dae hulp moet kry.”

In Engelbrecht se klaskamer is ’n blink vleuelklavier wat hy dikwels self bespeel – hy het ook klavier as eerste instrument vir sy B.Mus-graad aangebied – maar meestal is die begeleier Cézarre Strydom voor die klawers.

Engelbrecht vertel van sy visie om die OSM se sangafdeling tot een van die bestes in die land te ontwikkel. “Ek wil volgende jaar reeds ’n opera of operette én ’n oratorium op die planke bring wat ’n jaarlikse instelling sal wees.”

En ja, natuurlik sal hy self ook wil sing. Hy sien veral uit na die vryheid om sy keuse van musiek uit te oefen. Kunsliedere, sê hy vinnig, dit is sy voorkeur.

Hy het sy loopbaan as konsertsanger begin, maar in Europa was opera later sy voorland. Daarin was hy nietemin so knap dat die Landestheater
Niederbayern in Passau hom nie wou laat gaan nie.

“Ek het ses maande later by die OSM ingeval as wat ek moes, omdat die operahoof daarop aangedring het dat ek en niemand anders nie die rol van Vermont in ‘Die Entführung aus dem Serail’ van Mozart moes sing.”

Eers ná die speelvak kon dié liriese tenoor sy tasse pak en 17 vrugbare jare in Europa vaarwel roep.

Vroeë loopbaan

Engelbrecht, wat op ’n plaas naby Vredendal grootgeword het, het hom ná sy musiekstudie aan die US en ’n jaar aan die destydse Pretoria Technikon se operaskool as ’n konsertsanger gevestig. Hy het kunslieduitvoerings gegee en as solis in onder meer Bach se Kersfees-oratorium, Handel se Messias en Mozart se geliefde Requiem opgetree.

In Duitsland het hy aanvanklik met dié genre volgehou en in al Bach se belangrikste passies in Berlyn, Mainz, Frankfurt en Nuremberg gesing.

Toe hy ’n aanstelling aan die Neurenberg-staatsteater kry, het hy in groter produksies opgetree, maar in rolle gepas vir sy tenoorstem, soos Medoro in Orlando Furioso van Vivaldi, Evandro in Alceste van Gluck en Bastien in Mozart se Bastien und Bastienne.

Landestheater Niederbayern

Engelbrecht was sowat agt jaar verbonde aan dié teater in Passau waar hy luidens ’n berig in die Passauer Neue Presse die konsertgangers se liefling was.

In die koerantberig en in die pas afgelope onderhoud het hy erken hy sal dalk die verhoog mis, maar ná 30 rolle en 80 produksies per jaar glo hy tog het hy sy kant gebring.

In Passau het hy meestal in Barok-operas van Monteverdi, Handel en Gluck opgetree en dié van Mozart uit die klassieke era, maar tussenin was daar tog ook rolle in operas van Verdi, Rossini en Johann Strauss.

Van 2004 tot sy laaste maand in Duitsland het hy ’n sangateljee gehad waar hy tersiêre studente en professionele sangers onderrig het, en akteurs met stemafrigting gehelp het.

  • Dié beskeie sanger, wat hom ook op verhoë in Amerika en Switserland laat geld het, sê saam met lesgee, produksies en eie optredes wil hy volgende jaar boonop ’n Ph.D. (met ’n praktiese komponent) aanpak.Stella Natalis word onder leiding van Leona Geldenhuys uitgevoer deur ’n vergrote Alumni Voices-koor en ’n orkes met sterk trompet en perkussie-elemente. Dit is op 18 en 19 November om 19:30 in die Odeion-teater op die Kovsiekampus. Kaartjies kos R80, R100 en R120 by Computicket.
Meer oor:  Elretha Britz  |  Bloemfontein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.