Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Odeion-strykkwartet het groter doel met nuwe CD

Die Odeion-strykkwartet se nuutste CD, Colours of the Free State, gaan nie net om nog ’n CD op hul kerfstok te voeg nie, dit gaan veral om die dokumentering van strykkwartetmusiek deur Suid-Afrikaanse komponiste.

Die Odeion-strykkwartet: Van links is Jeanne-Louise Moolman (altviool), Anmari van der Westhuizen (tjello), Sharon de Kock (viool) en Samson Diamond (viool).

“As ons nie so ’n argief opbou nie, wie anders sal?” sê Anmari van der Westhuizen, bestuurder en tjellis van dié enigste inwonende strykkwartet in die land. Die kwartet is gesetel in die Odeion Skool vir Musiek (OSM) aan die Universiteit van die Vrystaat (UV).

Drie werke van altesaam 50 minute is vir die CD opgeneem – Komeng deur Mokale Koapeng, Suite for String Quartet deur Nadia Burgess en String Quartet no. 1 van die Kaapstadse komponis Allan Stephenson.

Van der Westhuizen sê hulle het op dié werke besluit omdat dit geensins avant garde musiek is nie, maar “hoogs toeganklik en lekker luistermusiek”.

“Dit is ook van ons land se musiekskatte waarvan nie baie mense weet nie.”

Burgess (gebore Lindemann) het in Bloemfontein grootgeword en musiek aan die UV studeer voordat sy in 1983 na Australië geëmigreer en haar in Sydney gevestig het. Benewens optredes as pianis en begeleier het sy jazz aan die Sydney Conservatorium of Music studeer en haar van 2003 op komposisie toegelê. In 2015 het sy ’n PhD in komposisie verwerf.

Die suite op die CD is ’n kleurryke weergawe van Burgess se herinneringe aan Suid-Afrika. Die eerste deel, “Colours of the Cape”, is ’n klankryke “beskrywing” van Kaapstad. Elemente van Afrika-koormusiek en Nederlandse volksmusiek klink op in die kontemporêre westerse kunsmusiek.

Die tweede deel, “The Fountain, Family, Friends and Freedom”, weerspieël deur rock-elemente haar herinneringe aan Bloemfontein.

“Petronella”, die derde deel, is improvisatories en opgedra aan ’n liefdevolle familielid.

Die suite sluit af met “Wild Sabie”, die rivier wat deur die Krugerwildtuin vloei en Burgess se gedagtes na besoeke aan die wildreservaat terugvoer. Die klanke van tradisionele Afrika-instrumente soos ’n tuisgemaakte fluit, vingerklavier en xilofoon kan gehoor word.

Die omslag van die Odeion-strykkwartet se nuutste CD.

Die Odeion-kwartet het Stephenson se strykkwartet reeds op meer as een geleentheid uitgevoer, onder meer op die Klein-Karoo Kunstefees en verlede jaar met Stephenson se 70ste verjaardag waarvoor hy na Bloemfontein gereis het.

Dié komponis was teenwoordig toe die kwartet die suite opgeneem het en was ook die vervaardiger van die CD.

Die werk bestaan uit die konvensionele vier dele – ’n energieke eerste deel, gevolg deur ’n warm liriese tweede deel, daarna ’n scherzo en sluit af met ’n lewendige en luide finale.

In Komeng, die eerste werk op Colours of the Free State, verken die komponis Mokale Koapeng die tegnieke en botone van die tradisionele uhadi-strykinstrument op ’n besonder kleurryke wyse.

Die Odeion-kwartet se vorige CD, Bits and Pieces, is in 2014 uitgereik en in 1999 het ’n album met Hubert du Plessis se String Quartet, op. 13 en Stefans Grové se Strykkwartet verskyn. Die kwartet het toe uit Derek Ochse, Abrie de Wet, John Wille en Michael Haller bestaan.

Die huidige Odeion-kwartet het egter al talle strykkwartette deur Suid-Afrikaanse komponiste uitgevoer, onder andere van Hendrik Hofmeyr, Bongani Ndodana-Breen en Arthur Feder.

Van der Westhuizen sê talle plaaslike strykkwartette is egter nog onaangeraak as daar in ag geneem word dat minstens 75 Suid-Afrikaanse komponiste reeds werke vir dié strykerkombinasie die lig laat sien het. Die violis Suzanne Martens het op dié getal komponiste afgekom toe sy vir haar doktorsgraad ’n katalogus saamgestel het van strykkwartette wat van 1940 tot 2016 verskyn het.

  • Colours of the Free State kan bestel word van Michelle Horn by HetzelM@ufs.ac.za. Dit kos R150 en R200 as dit gepos word.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.