Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Odeion-strykkwartet kies unieke werke vir konsert
Sharon de Kock, Samson Diamond, Jeanne-Louise Moolman en Anmari van der Westhuizen van die Odeion-strykkwartet. Dié inwonende kwartet aan die Universiteit van die Vrystaat is die enigste in die land.

Die Odeion-strykkwartet is vir die musiekwêreld soos Karla Pretorius vir netbal. Hulle is pryswenners, speel op wêreldverhoë, is soos ou wyn wat net al hoe beter word en vir albei is Bloemfontein hul tuiste.

Soos ook Wayde van Niekerk, Coenie de Villiers en talle ander toonaangewende skrywers, kunstenaars en sportlui van dié stad is hulle “profete” om in eie land geëer te word.

Die strykkwartet het onlangs die Akademie vir Wetenskap en Kuns se Huberte Rupert-prys by sy lang lys van prestasies gevoeg, ’n verering wat nie net die ensemble se hoë spelpeil geld nie, maar ook die premie wat hulle op onderrig en uitreikwerk plaas. Dit is boonop die eerste keer dat die prys aan ’n groep toegeken is.

Vir hul jaarlikse kwartetkonsert (sonder genooide musici) het die kwartet drie besondere werke uitgesoek. Die aand begin met ’n strykkwartet van Schubert, een van die mees bedrewe kamermusiekkomponiste, daarna volg ’n werk van die Switsers gebore Amerikaanse komponis Ernest Bloch en laastens musiek van Alexander Borodin, ’n voorste Russiese chemikus wat deeltyds gekomponeer het.

Uit Schubert se 15 strykkwartette het hulle die Strykkwartet nr. 13 in A mineur (Rosamunde) gekies, die enigste strykkwartet wat in Schubert se leeftyd gepubliseer is.

Sy eerste beweging weerspieël die moeilike tyd waarin die komponis hom bevind het. Hy het gely aan ’n siekte wat die dood nader gewink het en sy armoede het nie einde geken nie.

In die tweede beweging verander ’n bekoorlike melodie egter die stemming. Dié melodie het Schubert uit sy Rosamunde-programmusiek gehaal, vandaar dan ook die kwartet se bynaam. Tipies Schubert eindig die werk op ’n vrolike noot met boeredansmusiek en elemente van sigeunerklanke, waaronder die skerpsinnige luisteraar tog ’n sweempie weemoed sal bespeur.

Bloch is bekend vir Joodse kulturele en liturgiese temas, maar ook Europese post-romantiese tradisies. In sy Strykkwartet B.61 (Night) wyk hy af van die gebruiklike Joods-geïnspireerde musiek en wend hom na die natuur as bron. ’n Stadige eteriese komposisie weerspieël sy liefde vir die natuur.

Borodin het weer sy Strykkwartet nr. 2 in D majeur gebruik om sy liefde vir sy vrou, Ekaterina, te verklaar. Hy het dit vir hul 20ste huweliksherdenking geskryf en aan haar opgedra.

Benewens chemikus en komponis was Borodin ’n amateur-tjellis en in die werk gebruik hy die tjello om hom te verteenwoordig en die viool sy vrou. Namate die werk verloop en die dialoog tussen tjello en viool vorder, “verdiep” hul liefde vir mekaar totdat dit met ’n gelukkige, uitbundige klankgegewe eindig. Volgens geskiedskrywers is die werk ’n ongeëwenaarde “liefdesverklaring”.

Die derde beweging, ’n lieflike nokturne wat die hart van die kwartet is, is Borodin se bekendste komposisie.

Samson Diamond (eerste viool), Sharon de Kock (tweede viool), Jeanne-Louise Moolman (altviool) en Anmari van der Westhuizen (tjello) tree gereeld elders in die land op en het ook al buitelandse toere onderneem na Oostenryk, België, Duitsland, Switserland en Brittanje.

Hulle word gereeld na die internasionale musiekfees in Bulawayo, Zimbabwe, genooi en het ook leiding gegee toe ’n Tanzaniese simfonieorkes in Dar-es-Salaam opgetree het.* 29 Augustus om 19:30 in die Odeion-teater, UV-kampus. Die kaartjies kos R50 tot R130 by Computicket.

Meer oor:  Musiek  |  Bloemfontein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.