Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Odeion-strykkwartet pak moeilike Beethoven-werke aan
Die Odeion-strykkwartet. Van links is Anmari van der Westhuizen (tjello), Samson Diamond (eerste viool), Jeanne-Louise Moolman (altviool) en Sharon de Kock (tweede viool).

Dit sal onvergeeflik wees om nie ’n bydrae tot die Beethoven-jaar te lewer nie, sê die tjellis Anmari van der Westhuizen oor die Odeion-strykkwartet se eerste konsert vanjaar in Bloemfontein, wat ten volle aan dié kolos van ’n komponis gewy word.

Beethoven se 250ste verjaardag (hy is in 1770 gebore) word vanjaar wêreldwyd gevier.

“Ons het wel vroeg vanjaar al ’n Beethoven-kwartet gespeel – in Johannesburg op die Internasionale Mozart-fees, van alle dinge.”

Maar die werke wat die Odeion-kwartet vir hul Bloemfontein-program gekies het, sit nie in enige ensemble se broek nie. Die grootste deel van die program, getitel Of Triumph and Tribulation, sal hulle ook in Maart op die Toyota US Woordfees uitvoer.

Die gekose werke kom uit drie van Beethoven se ses laat strykkwartette, musiek wat dekades lank as “vreemd, moeilik en afwykend” bestempel is.

Volgens Samson Diamond, die Odeion-strykkwartet se eerste violis, is die musiek beskryf as “die werk van ’n eens geëerde komponis wat aan die einde van sy lewe doof en kens geword het”.

Van der Westhuizen sê “die musiek is inderdaad ’n uitdaging vir enige kwartet en verg ook energie, stamina en geweldige konsentrasie. ’n Mens kan nie toelaat dat jou gedagtes ’n oomblik dwaal nie.”

Die eerste werk op die program vir Bloemfontein is net die stadige deel (molto adagio) uit Beethoven se Strykkwartet nr. 15 in A mineur, op. 132. Beethoven het dit in 1825 geskryf, kort nadat hy ernstig siek was en het dit as sy “dankgebed” beskryf.

Dit duur 20 minute en is volgens Van der Westhuizen “verskriklike mooi musiek”.

Ná ’n kort pouse van tien minute sal die Strykkwartet nr. 13 in B-mol majeur, op. 130, volg.

Dié werk het oorspronklik uit ses dele bestaan (teenoor die gebruiklike vier), waarvan die laaste deel Beethoven se bekende Große Fuge was.

Die uitgewer het egter gevoel die fuga is gans te lank en hopeloos te veel vir die gehoor om aan die einde in te neem. Hy het voorgestel dat Beethoven ’n ander finale (laaste deel) ligter van aard skryf.

Dit was die laaste stuk musiek wat uit dié meester se kreatiewe pen gevloei het. Hy het dit in November 1826 voltooi en in Maart 1827 is hy dood.

Die Große Fuge waarmee die Odeion-kwartet die aand sal afsluit, word beskryf as “grootse artistieke uitdrukking in die aansig van dreigende chaos”.

Dit is in 1827 as ’n afsonderlike werk uitgegee met die titel Große Fuge, op. 133.

Die Odeion-kwartet tree op die Toyota US Woordfees op met die Strykkwartet nr. 13 in B-mol majeur, op. 130, opgevolg met as slotdeel die Große Fuge.

  • 27 Februarie om 19:30, Odeionteater, UV-kampus. Die kaartjies kos van R50 tot R140 by Computicket.
  • 10 Maart om 16:00, kykNET Fismer-saal, Stellenbosch. Die kaartjies kos R140 en R160 by Computicket en R180 by die deur.
Meer oor:  Woordfees2020  |  Woordfees  |  Musiek  |  Klassieke Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.