Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
‘Ons almal het nodig om soms te ontsnap’

Dis pikdonker op die verhoog in die Theatre of Marcellus by Emperors Palace en mens kan ’n speld hoor val. Wanneer die ligte skielik aangaan, hoor mens duidelik mense in die gehoor na hul asems snak, want voor hulle staan Nataniël in ’n groteske kostuum wat soos iets tussen ’n Chinese draak en huis lyk?.?.?. Terésa Coetzee vertel meer. 

Meters en meters materiaal is in Parys aangekoop vir When Giants Waltz, Nataniël se nuwe vertoning by Emperors Palace. Foto:

Dis weer tyd vir sy jaarlikse extravaganza wat by Emperors Palace plaasvind en tot 27 Oktober bied Nataniël en sy span 12 vertonings aan van die produksie When Giants Waltz in die Theatre of Marcellus soos net hy dit kan doen.

Daar is seker nie ’n ding wat Nataniël nie al gedoen het nie – hy skryf, sing, bied televisieprogramme aan, maak kos, vertel stories, werk soms as stemkunstenaar en tussendeur het hy sommer sy eie produkte ook bekend gestel en begin verkoop.

Hy is lag-lag een van die bekendste sterre in ons land wat eiehandig vir hom ’n persona geskep het wat aanhangers trek net waar hy gaan.

Soos al die vorige jare kan teatergangers by Emperors verwag om meegevoer te word na ’n magiese wonderwêreld van groteske kostuums waar meters en meters lap om fabelagtige draadkonstruksies, hout, papier en plastiek in towertabberds omskep is. Slim beligting en dekor word daarmee saam gebruik om jou na sy eie wonderwêreld toe te dwing.

“Jy weet natuurlik jy sal vol sale trek sonder om so ’n vreeslike gedoente aanmekaar te sit,” sê ek vir Nataniël tydens ontbyt in die presidensiële suite by D’Oreal by Emperors Palace.

“Ek weet ja. Maar dis nie waaroor dit gaan nie. Daar is heeltemal te min fantasie in ons doodgewone wêrelde. Ons almal het nodig om soms te ontsnap en net weg te kom van die alledaagse.

“Ek wil mense meevoer en betower. Ek wil hê hulle moet weet ek het alles gedoen wat moontlik is om ’n wonderwêreld te skep en dat geen moeite ontsien is nie. Dis tog waarvoor teater op die ou end daar is,” sê hy.

“En as ek nie aan iets soos hierdie show werk nie, sal ek verseker van boredom doodgaan. Onthou, ek is ’n ou Victorian op die verhoog. Daar is geen magic meer in die movies nie, want alles is moontlik in flieks danksy rekenaars.

“Daar is geen loopbaan of lewe vir my sonder velvet en Velcro nie. Ek is mal oor die kreatiewe proses elke jaar as ek aan hierdie een groot konsert werk.”

Daar is bitter min ander verhoë wat ’n vertoning soos When Giants Waltz kan huisves en Nataniël vertel hy het eenkeer ’n jaar die geleentheid om regtig groot te gaan. En dan gaan hy régtig groot.

“Al die lap vir die show het ek in Frankryk gaan koop. My bene is gekrap en potblou net van die rehearsals, maar ek doen dit ter wille van die show en die mense wat geld betaal vir ’n kaartjie, nugter bly omdat hulle moet bestuur al die pad Emperors toe en hul selfone vir 90 minute in die teater afsit. Jirre, anders kan ek mos net sowel ook net iemand gewees het wat op ’n boot sing vir ’n lewe,” sê hy.

“Jy kan mos nie ’n show oor reuse hou en dan lyk jy of jy die wardrobe by jou naaste mall gaan koop het nie!

Ter wille van die gehoor

Volgens Nataniël was mense nog nooit so negatief en depressief en kwaad en gespanne soos nou nie. Almal is bang hulle grond word van hul weggevat en die een gesin emigreer ná die ander.

“Hierdie show is ’n handleiding hoe jy hier kan bly en in ’n bubble kan leef. Ek is die meester van hoe om in ’n bubble te leef, dit is moontlik om jou af te sny van al die negatiwiteit daarbuite,” sê hy.

Die vertoning gaan oor reuse, want elkeen van ons wil eintlik ’n reus uit eie reg wees, omdat ons daarvan droom om iets sinvol agter te laat.

“My ouma het altyd gesê as iemand iets doen waarvoor hy nie bedoel is nie, suffer iemand anders as gevolg daarvan,” sê hy.

Heel eerste novelle

Nataniël. Foto:

Buiten die vertoning by Emperors, het Nataniël ook onlangs sy heel eerste ernstige novelle, Kyk na my, uitgereik.

Die boek handel oor sy kinderjare en soos hy gesels, kom mens vinnig agter dat hierdie projek hom baie na aan die hart lê.

Dis vir hom belangrik dat mense dit lees en sê dis werklik ’n goeie stuk literatuur, en nie maar net nog ’n storie nie.

“Ek het baie hard gewerk aan die boek en dis een van die min goed in my lewe waarop ek regtig baie trots is,” sê hy.

Hy sit voor my sonder ’n druppel grimering en skielik lyk hy amper bietjie broos. Sy kaal kop blink ekstra in die lig.

“Nee man, ek dra nooit in die dag makeup nie. Jirre, netnou dink mense ek is Jak de Priester of iets,” beduie hy.

“Elkeen van ons fight elke dag een of ander reus in ons lewe. Party mense is siek, ander het ander probleme. Ons almal het ’n tweestryd binne ons op een of ander manier. Ek ook,” sê hy.

Hy vertel hy hou boek van elke uitrusting wat hy besit en aangehad het.

Hy sal presies vir jou kan sê wat hy verlede jaar tydens die jaarlikse media-ontbyt by Emperors gedra het, en daar is geen manier dat hy weer per ongeluk dieselfde borsspeld sal dra nie.

“Die lewe is so vrek boring. As ons dit nie vir onsself opwindend maak nie, wie anders gaan dit doen?”

  • Kaartjies vir When Giants Waltz kos van R160 per persoon en kan bespreek word by Emperors Palace se kaartjiekantoor by 011 928 1213/1297 of by Computicket. Daar is vertonings Vrydae en Saterdae om 20:00 en Sondag om 15:00. Geen kinders onder 15 nie.

WEN

Drie gelukkige lesers kan elk dubbelkaartjies wen vir Nataniël se vertoning op Vrydag 18 Oktober by Emperors Palace. Stuur jou besonderhede aan vrydag@media24.com met Nataniël in die onderwerpveld. Die sluitingsdatum vir die kompetisie is Maandag 14 Oktober om 12:00.

Meer oor:  Nataniël
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.