Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Opera-diva Carla Pohl wen Huberte Rupert-prys

Opera-aanhangers sal dit vreemd vind dat Carla Pohl in Suid-Afrika nie so bekend is soos Mimi Coertse of Emma Renzi nie. Al drie is Suid-Afrikaners wat in die buiteland onder die grootste opera-sangers van hul tyd gereken is.

Daar is twee redes vir die onderskeid: Renzi en Coertse het reeds in die 1970’s teruggekeer na Suid-Afrika en hul bekendheid hier voortgesit. Pohl het eers in 2000 haar wortels weer hier kom plant en hoewel sy tot sowat agt jaar gelede nog opgetree het, was dit meestal in die buiteland. Sy het dus aansienlik minder in Suid-Afrika gesing.

Die tweede rede is dat sy min gewag maak van haar prestasies, so min dat weinig inligting oor haar loopbaan op die internet te vind is.

Gelukkig het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bewus geword van Pohl se merkwaardige operaloopbaan en vandeesweek die Huberte Rupert-prys aan haar toegeken.

In die aankondiging skryf die Akademie: “Carla Pohl word wêreldwyd deur kritici beskou as een van die laaste werklik hoë dramatiese soprane van ons tyd. Sy is in 1965 bekroon met die Mimi Coertse-beurs, wat haar in staat gestel het om ’n sangloopbaan in Duitsland te volg, waarna sy ’n internasionale reputasie verwerf het met haar vertolkings in Duitse operarolle. Sy is wêreldbekend vir haar rolle in operas van Wagner en Richard Strauss.”

Die belangrikste operateaters uit ’n ellelange lys waar Pohl in hoofrolle opgetree het, is onder meer in ál die groot Duitse stede, asook in Brittanje, Switserland, Oostenryk, België, Finland, Frankryk, Rusland, Italië, Australië, Chili en Suid-Afrikaanse stede.

Carla Pohl in ’n toneel uit Tristan und Isolde van Wagner saam met die sanger Graham Gray in April 1994 in die operahuis in Mainz, Duitsland.

Wat bygevoeg kan word, is die dirigente saam met wie sy opgetree het, soos Christian Thieleman, Ferdinand Leitner en Friedemann Layer. Haar medesangers was ook talle bekendes, onder andere José Carreras.

Pohl, ’n op en wakker 80-jarige wat steeds sanglesse gee, vertel sy het in haar lewe 67 keer verhuis. Dit het in haar kinderjare begin toe sy in onder meer Bethlehem, Bloemfontein en Welkom in laerskole was. Elke jaar het sy al die afdelings gewen waaraan sy in kunswedstryde deelgeneem het. Maar die opera-saadjie is eers geplant toe sy op negejarige ouderdom die besoekende sopraan Erna Sack hoor sing het. “Ek het dadelik geweet dít is wat ek eendag wil doen.”

Tog het sy haar eerste sangles eers ná skool aan die Universiteit van Pretoria gekry. Almal was dit eens dat ’n groot toekoms wink en ná ’n rukkie van optredes in Suid-Afrika is sy in 1966 na Duitsland, wat tot 2000 haar tuiste was.

Carla Pohl

Sy noem drie geleenthede wat haar altyd sal bybly – haar eerste optrede in die Weense Staatsopera, optredes in die Santa Cecilia-teater in Rome en toe sy uittreksels uit Wagner se Götterdämmerung saam met die Berlynse Filharmonie gesing het.

Pohl sê sang is hárde werk. “Jy moet ’n behoorlike tegniek hê om dit te kan geniet, en daaraan en aan jou stem werk jy jou lewe lank. Dit was elke keer vir my wonderlik om ’n karakter te kon uitbeeld. Resensies het my gereeld ook oor my toneelspel geloof . . . ek was net so bekend as aktrise as sanger.”

Sy meen dit is ’n prestasie as jy bo uitkom. “Nie alle sangers slaag daarin nie, al het hulle die talent. Soms ontbreek dryfkrag of deursettingsvermoë, wat ook al.”

Al is ’n operaloopbaan maar ’n “alleenlewe” en was sy gedurig op reis, het sy dit geniet. “Ek het baie vriende oorsee gemaak en besoek hulle nou nog,” sê sy.

Pohl is familie van die ander bekende Pohls, Jan Pohl, pa van die aktrise Anna Neethling-Pohl en Truida Pohl, wat met NP van Wyk Louw getroud was.

Carla woon in Johannesburg by haar dogter Tatjana, ’n musiek- en sangonderwyseres.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.