Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Operas soos ‘Old Maid’ die toekoms van dié genre in SA

Korter, bondiger operas is beslis die “enigste resep” wat die toekoms van opera in Suid-Afrika kan verseker.

Dit is die mening van dr. Johannes van Staden-Slabbert, besturende direkteur van die operageselskap AGL Opera en musikale regisseur van die opera The Old Maid and the Thief, wat binnekort in die Youngblood-galery in Kaapstad uitgevoer word.

In ‘The Old Maid and the Thief’ vertel Miss Pinkerton (regs) vir Miss Todd ’n moordenaar het uit ’n plaaslike tronk ontsnap. Foto: Verskaf

“Vervaardigers moet besef dat die tempo van die postmoderne mens se bestaan dit ongelukkig nie meer vir gehore toelaat om vir twee tot drie uur in ’n teater te sit nie,” sê Van Staden-Slabbert.

“Die era van kitsbevrediging laat ook nie opera in ’n taal toe wat die gehoor nie oombliklik verstaan nie. Opera moet begin om aanpasbaar te wees tot die moderne mens se bestaan en behoeftes.”

Dít is juis die rede wat Van Staden-Slabbert en Raimondo van Staden-Slabbert, sy eggenoot, die operasanger en regisseur van die produksie, tot die Italiaans-Amerikaanse komponis Gian Carlo Menotti se 1939-opera aangetrek het. Benewens die werk se komiese aanslag en beeldskone musiek, het The Old Maid and the Thief net een bedryf van sowat ’n uur lank.

Laetitia (vertolk deur Janel Speelman) probeer Bob (Raimondo van Staden-Slabbert) se hart wen. Foto: Verskaf

Die storielyn bekyk die skreeusnaakse liefdesdriehoek tussen die middeljarige weduwee Miss Todd (vertolk deur Jacobi de Villiers) en haar huiswerker, Laetitia (Janel Speelman), wat albei op die hawelose Bob (Raimondo van Staden-Slabbert) verlief raak en hom nooi om by hulle te kom woon.

Wanneer Miss Todd by die dorp se skinderbek, Miss Pinkerton (Shirley Sutherland), hoor ’n moordenaar het uit ’n plaaslike tronk ontsnap, vermoed sy én Laetitia dit is Bob, hoewel dit in werklikheid nié hy is nie.

Uit vrees dat Bob hulle sal vermoor, begin die verliefdes geld steel en breek hulle selfs by ’n drankwinkel in om Bob se lewenstyl te onderhou.

“Dit is eintlik ’n komiese verhaal oor vroue wat alles sal doen om die liefde van ’n man in hul lewe te verseker – ’n taamlike veralgemening wat natuurlik nie op alle vroue van toepassing is nie – maar tog wys dat die mens nie gemaak is om alleen te wees nie,” sê Van Staden-Slabbert.

“Die storielyn laat ’n mens ook dink oor wie eintlik die dief is, veral omdat die verhaal sonder diewe begin, maar eindig met almal wat vir hul eie redes diewe geword het.”

Die produksie is vroeër vanjaar op die Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein uitgevoer en is oorspronklik vir twee klaviere georkestreer. Weens die beperkte ruimte in die Youngblood-galery sal dit dié keer deur net een pianis begelei word.

Die opera word in samewerking met Biblioteek Productions en Youngblood Arts & Culture aangebied en is deel van Youngblood se projek Opera in 1 Hour, wat kort operas en korter verwerkings van lang operas in die kollig plaas.

  • Die opera The Old Maid and the Thief word op 22 en 23 November om 20:00 in die Youngblood-galery in Kaapstad uitgevoer. Kaartjies teen R180 (R100 vir pensioentrekkers en studente) kan by www.quicket.co.za bespreek word.
  • ’n Nog korter weergawe van die opera, spesiaal vir kinders, word op 23 November om 10:00 aangebied. Kaartjies teen R70 (ook vir volwassenes, maar slegs wanneer hulle ’n kind vergesel) is by Quicket beskikbaar.
Meer oor:  Musiek  |  Opera
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.