Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Orrel in SA kry inspuiting in Stellenbosch
Andrea Kayser-Mitas (links) en Isabelle van Rensburg. Foto: Argief

Die Suider-Afrikaanse Kerkorrelistevereniging (Sakov) gaan sowat 25 beurse ter waarde van R380 000 aan heeltydse en deeltydse musiekstudente, leerlinge, kerkorreliste en navorsers toeken.

Dié beurse beoog om die gehalte van orrelspel, -studie, -bou en navorsing op die gebied van kerkmusiek in Suider-Afrika te bevorder.

Beurswenners sal tydens Sakov se jaarlikse algemene vergadering, wat vanjaar op 13 en 14 September in Stellenbosch plaasvind, aangewys word.

Volgens dr. Mario Nell, voorsitter van Sakov én die departement musiek aan die Universiteit Stellenbosch, boer orrel en orrelspel in Suid-Afrika vooruit, ondanks ’n siening dat belangstelling daarin en werkgeleenthede daarvoor aan die taan is.

“Die belangstelling op veral skoolvlak en voorgraadse vlak is besig om toe te neem. Daar is tans ongelooflik baie werkgeleenthede vir orreliste, wat pal in aanvraag is. Daar is eintlik tans te min orreliste om in dié aanvraag te voorsien.”

Die belangstelling (in orrel) op veral skoolvlak en voorgraadse vlak is besig om toe te neem. Daar is tans ongelooflik baie werkgeleenthede vir orreliste, wat pal in aanvraag is. Daar is eintlik tans te min orreliste om in dié aanvraag te voorsien.
Dr. Mario Nell, Sakov-voorsitter

Nell sê die jaarvergadering se verrigtinge sluit benewens die beurstoekenning die huldiging van dr. Barry Smith en ds. Jacques Louw in, wat danksy “hul onderskeie bydraes tot kerkmusiek in Suid-Afrika” erelidmaatskap van die organisasie sal ontvang. Hulle sal ook die Gawie Cillié-gedenklesing om die beurt tydens die algemene jaarvergadering aanbied.

Die bekendstelling van Sakov se nuwe erediensbundel is ook op die program, en Sakov-lede sal ’n “orrel-safari” aflê, wat besoeke aan die Endlersaal, Moederkerk en NG kerk Welgelegen insluit.

Die kroon sal gespan word met ’n galakonsert in die US Konservatorium se Endlersaal, waartydens vier voormalige beurswenners – Andrea Kayser-Mitas, Isabelle van Rensburg, Marnus Greyling en Winand Grundling – saam met vanjaar se beurswenners sal optree.

Lübeck se Prelude in G mineur, Bach se Passacaglia en Fuga in C mineur (BWV 582), Elgar se Pomp and Circumstance March, no. 4 in G majeur, en Hendrik Temmingh se Chromatiese fantasie is op die program.

Grundling sal sy eie verwerking van Beethoven se “Praat ek mense, eng’le tale” uitvoer, en Kayser-Mitas en Van Rensburg gaan Rutter se orrelduet Variations on an Easter Theme speel. Dié duo is vroeër vanjaar op die Vrystaat Kunstefees benoem vir ’n Blinker vir hul produksie Rooi4 Orrel Duo.

  • Die Suider-Afrikaanse Kerkorrelistevereniging se galakonsert vind op 13 September om 19:00 in die US Konservatorium se Endlersaal op Stellenbosch plaas. Kaartjies teen R120 is vanaf 18:15 in die Endler se foyer beskikbaar. Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan Johann Enslin by info@sakov.co.za.
Meer oor:  Musiek  |  Klassieke Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.