Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Orrelduette klink in Odeion op

Duette wat oorspronklik vir orrel gekomponeer is en gevolglik selde uitgevoer word, was vir Jan Beukes die regte inspirasie op die regte tyd om konsert te hou. 

Hy het sy oudstudent Gerhard de Bruin, ’n orrelis met ’n heeltydse werk as pediater in Kaapstad, oorgehaal om as sy duomaat in Bloemfontein op te tree en siedaar, orrelliefhebbers kan hulle regmaak vir ’n buitengewone uitvoering.

Jan de Bruin
Jan de Bruin

Beukes is besonder opgewonde oor die toeganklikheid van die duette, waarvan drie uitgevoer word, Sonate in D-mineur vir vier hande en dubbel pedale, op. 30, van die Duitse komponis Gustav Merkel, Martyrs – Dialogues on a Scottish Psalm Tune for Organ Duet, op. 73, van die Britse komponis Kenneth Leighton, en die Suid-Afrikaans gebore Jacobus Kloppers se Danssuite vir orrelduet. 

Volgens Beukes was orrelduette in die laat 19de eeu gewild in Sentraal-Duitsland; selfs Schubert het in dié tyd werke vir orrelduette gekomponeer. Merkel se sonate het egter uitgestaan nadat dit ’n kompetisie vir orrelduette in 1858 in Mannheim gewen het.Leighton se Martyrs bestaan uit vier hoofdele, oftewel dialoë, soos die titel aandui.

Die werk bou op tot ’n triomfantelike einde waarin die een orrelis die koraal in dissonante harmonieë speel en sy duomaat dit met fanfares “beantwoord”. Die laaste duet, Kloppers se Danssuite, is in ’n heelwat ligter trant as die voorafgaande werke. 

Dit bestaan uit ’n wals, habanera en minuet, polka en rag­time (cakewalk).Benewens die duette kry elke orrelis ook ’n solokans. Die konsert begin met Beukes wat Bach se Präludium und Fuge in Es-Dur (Prelude en Fuga in E-mol majeur, BWV 552 speel.

Jan Beukes8BIM
Jan Beukes

De Bruin sal die Franse komponis Marcel Dupré se Deuxième Symphonie, op. 26 (tweede simfonie) uitvoer.Beukes is nie net ’n orrelis en orreldosent nie, hy is ook die hoof van die Odeion Skool vir Musiek (OSM), waar hy al sy kwalifikasies van BMus tot PhD behaal het. 

De Bruin se orrelstudie het onder Leonore Kloppers aan die OSM begin. Later het hy by Beukes les geneem en sy meestersgraad in orreluitvoering verwerf. Hy is ’n kerkorrelis, maar vir openbare uitvoerings verkies hy moderne orrelwerke. Hy en Beukes is albei lede van die Suid-Afrikaanse Orrelvereniging.  

Dit begin Donderdag om 19:30 in die Odeion-teater op die UV-kampus. Die kaartjies kos R130 (volwassenes), R70 (pensioentrekkers en UV-personeel) en R50 (studente en skoolleerlinge).

Meer oor:  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.