Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
OSM Camerata wen weer in VSA
06 September 2018

Die OSM Camerata, die studente-orkes van die Odeion Skool vir Musiek (OSM) in Bloemfontein, het die tweede agtereenvolgende jaar die eerste prys in sy afdeling in die Internasionale Ictus-musiekkompetisie in Amerika losgespeel.

Lede van die OSM Camerata. Die dirigent Xavier Cloete is regs agter voor die skildery.

Vanjaar deel hy egter die prys vir die beste universiteitsorkes, -blaasensemble of -band met die simfonieorkes van die Oklahoma State University in die VSA.

Thomas Dickey dirigeer die Oklahoma-orkes en Xavier Cloete die Camerata.

Orkeste van 13 lande en 13 Amerikaanse state het ingeskryf vir die musiekkompetisie wat aanlyn beoordeel word. Ictus is verlede jaar ingestel om internasionale musiekkompetisies toegankliker te maak deurdat reiskoste, konferensiegeld, visumkwessies en verskuilde uitgawes uitgeskakel word.

Vanjaar se beoordelaars vir die afdeling universiteitsorkeste was dr. Mark Scatterday, Jan Wagner, Stilian Kirov, dr. Scott Nelson en Jim Stephenson.

Die werke waarmee die Camerata geseëvier het, is Duo Seraphim van Jacobus Gallus/Lance Phillip, Roemeense volksdanse van Béla Bartók, Kekatu Dziesma (Karnavallied) deur Peteris Vasks/Keith Moss en O Sacrum Convivium van Messiaen. Elsabé Raath, ’n oudstudent van die OSM wat help met die tegniese afrigting van die strykers, het haar debuut as dirigent met die Messiaen-werk gemaak.

Die OSM Camerata is in 2012 gestig met die doel om die orkesspelers en gehore aan minder bekende werke bekend te stel, waarvan Suid-Afrikaanse komposisies ’n belangrike komponent uitmaak. Nie minder nie as 15 werke deur Suid-Afrikaanse komponiste is reeds in opdrag van die Camerata gelewer.

Die OSM Camerata tree eersdaags by die Aardklop-kunstefees in ’n gesamentlike produksie met die Noordwes Consort van die Noordwes-Universiteit (NWU) in Potchefstroom op. Dié Handel-meesterwerke is ’n Barokkonsertsaamgestel uit prominente orkes- en koorwerke, asook arias van Handel. Conroy Cupido, sangdosent aan die NWU, is die musikale leier.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.