Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Ou vriende weer saam in klassieke trio
Liesl Stoltz

Die vreugde om ná meer as tien jaar weer as trio saam te speel is duidelik hoorbaar wanneer Liesl Stoltz oor ’n komende herontmoeting in Bloemfontein gesels.

Dié Kaapse fluitspeler vertel sy, die pianis Francois du Toit en tjellis Anmari van der Westhuizen het ’n trio gevorm toe al drie in die vroeë 2000’s by die Universiteit van Kaapstad (UK) se Musiekkollege betrokke was.

Sedertdien het Stoltz ’n nuwe trio, die Trio du Cap Classique, op die been gebring met David Pinoit as tjellis. Hy het egter ’n aanstelling in die Kaapstadse Filharmoniese Orkes gekry en is nie meer geredelik beskikbaar nie, wat ’n gulde geleentheid bied vir die drie ou musiekvriende om vir die Trio se Bloemfontein-optrede saam te span.

Anmari van der Westhuizen

In twee van die vier werke op die program sal die fokus egter op Du Toit wees. Mendelssohn se Trio in D mineur, op. 49 het ’n virtuose klavierparty met ryk akkoorde en is, soos kenmerkend van Mendelssohn se musiek, opwindend en romanties.

Dit is oorspronklik vir ’n klaviertrio geskryf, maar die vioolparty is in dieselfde register as dié van die fluit, dus kon Stoltz dit met min moeite aanpas.

Dieselfde vlak van uitdagende musiek as die Mendelssohn-trio waarmee die konsert afsluit, sal in die openingswerk gehoor word.

Johann Hummel, ’n bekende pianis in sy tyd, het hom nie ingehou toe hy vir klavier gekomponeer nie. Sy Trio op. 78 in A majeur is ’n “tema met baie variasies wat ’n pianis tot die uiterste kan beproef. Die musiek herinner nogal aan Beethoven,” sê Stoltz.

Du Toit kan hierna asem skep terwyl Stoltz en Van der Westhuizen Heitor Villa-Lobos se Assobio a Jato (die stralerfluitjie of jet whistle) uitvoer.

Dié Brasiliaanse komponis het graag ’n instrument met ’n hoë register en een met ’n lae register saam gevoeg en in die werk dryf hy die registers nog verder van mekaar. Stoltz sê sy gebruik ’n ongewone tegniek om ’n soort “fluitjieklank” voort te bring terwyl die tjello op sy beurt besonder laag speel. Die basis van Villa-Lobos se musiek is dikwels Brasiliaanse volkswysies, soos ook in dié geval.

Die laaste werk op die Trio du Cap Classique se program is deur die Franse komponis Philippe Gaubert, wat self ’n fluitspeler was en ’n menigte komposisies vir fluit nagelaat het.

Francois du Toit

“Net sowat drie of vier kamerkomposisies is in sy repertorium, waarvan ons die Trois Aquarelles (drie akwarelle) vir klavier, fluit en tjello speel. Dit is impressionistiese musiek wat beelde uit die natuur oproep, maar in die laaste beweging is die Spaanse invloed op Gaubert se musiek in die ritmes te hoor.”

Bloemfontein se konsertgangers sal Stoltz herken as die fluitspeler wat dikwels die leierstoel in die Vrystaatse simfonieorkes (FSSO) inneem.

Wanneer sy nie op die verhoog is nie, gee sy les aan die UK, die Universiteit Stellenbosch (US) en vir private studente.

Du Toit is ’n medeprofessor in klavier en hoof van praktiese musiekstudie aan die UK. Ook hy is nie onbekend vir plaaslike musiekgehore nie. Vroeër vanjaar het hy die Grieg-klavierconcerto saam met die FSSO uitgevoer en voorheen ’n manjifieke vertolking van Beethoven se Klavierconcerto nr. 4 gelewer.

Van der Westhuizen is ’n lid van die Odeion-strykkwartet en tjellodosent aan die Universiteit van die Vrystaat (UV).

Al drie musici is met verskeie musiekpryse bekroon en tree ook in die buiteland op.

* 1 Augustus om 19:30 in die Odeionteater op die Kovsiekampus. Die kaartjies kos R130, R70 (pensioenarisse en UV-personeel) en R50 (studente en skoolleerlinge) by Computicket.

Meer oor:  Klassieke Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.