Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Oud-Bloemfonteiner keer terug as nuwe musiekhoof
Wikus van Zyl wat in Januarie 2021 die leisels as hoof van die Sentraal-Musiekakademie (SMA) in Bloemfontein by Hans Potgieter oorneem. Die SMA is op die terrein van die Hoërskool Sentraal.

In die 24 jaar sedert Wikus van Zyl Bloemfontein met ’n pas verworwe musiekgraad verlaat het, het hy ’n benydenswaardige rykdom aan kennis, vaardighede, nuwe passies, bestuur, mensekennis en ontwikkeling in musiekonderrig opgedoen. Dit is dié skatkis van ervaring wat hy van volgende jaar kom terugploeg in die stad waar hy grootgeword het.

Van Zyl is aangestel as hoof van die Sentraal-Musiekakademie (SMA) in die plek van Hans Potgieter, wat bedank het. Potgieter lei die SMA reeds sedert 2008 en gaan hom nou op sy loopbaan as uitvoerende pianis en sakebelange toespits.

Van Zyl se vrou, Colet, is ’n kontrabasspeler en sal ook ’n gawe toevoeging tot die musiektoneel in Bloemfontein wees.

Die egpaar is sedert 2008 betrokke by die Melkbosstrand Private Skool waar Wikus tot einde vanjaar die hoof van die uitvoerende en skeppende kunstefakulteit is.

Sy CV vertel van ’n mens wat voortdurend ontwikkel het. As jong violis en kitaarspeler het hy soos die meeste musiekstudente gedroom van ’n uitvoerende loopbaan, maar die werklikheid het hom in der waarheid ’n guns gedoen.

Ná sy studies aan die Universiteit van die Vrystaat het hy in musiekonderrig aan die Laerskool Hudson in Oos-Londen beland waar hy en Colet alles gedoen het waarop hulle hul hande kon lê. Wikus het die skoolorkes gelei, musiek verwerk, hulle was betrokke by die eisteddfod, het eie en skool-ensembles gestig, baie “gigs” gespeel en was lede van Port Elizabeth se simfonieorkes.

By die skool in Melkbosstrand het Wikus hom nie net opgewerk tot ’n bestuurder nie, hy het ook nuwe vaardighede ontwikkel.

Die bekende Bloemfonteinse pianis Debbie Brinkis Wikus van Zyl se suster. Albei het musiek studeer aan die Universiteit van die Vrystaat, nou bekend as die Odeion Skool vir Musiek. Foto: Netwerk24

“Musiekonderrig is deesdae ’n uitdaging,” sê hy. In skole is dit dikwels die laagste prioriteit, terwyl die voortbestaan van ’n musiekinstansie om geld draai. Die SMA is min of meer soos die Musicon met die groot verskil dat dit nie staatsgeld kry nie. Om ’n musiekinstansie op ’n private grondslag te laat slaag, is regtig uitdagend.”

Hy sê musiek het boonop oor die afgelope 30 jaar baie verander.

“Toe ons op skool was, kon jy net klassieke musiek neem. Nou is daar verskeie invloede en rigtings. Musiekstyle is meer geïntegreer en ’n mens kan dit deel van die leerplan maak.

“My passie vir musiek is nie net op sekere style gerig nie. Daar is musiek wat ’n sielservaring bied, maar daar is ook ander musiek wat blote genot verskaf. Ek glo ’n mens moet die hele spektrum kan beleef.”

Wikus het kitaar as tweede instrument vir sy graad aangebied en gee dus buiten vioollesse ook klassieke, akoestiese, elektriese en baskitaarlesse.

Dit beteken dat sy fokus nie net op klassieke musiek is nie; hy is ook betrokke by die wêreld van ligte musiek. “Dit is hoekom ek weet watter geslypte vaardighede nodig is om sekere nie-klassieke musiek uit te voer en ek weet ook dat klassiekemusiekpuriste dit meestal nie besef nie.”

’n Nuwe veld waarin hy hom in die onlangse jare bekwaam het, is musiekproduksie. Hy beskryf dit as “ ’n tegnies en elektronies gekompliseerde wêreld, waarin jy selfs die fisika van klank moet verstaan”.

“As jy besef dat lewende musiekuitvoerings vir die oomblik is en klankproduksie ’n blywende produk lewer, sal jy ’n idee kry van die belangrikheid en noukeurigheid van dié werk. Kinders skrik egter nie vir die uitdaging nie; hulle is mal oor daaroor,” sê hy.

Sou klankproduksie as ’n vak aangebied kan word? Wikus bly ’n antwoord skuldig. Hy het oor die jare genoeg bestuurskennis opgedoen om te weet ’n nuwe hoof moet eers sy kollegas en die ander mense leer ken, want “as jy hulle nie saam met jou kan neem nie, is dit ’n doodgebore projek”.

Hy weet ook jy “torring nie aan iets wat werk nie en jy respekteer wat mense voor jou vermag het. Eers as ’n mens vertroue in mekaar het, kan julle die instansie saam verder uitbou,” sê hy.

Sy siening van ’n suksesvolle musiekloopbaan is dieselfde as dié wat menige kenner reeds oor dekades verkondig: “Musiekspel verg meer as talent. Talent sonder werksetiek bring jou nêrens, en passie (vir enigiets) is deurslaggewend vir sukses.”

Terug by die rede vir waarom die werklikheid Wikus van Zyl ’n guns gedoen het: Omdat hy as pedagoog sy liefde vir musiek vir ander kan aangee, wat hy nie as uitvoerende kunstenaar sou kon doen nie.

Wikus van Zyl in ’n neutedop

Sy pa is prof. Hermie van Zyl wat tot 2013 by die teologiedepartement aan die UV betrokke was.

Wikus het in 1992 aan die Hoërskool Sand du Plessis gematrikuleer, waar sy ma ’n onderwyseres was.

Hy verwerf die graad BA(Mus) in 1996 aan die UV en trou dieselfde jaar met Colet, ook ’n musiekstudent aan die UV.

In 2006 is hul seun, Rossouw, gebore. Hy speel viool en tennis, is ’n kranige wiskundige en volgende jaar in gr. 9.

Wikus se suster is die bekende Bloemfonteinse pianis Debbie Brink. Sy is getroud met die tjellis Arend Brink en ’n lid van Arco Musica, wat gereeld optree.

Hul broer, Nico van Zyl, is ’n teoloog en lei pastore in Afrika op.

Geloof is die rigsnoer in Wikus se lewe. Hy sê ’n komponis soos Bach het destyds reeds geweet “alle musiek is tot eer van God”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.